Die Stigting van Pretoria

Nadat die Voortrekkers hulle in die voormalige Transvaal gevestig het, is daar behoefte aan 'n sentraal-geleë administratiewe sentrum om die Voortrekker-republieke en die afgeleë gemenskappe te dien. Die pogings van M.W. Pretorius en PIet Potgieter om plase langs die Apiesrivier daarvoor te bekom, misluk. Pretorius besluit om self die plase, Elandspoort, Daspoort en Nooitgedacht, aan te koop en met kerksteun by die Volksraad om dorpstigting aansoek te doen. Ds. Dirk van der Hoff het op 7 Junie 1854 'n petisie vir die skepping van 'n nuwe NG Gemeente Elandspoort aan die Volksraad voorgelê en toestemming is verleen. Die Volksraad het op 16 November 1855 toestemming tot dorpstigting verleen. Daar is op die naam 'Pretoria' besluit, ter ere van Andries Pretorius en sy seun, Marthinus Wessel, die eerste President van die ZAR.

Op 11 Augustus 1854 is begin met die bou van 'n NG kerkie met 'n strooidak op  'n perseel wat later die beroemde Kerkplein sou word. Die kerkie is op 22 Februarie 1857 ingewy. Die plein wat ongeveer 6 ha groot is, is eers as markplein gebruik. Om Kerkplein is later onder andere die Raadzaal of staatsgebou, die Paleis van Justisie, die ou Hoofkantoor van die Nederlandse Bank en die Poskantoor opgerig.

Op 1 Mei 1860 is die regeringsetel van die ZAR van Potchefstroom na Pretoria oorgeplaas. Die eerste dorpsraad is in 1902 verkies. In 1910 is Pretoria as die administratiewe en uitvoerende hoofstad van die Unie van Suid-Afira aangewys en op 14 Oktober 1931 is stadstatus toegeken.

Die eerste twee jakarandabome is in 1888 van Rio de Janeiro ingevoer en deur J.D. Cilliers by sy huis Myrtle Grove in Sunnyside geplant. Vandag staan Pretoria as die 'Jakarandastad' bekend, want meer as 60,000 Jakarandabome blom in Oktober en November, wat die stad dan in 'n pers kombers hul.

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese Dagboek
Saamgestel deur die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814711-6-9