Die anneksasie van Griekwaland-Wes

Na die ontdekking van diamante in die distrik Hopetown in 1867, ontstaan daar in Brittanje belangstelling in dié gebied, wat later as Griekwaland-Wes bekend sou staan. Sekere Griekwa-stamme, naamlik dié onder die beheer van Waterboer en Adam Kok asook die Korannas wat in die gebied woonagtig was, maak aanspraak op die gebied. Gedurende die noordwaarste trek  deur die Voortrekkers is verskeie ooreenkomste tussen die stamme en die Voortrekkers aangegaan. Na die ontdekking van diamante het hulle onder die aansporing van agente, onder andere Arnot, hierdie ooreenkomste betwis. Dit het gelei tot geskille wat uiteindelik uitgeloop het op arbitrasie deur Keate tussen die aanspraakmakers, wat ook die Oranje-Vrystaat en die Zuid Afrikaanse Republiek ingesluit het. Daarvolgens is 'n grenslyn aan die weste van die Vrystaat getrek van Platberg oor Davidsgraf tot by Rama, wat die Vrystaat groot grondgebied asook sy diamantvelde ontneem het.

Sir Henry Barkly was van 1870 tot 1875 Goewerneur van die Kaapkolonie en het die diamantvelde van Griekwaland-Wes op 27 Oktober 1871 geannekseer. As rede voer hy aan dat die duisende delwers in toom gehou en die Griekwas se grondregte beskerm moes word. Barkly stel vir Southey aan as Luitenant-Goewerneur van die nuwe kroonkolonie, Griekwaland-Wes. Sy administrasie van die gebied het gelei tot 'n algehele delwersopstand. Uiteindelik is die Vrystaat na verdere onderhandelinge met 90,000 Britse pond vergoed vir die grondgebied wat hulle verloor het.

Die anneksasie van die diamantvelde is allerweë deur die boere as onregverdig beskou en het die agterdog teen Brittanje verskerp. Dit spoor Shepstone aan om die Zuid-Afrikaanse Republiek in 1877 te annekseer.

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-Historiese dagboek
Saamstel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814177-6-9