Prof. Phlip Tobias: Die man agter die gebeentes

Prof. Philip Tobias, een van Suid-Afrika se mees gevierde wetenskaplikes, is op 14 Oktober 1925 in Durban, KwaZulu-Natal, gebore. Dit is in dieselfde jaar waarin prof. Raymond Dart die Taung skedel ontdek het. Tobias het 'in 1958 die wettige voog van die Taung-skedel geword en sou hy sy lewe op die spel plaas om die 'klein karakter' op te pas'.

Sy kinderjare was nie gelukkig of maklik nie. Na die dood van sy ouma en suster aan diabetes, het hy gewonder waarom sy ma nie ook aan die siekte gely het nie. Toe hy nie antwoorde op sy vele vrae kon kry nie, het hy in sy matriekjaar besluit om 'die eerste genetikus in die land te word'. Hy behaal sy doktorsgraad in genetika op 30-jarige leeftyd. Terwyl hy hom by die Universiteit van die Witwatersrad in Johannesburg (Wits) ingegrawe het in die studie van chromosome en navorsing onder prof. Raymond Dart gedoen het oor die evolusie van die menslike postuur, het hy terselfdertyd ook Medies studeer.

In 1947 ontdek prof. Broom 'Mev.Ples' by die Sterkfonteingrotte. Hierdie aardskuddende ontdekking, tesame met die aanmoediging van diegene met wie hy saamgewerk het, het sy loopbaan in 'n nuwe rigting gestuur, naamlik Antroplogie. Hy word professor in Anatomie en Menslike Biologie aan Wits in 1959 en het in sy eie woorde 'n 'kragtige liefdesverhouding' opgebou met chromosome, die draers van gene. Sy toewyding aan hierdie aspek van die wetenskap het hom toe wel die eerste genitkus in Suid-Afrika en 'n wêreldkundige op die gebied van oorerwing en die menslike evolusie gemaak. Daarby was hy antropoloog, argeoloog, navorser, paleoantropoloog, historikus, in sy jong dae politieke aktivis en 'n filosoof wat aan sy Joodse geloof 'vasklou' en steeds na versoening tussen godsdiens en natuurwetenskap op soek is. Hy het vele nasionale en internasionale toekennings vir sy werk ontvang.