Jacob Hendrik (Henk) Pierneef

Jacob Hendrik (Henk) Pierneef is op 13 Augustus 1886 in Pretoria gebore en sterf ook daar op 4 Oktober 1957. Gedurende die Anglo-Boereoorlog verhuis die gesin na Hilversum, Nederland, waar Henk aandklasse in tekenkuns aan die Academie van Beeldende Kunsten in Rotterdam ontvang. Hier maak hy met die hulp van mnr. De Nooij kennis met die Vlaamse en Nederlandse kunstenaartradisie waarvolgens grondstowwe self gemeng word. Teen die einde van 1902 keer hy terug na Pretoria en word later kunsdosent aan die Normaalkolleges van Heidelberg (Gauteng) en Pretoria. Vanaf 1920 wy hy hom voltyds aan sy kuns.

Hy maak onder andere kennis met liosnee- en houtsneewerk, Boesmanskuns, nuwe kunstrominge in Europa, die Impressionisme en die werk van Willem van Konijnenbrug. Hy vind 'n eie sleutel tot die uitbeelding van die Suid-Afrikaanse landskap, naamlik die gebruik van streng liniêre komposisie met lang horisontale, kort vertikale en groot booglyne, tesame met 'n nuwe helderheid van kleur waardeur die grootsheid en uitgestrektheid van dié landskap weergegee kan word. Sy Studie in blou (1929) word algemeen aanvaar as die hoogtepunt van sy kunstenaarsloopbaan omdat byna al die elemente waarna hy gestreef het, hierin verenig is.

Verder werk hy byna drie jaar lank om die opdragwerk om 32 skilderye vir die nuwe stasiegebou in Johannesburg te skilder. Die afmetings van 28 groot panele is feitlik vierkantig, wat sy eie uitaging en probleme skep. Daarby sou die muurpanele ver bokant die vloer van die daaronderliggende binnehof in nisse onder halfsirkelboë geplaas word. Hierdie skildereye word tans in die Rupert-museum te Graaff-Reinet gehuisves.

Daarna volg nog verskeie opdragwerke, soos muurskilderye vir die Suid-Afrika-huis in Londen (1933) en dié  Johannesburgse landdroskantoor (1940). Die Pierneefstyl was nou algemeen bekend. Geen kunstenaar het soveel beroemdheid in die Suid-Afrikaanse kunswêreld bereik nie, want hy bly die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat 'n heeltemal nuwe siening en 'n heeltemal nuwe uitbeelding van die Suid-Afrikaanse landskap gebring het. Hierin was hy 'n ware pionier van die beeldende kunste in Suid-Afrika. 

© Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese dagboek
Saamgestel deur vriende van Afrikaans
ISBN978-0-9814177-6-9
Griffel Uitgewers