Genl. Edwin Alfred Conroy

Edwin Conroy is op 2 November 1879 in Hanover in die Kaapkolonie gebore en op sestienjarige ouderdom word hy een van Johannesburg se eerste verkeerskontabels. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het hy hom in Britstown bevind en aangesluit by genl. J.B.M. Hertzog se kommando wat die Kaapkolonie binnegeval het. Genl. C de Wet het hom aangestel as veggeneraal.

Die res van die oorlog het Conroy se kommando in die noord-westelike deel van die Kaap geopereeer. Nadat gewonde lede van sy kommando wreed om die lewe gebring is deur swart mense, het hy nie geaarsel om gewapende swart mense wat deur sy kommando gevang word dood te skiet nie. Dit het aan hom 'n reputasie by die Britte besorg van wreedheid teenoor lojaliste en nie-wit persone.

Na die oorlog het Conroy na Duits-Suidwes-Afrika gevlug en saam met genls. Manie Maritz en ander na Duitsland vertrek. In Europa het hulle verskeie vergaderings oor die oorlog toegespreek. In 1903 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en omdat daar nog nie amenstie aan hom  as Kaapse rebel teogestaan was nie, het hy onder 'n skuilnaam naby Odendaalsrus gaan boer.

In 1914 het hy aan die Rebellie deelgeneem, maar word gevang en tot vier jaar tronkstraf veroordeel. Hy is egter op 22 November  1916 vrygelaat. Vanaf 1920 tot 1943 was hy as parlementslid 'n vurige ondersteuner van genl. J.B.M. Hertzog. Hy was ook stigerslid van die Boere-Saamwerk Beperk wat to die grootste wolkoöperasie in die land ontwikkel het.  Hy het in 1904 in die huwelik getree met Johanna Erasmus en drie seuns en twee dogters is uit die huwelik gebore. Edwin Conroy het op 10 Februarie 1947 gesterf en is op Parys, Oranje-Vrystaat, begrawe.

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese Dagboek
saamgestel deur die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814177-6-9