Aardbewing

Aardskokke saai paniek
Wes-Kaap hewig geskud
Geboue tuimel in, mense vlug
(Die Burger, 29 September 1969)

Op Maandagaand,
29 September 1969, enkele minute na tienuur, het 'n kragtige aardbewing die Boland getref. Die dorpe Tulbach, Ceres en Wolseley, was die middelpunt van die aarskok en groot verwoestig is daar gesaai. Mense is onder puin begrawe en elektrisiteit en water is afgesny. Brande het onmiddelik na die eerste kwaai skudding oral in die berge ontstaan, en talle stappers en bergklimmers in die Sederberge is deur die brande bedreig. Op Ceres het 'n ernstige waterkrisis ontstaan en drinkwater vir die hele dorp moes met tenkvragmotors aangery word. Die weermag het honderde tente beskikbaar gestel en met weermagvragmotors aangery.

Op Tulbach is sowat 80% van die huise in die dorp beskadig asook ongeveer 60% van die plaaswonings. Die bruin gemeenskap van Tulbach is baie swaar getref en die meeste van die huise op die sendingdorp, Steintal, het ingetuimel. Die gebou van die Hoërskool Tulbach was so erg beskadig dat dit lewensgevaarslik sou wees om daar in te gaan. Inwoners van die dorp het die Woensdagmiddag na die aardbewing 'n spesiale kerkdiens op die grasperk van die Hoërskool bygewoon.


Noodroepe om hulp wat van die drie dorpe uitgegaan het, is met oorweldigende reaksie beantwoord. Hulp het ingestroom van omliggende dorpe en besighede dwarsoor die land. Die Burger het ook dadelik 'n rampfonds gestig waar die publiek geldelike bydraes kon lewer.

Tulbach was een van die Bolandse dorpe met die meeste voorbeelde van Kaap-Hollandse huise in die dorp en distrik, wat na die aardbewing meestal verwoes is. Mettertyd is daar wel gerestoureer en baie van die argitektuur kon min of meer herstel word, hoewel heelwat onredbaar verwoes is. Die aarbewing het 6,5 op die Richterskaal gemeet en hoewel die dodetal slegs 10 was, was dit 'n uiters traumatiese ervaring vir 'n land en gemeenskap wat nie aan groot aardbewings gewoond is nie.

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese Dagboek
Saamgestel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814177-6-9