P.W. Botha en die Rubicon (Die Driekamer-Parlement)

In 49 v.C moes Julius Caesar besluit of hy 'n klein riviertjie in Noord-Italië wou oorsteek wat sou beteken dat hy sy land in 'n burgeroorlog sou dompel. Op 15 Augustus 1985 het P.W. Botha voor dieselfde tipe keuse gestaan.

P.W. Botha word in 1978 Eerste Minister en daar kom in dié tyd 'n groeiende besef by die nasionale Party-regering dat hulle sekere veranderinge in die beleid ten opsigte van die Kleurlinge, Indiërs en Swartes sal moet maak. Daar was toenemende binnelandse onrus, 'n ekonomiese depressie en vyandige bure sowel as 'n uiters kritiese buitelandse mening om die hoof te bied.

In 1980 word die Senaat vervang deur 'n genomineerde Presidentsraad bestaande uit Blankes, Kleurlinge en Indiërs wat 'n nuwe konstitusionele bedeling moes uitwerk. Die Driekamer-parlement  word in Januarie 1985 ingestel. Daarvolgens sou die Blankes (Volksraad), Kleurlinge (Huis van Verteenwoordigers) en Indiërs (Huis van Afgevaardigdes) op afsonderlike kieserlyste verteenwoordigers vir hulle huise verkies. Die swart volke se politieke regte moes in die tuislande uitgeoefen word.

Wetgewing word verdeel in 'eie sake' en 'algemene sake'. Laasgenoemde het die steun van al drie huise nodig gehad vir goedkeuring. Indien daar botsings tussen die huise was, moes die Presidentsraad uitsluitsel oor die saak gee. Van die 60 lede van die Presidentsraad is 35 deur die Huise aangewys en 25 deur die Staatspresident. Die Staatspresident het uitvoerende magte gehad.

Volgens J.P.J. Coetzer het die hele stelsel 'n negatiewe sein aan die swartes uitgestuur. In die praktyk het dit geblyk 'n fout te wees. Geweld neem toe van die swartes se kant af. 'n Regse wit groep onder Andries Treurnicht breek weg van die Nasionale Party en vorm die Konserwatiewe Party. Buite die Parlement moet die regering toenemend onrus hokslaan. In Julie 1985 neem die teenstand beide binnelands en buitelands sulke afmetings aan dat Pik Botha (Minister van Buitelandse Sake) aankondig dat die Staatspresident op 15 Augustus 'n belangrike aankondiging sou maak. Die koerante praat van sy 'Rubicon-toespraak'. Teen die verwagtinge in maak P.W. Botha die keuse om ter wille van politieke oorlewing, die regse wit vleuel te probeer kalmeer en steek hy nie die hervormings-Rubicon oor nie.