Die Derde Afrikanertrek kom in Comodoro Rivadavia in Argentenië aan. 

In die jare voor en an die Anglo-Boereoorlog het faktore soos droogtes, politieke ontevredenheid en armoede na die Anglo-Boereoorlog, 'n avontuurlus en onweerstaanbare trekgees tot die diaspora van die Afrikaner bygedra. Afrikaners het in georganiseerde trekke die land verlaat en hulle in dele van Suidwes-Afrika, Angola, Oos- en Sentraal Afrika tot sover as die suide van Kongo en in die suide van Argentenië gevestig.

Agente van die Argentynse regering het immigrante in Suid-Afrika gewerf. Tussen 1902 en 1905 het 'n paar honderd Afrikaners in verskillende 'trekke' na Argentenië verhuis. Die Afrikaners is in die suide van die land in die provinsie, Chubut, naby Comodoro Rivadavia, 'n baai waar daar geen hawegeriewe bestaan het nie, gevestig.

Dit was 'n onherbergsame en onbevolkte gebied met karige weiding en bitter koue winters waar geen infrastrukture bestaan het nie. Die Afrikaners wat hulle op veeboerdery moes toelê, was geisoleer van die buitewêreld. Die enigste kontak met die buitewêreld was per skip. Met moeitevolle arbeid het hulle geleidelik die gebied getem, maar die onderwys en geestelike bearbeiding deur hulle eie predikante - Argentenië is Rooms-Katoliek en die amptelike taal is Spaans - het 'n reuse probleem gebly. Verdere faktore soos die swaar sneeuval van 1925, wat tot groot veeverliese gelei het en die omheining van plase wat groot finansiële uitgawes meegebring het, het bygedrae tot die Afrikaners se begeerte om na Suid-Afrika terug te keer. 

Twee N.G. Kerk Predikante, dss. A.D. Luckhoff en D.P van Huyssteen, het 'n reuse-aandeel gehad aan die uiteindelike repatriasie van ongeveer 450 Afrikaners gedurende 1937 - 1938 uit Argentinië na Suid-Afrika. Daar is nog steeds afstammelinge van hierdie Afrikaners in Argentenië woonagtig, maar hulle het tot 'n groot mate verspaans. 

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese Dagboek
Saamgestel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814177-6-9