Die Reddingsdaadbond (RDB)

Die stigting van die RDB was 'n uitvloeisel van die Simboliese Ossewatrek van 1938. Die doel daarvan was die ekonomiese opheffing van die Afrikaner. Teen 1938 het Suid-Afrika met 'n reuse 'armblankevraagstuk' te kampe gehad. Daar word geskat dat ongeveer 30% van die Afrikaners op daardie stadium ekonomies verarm was.

Dr. J.D. Kestell het gedurende die Voortrekkereeufeesvieringe gepleit vir 'n landswye reddingsdaad-beweging onder die Afrikaners. Die ideaal van 'n volk wat homself deur sy eie werkvermoë en met eie geldelike middele red, is gedurende die Ekonomiese Volkskongres in Bloemfontein van 3 tot 5 Oktober 1939 verwoord. Besluite wat daar geneem is, het regstreeks aanleiding gegee tot die stigting van die Reddingsdaadbond op 8 Desember 1839.

Die breë doelwit van die RDB was om die Afrikaner deur middel van opleiding, beurse en die mobilisering van sy eie kapitaal te help om op 'n effektiewe wyse tot die handels-, industriële en finansiële wêreld toe te tree. Vyf jaar na sy stigting het die RDB met sy leuse 'n Volk red homself' byna 400 takke en 70,000 lede gehad.

Met die hulp van die RDB het talle nuwe sakeondernemings tot stand gekom, is duisende nuwe werksgeleenthede geskep en het 'n groot aantal Afrikaners opleiding of studiebeurse ontvang. Dit alles is onder moeilike oorlogsomstandighede vermag. Met verloop van tyd is die RDB se funksie oorgeneem deur organisasies soos die Federale Volksbeleggings, wat Volkskasbank, Sanlam Versekeringsmaatskappy en Santam gestig het, sowel as die Afrikaanse Handelsinstituut. Die RDB ontbind in 1939.

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese Dagboek
Saamgestel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN  978-0-9814177-6-9