Die Ellen Pakkies Storie


Wanneer jy ’n stormagtige ma-seun-verhouding, dwelms en moord saamgooi, kry
jy ’n storie vol intrige, emosie en spanning, wat kykers nie net vasgenael
sal hou nie, maar ook kritici sal beïndruk. Een van die mees
opspraakwekkende moordsake in Suid-Afrika kry eersdaags lewe op die
grootskerm en is iets wat geen fliekliefhebber moet misloop nie! 

Net soos die ware verhaal waarop dit gebaseer is, het ELLEN, DIE STORIE VAN
ELLEN PAKKIES, ook reeds die rolprentwêreld aan die gons en word dit op 27
Januarie 2018 by die  <https://iffr.com/en> Rotterdamse Internasionale
Rolprentfees vertoon, lank voordat plaaslike kykers dit te siene gaan kry.

“Dit is vir my ’n groot voorreg om te weet dat hierdie klein film dit
reggekry het om nie net aan internasionale standaarde te voldoen nie, maar
ook erkenning te kry by so ’n gesogte fees. Dis regtig vir ons ’n groot eer
en ek wil almal bedank wat dit moontlik gemaak het, veral Ellen Pakkies, ”
sê uitvoerende vervaardiger, Paulo Areal.

 

Die fliek, wat oor twee storielyne afspeel, vertel die storie van Ellen
Pakkies (Jill Levenberg) se spanningsvolle verhouding met haar twintigjarige
seun, Abie (Jarrid Geduld), wat aan dwelms verslaaf is. In 2007, het sy dood
opslae gemaak regoor die wêreld. Die mees ontstellende aspek van die
moordsaak was dat sy ma die moordenaar is. Advokaat Adrian Samuels (Clint
Brink) neem dan haar saak in en is vasbeslote om te bewys dat Ellen nie ’n
ander keuse gehad het nie. Maar wat het veroorsaak dat sy ophou hulp soek
het? Hoe word ’n ma desperaat genoeg om haar eie seun se lewe te neem?

Bekroonde regisseur en stigter van
<file:///C:\Users\Alishia-pc\AppData\Local\Microsoft\Windows\INetCache\Conte
nt.Outlook\PL8ONIA3\gambitfma.co.za> Gambit Films, Daryne Joshua, wat bekend
is vir sy suksesvolle debuutfilm,
<https://www.youtube.com/watch?v=fTr3ZNLJt-U> Noem My Skollie, was aan die
stuur van hierdie indrukwekkende produksie, terwyl die draaiboek deur Amy
Jephta geskep is met die hulp van die regte Ellen Pakkies se insette.
Laasgenoemde het ook baie gehelp om die tonele in die fliek, wat in haar
huis geskiet is, so outentiek as moontlik te herskep. Jill Levenberg, wat al
verskeie rolle gehad het in films en televisiereekse soos Genadekans, Noem
my Skollie (wat in 2016 Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars
was), Leemte, While You Weren’t Looking, Abraham, Bekkies Gevind, As Ek
Huistoe Kom, Fluit-Fluit, Atlas, Uitvlucht en Suidooster (waarvoor sy in
2017 genomineer is vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning) speel die rol van
Ellen Pakkies en het reeds baie positiewe terugvoer oor haar vertolking
ontvang. Elton Landrew, Shimmy Isaacs en Kay Smith is ook in die fliek te
sien.  Die vervaardiger is Schalk Burger.

“Die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees is een van die mees gesogte
internasionale filmfeeste. Ek is baie opgewonde dat ons klein
Suid-Afrikaanse projek bo duisende ander inskrywings, van regoor die wêreld,
gekies is om deel te wees daarvan in 2018. Baie geluk en baie dankie aan die
vervaardigers en filmspan, ons kan trots wees op hierdie prestasie. Ek hoop
ook dat mense nou ook die omstandighede rondom Ellen Pakkies se merkwaardige
verhaal beter sal verstaan,” sê Daryne Joshua.

ELLEN, DIE STORIE VAN ELLEN PAKKIES is die ontstellende verhaal van ’n vrou
wat deur die strafproses geplaas word, teregstaan op ’n moordaanklag en
gedryf is deur ’n onwrikbare liefde vir haar seun. Dit delf in die innerlike
psige van ’n familie wat deur dwelms vernietig word, in een van die
gevaarlikste gemeenskappe in Suid-Afrika. ’n Plaag, met gevolge wat verder
strek as die Kaapse Vlaktes en wat die staat se onvermoë, om die armstes van
die armes te beskerm, beklemtoon. Dié kykNET Films produksie is vervaardig
in samewerking met M-Net, die Departement van Handel en Nywerheid (
<http://www.thedti.gov.za> DTI) en TMPBC (The Moving Billboard Picture
Company). Dit word op 7 September 2018, landswyd, deur Ster-Kinekor
Entertainment uitgereik.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/Die-Ellen-Pakkies-Storie-208819606253993/

Instagram: @ellenpakkies

Twitter: @EllenPakkies