Die SS Mendi, 'n 4,000-ton stoomskip, het die Kaapstadse hawe op 16 Januarie 1917 verlaat op pad na La Havre in Frankryk met lede van die Vyfde Bataljon van die South African Native Labour Contingent (SANLC). Daar was altesaam 805 swart manskappe, 22 wit offisiere en 33 bemanningslede aan boord.

Gedurende die oggend van 21 Februarie 1917 het die SS Darro, 'n 11,000-ton passasierskip, suid van die Isle of Wight, met die SS Mendi gebots. Die SS Mendi het binne twintig minute gesink. Seshonderd-en-sewe swart manskappe, nege wit offisiere en al 33 bemanningslede het in die Engelse kanaal verdrink. Die kaptein van die SS Darro is later gedissiplineer omdat hy nalatig was. Daar word beweer dat hy nie die drenkelinge aan boord geneem het nie.

Baie verhale van buitengewone dapperheid gedurende hierdie gebeure word vertel. So het eerw. Isaac Wauchope Dyobha die mense probeer kalmeer en onder andere gesê: "Be quiet and calm my countrymen. What is happening now is what you came to do. I, a Xhosa, say you are my brothers, Swazis, Pondo and Basotho. So let us die like brothers. We are the sons of Africa..."

Die SANLC, almal vrywilligers, het tussen 1916 en 1918 nie-gevegspligte verrrig.

Hierdie ramp word beskou as Suid-Afrika se tweede grootste tragedie gedurende die Eerste Wêreldoorlog. Hierdie mense word onder andere gedenk in die Hollbrook Memorial in South-ampton, Engeland. Op 23 Augustus 2004 het 'n vlootkorvet, die nuwe SS Mendi en die HMS Nottingham van die Britse Vloot, op die ongeluksplek 'n kransleggingseremonie gehou.