Sjeik Joesoef

Sjeik Joesoef, 'n politieke banneling van Indonesië, was 'n bekende persoonlikheid in die vroeë geskiedenis van Suid-Afrika. Hy is in 1626 in Makassar, Indonesië, gebore, en was 'n volgeling van die Islam. Hy vestig hom aan die hof van sultan Ageng van Bantam. 

Toe die Sultan se seun, Hadji, in opstand kom teen hom, het Joesoef die Sultan ondersteun. Hadjie het die VOC se ondersteuning gekry en Ageng gevange geneem, waarna Joesoef die stryd voortgesit het. In 1683 het hy uiteindelik oorgegee met die belofte dat hy kwytgeskeld sou word. Hy was egter 'n sterk leier met 'n groot aanhang, en die Kompanjie besluit om hom na Ceylon te stuur, waarvandaan hy na die Kaap verban is.

Hy kom in 1694 met die skip, De Voetboog, na die Kaap. 'n Groep familielede en volgelinge het saam gekom en hulle vestig hulle aan die Eersterivier naby die plaas, Zandvliet. Die omgewing het later die naam 'Makassar' gekry, vernoem na Sjeik Joesoef se geboorteplek. Joesoef is op 23 Mei 1699 oorlede. Die meeste van sy familie keer terug na Indonesië.

Verskeie legendes word van hom vertel. Een van die bekende volksverhale vertel die storie van klein Agmat, 'n skaapwagtertjie wat een laatmiddag teen 'n duin aan die slaap geraak het. Toe hy wakker word, was al sy skape weg. Hy kon hulle nie opspoor nie, en het weer aan die slaap geraak van uitputting. In sy droom word hy besoek deur 'n man wat hy as Sjeik Joesoef herken. Hy sê toe vir Agmat waar hy die volgende oggend sy skape sal vind, maar dat hy ook daar moet rondkyk vir iets meer as net die skape. Die oggend het Agmat die skape gevind presies waar Sjeik Joesoef gesê het. Daar naby het hy ook 'n ou graf gevind. Sy mense was so bly oor die graf wat gevind is, dat hulle 'n pragtige kramat daar gebou het en vandag kom volgelinge van heinde en verre om by Sjeik Joesoef se kramat te aanbid. 

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese Dagboek
Saamgestel deur die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814177-6-9