Skeppers van sketse, Essays en ander kort Prosa

Een van die persone wat besondere status aan sketse, essays en ander kort prosa in Afrikaans gelewer het, was Audrey Bettie Blignault wat op 6 Julie 1916 op Bredasdorp in die Wes-Kaap gebore is. Sy was aanvanklik verbonde aan die redaksie van Die Huisvrou en sedert 1950 behartig sy die rubriek 'Uit die Dagboek van 'n vrou' in Sarie Marais. Sy versamel die beste van haar essays in 'n tiental bundels waaronder in Klein maat (1955), Die Plesierboom (1967), Die verlange loop ver (1969) en Pas op vir Jantatarat (1979). Vir die bundel Met ligter tred (1962) ontvang sy die W.A. Hofmeyr-prys. Haar essays handel oor die daaglikse bedrywighede van 'n vrou, die gebeurtenisse van haar gesin en familie en herinneringe aan haar Bredasdorpse jeugjare en die wêreld van die Overberg.

Van die ander persone wat ook gebruik gemaak het van hierdie 'literêr-miniatuurkuns' is:
  • Rykie van Reenen, wat 'n keuse uit haar koerantrubrieke publiseer met die titel Op die randakker (1980) waarsin sy geestig-gevat maar ook ernstig en op die man af oor aktualiteite van uiteenlopende aard skryf.
  • P.J. Cillié publiseer drie bloemlesings uit sy koerant- en ander artikels waarin hy 'n uitstekende beheer oor en fyn aanvoeling vir Afrikaans toon: Tydgenote (1980), Eet jou rape eerste (1980) en Trinkie (1982).
  • Alba Bouwer se bundels Stories van Rivierplaas (1955) en Nuwe stories van Rivierplaas (1956) beeld die onmiddelike belewing van die kind uit en bring die fyn verhouding van fantasie en werklikheid na vore.
  • Freda Linde lewer 'n besondere bydrae tot die Afrikaanse boeke vir kleuters, Snoet-alleen (1964); jueglektuur, By die oog van die fontein (1974) en ook vir die ouer kinders, Die Rooi haan (1963).
Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese Dagboek
Saamgestel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN978-0-9814177-6-9