Vir Suzanne Krige

Maria gaan na Betlehem.
Sy trek alleen deur die woestyn.
Die blink bronsson brand uit die blou,
die skadukolle krimp en kwyn.
Sy dra die kindjie, vas en sterk
– net haar hart, van jammerte, beef.
Hy is so fraai, so lief . . . asof
’n lente in sy oë leef.

Die kind vra toe om water waar
Maria uitrus langs die pad.
“Vra nie om water nie, my lief.
Vra nie om water nie, my skat.
Want die riviere is troebel of
hul beddings droog, vol stof en sand.
Die blinkwit klippies in die spruit
skitter of hul van binne brand
en bloed vloei uit die fonteine,
bloed van die kinders van ons land.”

Maar oorkant teen die rantjie soos
in ’n rustige someroord
wys daar die groen van lower, staan
daar ’n bloeiende vrugteboord
vol honderde lemoene wat
aan ’n wild-vreemdeling behoort.

Die tuinman is ’n blinde boer,
’n kêrel met groot oë dood.
“Gee my net een lemoentjie vir
my kind . . . O help ons in ons nood!
Die arme bloedjie wil vergaan.
Hy hyg van dors hier op my skoot.”

“Kyk, pluk maar self die vrugte, vrou.
Ja, neem soveel jy nodig het.
Pluk daardie grotes, dan word al
die kleintjies straks vanself spekvet.”

Maria staan slank op haar tone,
haar houding skoon soos ’n gebed.
Sy reik ’n sneeuwit hand omhoog.
Haar seun rus op ’n gousblombed.
Sy buig . . . hy kry ’n groot lemoen,
die knapie lag en skop van pret.

Maria pluk die goue vrug
stil, een vir een, ’n stuk of tien.
Toe skielik bloei die hele boord met
’n oes soos nooit aanskou sindsdien.
En toe hulle afdaal van die rant,
begin die blinde boer te sien.

Hy duisel . . . of meteens die helder dag
deur al die duister in hom dring,
asof dié blanke lig, dié gloed
met silwer stemme in hom sing.
Sy oë vang die ver rante waar
hul bewe in ’n lugspieëling . . .
“Wie is die liewe vrou wat my
so ’n genade en blydskap bring?
Wie is die kindjie, wie die vrou?”
vra hy met skor bewende stem.

Dit was die Heilige Maagd, die Kind
op hul ver tog na Betlehem.

© Uys Krige