Dr. Danie Craven (wat as Daniel Hartman Craven in Lindley gebore is) was 'n baie veelsydige rugbyspeler. In sy loopbaan van 16 toetse het hy in nie minder as vier verskillende posisies gespeel. Hy het as skrumskakel begin, en ses toetse in dié posisie gespeel. In sy sewende toets (teen Australië) is hy gekies as binnesenter, en die volgende week was hy weer skrumskakel.

In sy negende toets, op 26 Junie 1937, het hy losskakel gespeel teen Australië, en in sy volgende toets was hy agsteman, toe losskakel (en Kaptein) teen Nieu-Seeland, en in die toets daarna (ook teen Nieu-Seeland) was hy terug as skrumskakel. Dit was sy posisie vir die res van sy toetsloopbaan (drie toetse teen die Britse Eilande in 1938). Craven het ook in 'n toerwedstryd vir die Springbokke heelagter gespeel.

Danie Craven het Springbokrugby op alle vlakke gedien. Hy het sy Springbokkleure gekry to hy net 20 jaar oud was, en voordat hy nog vir die WP gespeel het. Hy was ook nasionale keurder en afrigter, bestuurder van die Springbokspan, en vanaf 1956 voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad. Na die ontbinding van die Rugbyraad en die stigting van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (SARVU) was hy saam met Ebrahim Patel die eerste medevoorsitter tot met sy dood in 1993.

Danie Craven was die eerste professor in Liggaamlike Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, en het hy ook drie doktorsgrade verwerf - in Volkekunde, Sielkunde en Liggaamlike Opvoedkunde. Sy getroue hond se naam was Bliksem. 'n Standbeeld van dié twee is by Coetzenburg op Stellenbosch opgerig. 

Van Lill se Suid-Afrikaanse Trivia
Dawid van Lill
ISBN 1-86872-927-3