Anton Hartman

Anton Hartman was 'n baie talentvolle man. Dis moeilik om te oordeel watter van sy baie talente die bekendste was. Hy was nie alleen 'n dirigent en musiekpersoonlikheid nie, maar ook uitsaaipersoonlikheid, musiekadministrateur en hoogleraar.

Hy is op 26 Oktober 1918 in Springs gebore en het sy hele lewe lank op die Witwatersrand gewoon en gewerk. Hy het sy B.Mus. en M.Mus.-grade albei met lof aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf. Dit was 'n lewensideaal van hom om dirigent te word en hy het in die dirigeerkuns in Kaapstad onder Albert Coates gaan studeer. In die vyftigerjare het hy sy dirigentstudies in Europa onder verskeie meesters voortgesit.

Vanaf 1951 was hy assistent-dirigent by die SAUK en vanaf 1964 voltydse hoofdirigent van die SAUK se simfonie-orkes. Hy het later met al die belangrikste orkeste in die land saamgewerk en ook verskeie kere as dirigent van buitelandse orkeste opgetree. Dit was vir hom belangrik om werke van Suid-Afrikaanse komponiste in sy programme in te sluit en hy was verantwoordelik vir opdragwerke aan talle komponiste, soos byvoorbeeld Arnold van Wyk, Stefans Grové, Hubert du Plessis en Peter Klatzow.

Anton Hartman was vir baie jare in diens van die SAUK en as hoof van die musiekafdeling het hy gesorg vir gebalanseerde programme met die doel om musiekwaardering en belangstelling by Suid-Afrikaners aan te wakker. Die jong musici van die land was vir hom baie belangrik en hy het 'n musiekprys van die SAUK ingestel as aansporing vir die jong musiekmakers.

Na sy aftrede by die SAUK het Hartman 'n professoraat by die Universitiet van die Witwatersrand aanvaar as hoof van die Departement Musiek. Hy het ook baie wyer as musiek in die kultuurlewe belanggestel en het talle toekennings, insluitende twee eredoktorsgrade, van verskillende instansies ontvang vir sy bydraes tot musiek en kultuur. Hy sterf op 3 Februarie 1982 in Johannesburg.

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-Historiese Dagboek
Saamgestel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814177-6-9