President Paul Kruger se laaste boodskap

Stephanus Johannes Paulus Kruger, bekend as Paul Kruger, is op 10 Oktober 1825 gebore. Sy pas sluit in 1836 by die trek van Andries Hendrik Potgieter aan. Hy ontvang in totaal nie meer as drie maande skoolonderrig nie.

In 1838 trek die Krugers oor die Vaalrivier en in 1842 trou hy met Maria du Plessis. Sy is later oorlede en hy is in 1847 weer met Gezina du Plessis getroud.

Op sestienjarige ouderdom word hy asssistent-veldkornet. Hy stel van jongs af belang in die politiek en staatsake en bou 'n reputasie op as 'n onverskrokke krygsman. Hy speel 'n belangrike leidende rol in die geskiedenis van die Zuid-Arikaanse Republiek. Hy is ook baie betrokke by die kerk en was een van die eerste lidmate van die nuutgestigte Gereformeerde Kerk in 1859.

Na die Eerste Vryheidsoorlog word hy in 1882 verkies tot President van die ZAR. Na die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in 1886, word die ZAR oorstroom deur uitlanders wat talle probleme vir Kruger meebring. Dié kwessie lei tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899.

'n Jaar later besluit die regerings van die republieke dat Pres. Paul Kruger die land moet verlaat. Hy vertrek op 19 Oktober 1900 vanaf Lourenco Marques met De Gelderland. Die dood van sy eggenote in Pretoria was vir hom 'n swaar slag, sowel as die oorgawe van die boere in Mei 1902.

In Mei 1904 vestig hy hom in Clarens, Switzerland, waar hy twee maande later op 14 Julie sterf. Dit was hier waar dr. Leyds op Kruger se versoek 'n brief opgestel het. Hierdie brief is aan genl. Louis Botha gerig en staan bekend as sy 'politieke testament.' Dit is gedateer 29 Junie 1904 en is die laaste wat deur hom onderteken is voordat hyop 14 Julie oorlede is. Hier volg 'n kort uitreksel van die inhoud"

"Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin ontdek kan word, vorm daarna u ideaal en probeer om daardie ideaal vir die toekoms te verwesentlik...Vergeet tog nooit die ernstige waarskuwing wat lê in die woord: 'verdeel en heers', en maak dat daardie woord nooit op die Afrikaanse volk van toepassing kan wees nie. Dan sal ons nasionaliteit en ons taal bly en bloei. Wat ek self daarvan sal sien en beleef, lê in die hand van God. Gebore onder die Engelse vlag, wens ek nie daaronder te sterf nie.

Uit die diepte van my hart groet ek u die ganse volk.'

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse kultuur-historiese Dagboek
Saamgestel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN978-0-9814177-6-9