"Wêreldrekord!" Met hierdie opskrif op die voorblad het Die Burger op 16 Augustus 2004 sy lesers begroet die dag nadat Suid-Afrika se vier goue swemmers, Ryk Neethling, Lyndon Ferns, Roland Schoeman en Darian Townsend die goue medalje vir die 4 x 100m-vryslag-aflos by die Olimpiese Spele in Athene, Griekeland, in 'n nuwe wêreldrekord van 3:13,7 gewen het. In die proses het hulle met die sterk spanne van Nederland (tweede), die VSA (derde), Rusland (vierde) en die Australiërs, die verdedigende kampioen en wêreldrekordhouer (sesde), afgereken.

Die grondslag vir die oorwinning is gelê deur 'n fantastiese eerste been deur Roland Schoeman wat 'n na die eerste 100m 'n lyf-lengte voor die naaste opponent  en daarna het Lyndon Ferns en die onervare Darian Townsend uitstekend geswem om hulle voorsprong te behou, voordat die ervare Ryk Neethling seker gemaak het van hulle oorwinning en die goue medalje.

Hierdie goue medalje was slegs die vierde goue medalje wat Suid-Afrika op die Olimpiese Spele kon verower sedert die land in 1992 na meer as  30 jaar weer tot die Spele toegelaat is. In 1996 het die talentvolle Penny Heyns by die Olimpiese Spele in Atlanta (VSA) twee goue medaljes in swem verower, terwyl die moedige Josiah Thugwane eerste in die marathon geëindig het.

Ten spyte van hierdie skitterende prestasie van dié swemmers, het Suid-Afrika maar 'n swak oes van medaljes by die Olimpiese Spele van 2004 ingesamel. Dit was slegs die swemmer, Roland Schoeman (silwer en brons), die roeiers Donovan Cech en Ramon di Clemente (brons), die hoogspringer, Hestrie Cloete (silwer) en die 800 m-atleet, Mbulaeni Mulaudzi (silwer), wat medaljes kon verower. Daar was dus nie baie vir Suid-Afrikaanse atletiek-entoesiaste om oor te juig by die Olimpiese Spele van 2004 nie.