Thomas Osche Honiball

Thomas Osche Honiball is in 1905 in Cradock gebore. Hy het handelskuns in Amerika bestudeer en daar kennisgemaak met strokiesprente. Sy ideaal was om 'n tipies Suid-Afrikaanse strokiesprent te skep. In die depressiejare kry hy by Nasionale Pers 'n aanstelling as illustreerder en na Boonzaaier se aftrede in 1940 begin hy politieke spotprente vir Die Burger teken. 

In 1939 skep hy die grootlieg-karakter, Oom Kaspaas in 'n strokieformaat. Die Jakkals en Wolf-reeks verskyn sedert 1942 in Die Burger. Dit was hoofsaaklik gemik op die kinders. Weens die gewildheid daarvan skep hy Adoons-hulle in 1948 vir Die Jongspan en Die Huisgenoot. Hierdie reeks was meer op volwassenes gemik. Deur hierdie vermenslikte bobbejane dryf hy die spot met die mense en hulle eienaardighede wat ons in die samelewing aantref. Baie kenmerkend van sy werk was die pittige name wat hy vir sy karakters gegee het. Onmdat hy die verhale ook in woorde vertel het, het hy op taalgebied ook 'n belangrike bydrae nagelaat. So ook was sy politieke kommentare baie belangrik. 

Hierdie humoristiese stories het baie kinders aangespoor om te lees. Behalwe dat sy tekeninge in skoolhandboeke opgeneem is en so gebruik is om veral tweede- en derdetaal-lesers te leer leees, word die politieke spotprente ook in Geskiedenis-handboeke gebruik om so 'n beter begrip van die politieke gebeure aan die leerders tuis te bring. Daar is ook 40 versamelbundels tussen 1939 en 1986 met sy werk uitgegee. Na sy aftrede het hy gekleurde prente van sy karakters geteken wat verkoop is. Dit is te danke aan sy vrou, Essie, dat die Universiteit van Stellenbosch en NALN-sentrum in Brloemfontein wel van sy nalatenskap bewaar.

Op 7 Desember 2005 is 'n uitstalling van sy werk  in die Sanlam-kunsgalery gehou om sy 100ste verjaarsdag te gedenk as verteenwoordiger van die genre van Pikturale humor. 

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaans kultuur-historise Dagboek
Saamgestel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814177-6-9