Die eerste spoorlyn in Suid-Afrika geopen

Op 24 Maart 1857 het die Britse kolonie, Natal, verteenwoordigende bestuur verkry en moes die kolonie se ekonomie drasties verbeter word. Daarvoor was dit noodsaaklik om soveel as moontlik goedere in die Durbanse hawe te hanteer, aangesien doeanegelde 'n belangrike bron van inkomste was.

'n Groot probleem was egter die sandbank in die ingang van die Durbanse hawe. Toe die eerste poging om die sand te verwyder misluk het, het 'n plaaslike maatskappy 'n spoorlyn van 3km lank van die Punt na Durban gebou om goedere oor die sand te vervoer. Op 26 Junie 1860 is hierdie spoorlyn, die eerste in Suid-Afrika, geopen.

Nadat die hawe-ingang in 1878 verbeter is, het die handel toegeneem en word vinniger voervoermiddels na die binneland noodsaaklik. Daarom is die spoorlyn na Pietermaritzburg verleng. Met die toename in suikerproduksie en ander landbouprodukte asook die ontwikkeling van steenkoolmyne, word die uitbreiding van spoorlyne 'n prioriteit. Daarom word die spoorlyn van Pietermaritzburg oor Newcastle na Charlestown op die Transvaalse grens verleng en word dié lyn in 1895 tot in Johannesburg voltooi om ook die goudvelde te bedien. Hierdie spoorlyn tussen Johannesburg en Durban het 'n baie belangrike ekonomiese slagaar van Natal geword.

Die eerste stoomlokomotief het reeds op 8 September 1859 in Suid-Afrika aangekom en het op die spoorlyn tussen Kaapstad en Wellington en Kaapstad en Wynberg diens gedoen. Dit is in 1881 uit diens onttrek toe smaller spoorlyne in gebruik geneem is. Vandag staan hierdie historiese enjin as 'n Nasionale Gedenkwaardigheid op die Kaapstadse stasie.

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse kultuur-historiese Dagboek
Saamgestel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN978-0-9814177-6-9