Baasspioen sterf in New York

Frederik (Frits) Joubert Duquesne is omstreeks 1878 in Pondoland gebore. Hy het in Europa opleiding as 'n millitêre ingenieur ontvang. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, het hy na Suid-Afrika teruggekom en teen die Engelse geveg. Hy is naby Kaapstad gevang en na die krygsgevangenekamp in Bermuda gestuur. Hy het egter daarin geslaag om te ontsnap en het na die VSA gevlug.

Duquesne het die Engelse gehaat as gevolg van die wandade wat hulle tydens die oorlog teenoor sy familie gepleeg het. Daarom het hy gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) vir die Duitsters gespioneer en het verskeie Britse skepe in Suid-Amerikaanse hawens opgeblaas. Gevolglik het die Engelse hom beskuldig van moord, maar hulle kon hom nooit vang nie. 

Volgens Duquesne was hy ook vir die dood van lord H.H. Kitchener, die Britse opperbevelhebber wat die verskroeide aarde-beleid in Suid-Afrika toegepas het, verantwoordelik. In 1916 moes Kitchener op 'n geheime sending na Rusland gaan en Duquesne het hom as 'n Russiese graaf Boris Zakrevsky voorgedoen en Kitchener op die skip, Hampshire, vergesel. Duquesne was heeltyd in verbinding met Duitse duikbote en die Hampshire is in die Noordsee deur die duikbote gekelder en Kitchener het verdrink. 

Duquesne was een van ongeveer 200 bemanningslede wat die aanval oorleef het en hy is volgens sy eie verklaring deur 'n duikboot opgepik. Volgens die amptelike Britse verklaring het die Hampshire gesink nadat dit teen 'n seemyn gebots het.

In 1942, tydens die Tweede Wêreldoorlog, is hy in die Verenigde State van Amerika skuldig bevind van spioenasie vir Duitsland en tot agtien jaar gevangenisstraf gevonnis. IN 1954 is hy op grond van goeie gedrag vrygelaat en op 24 Mei 1956 het hierdie merkwaardige man in New York gesterf. 

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese Dagboek
Saamgestel deur die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814177-6-9