C.J. Langenhoven

"Die meeste verdienste verdien nie die meeste nie."

"Moenie eers skryf en dan dink nie. Dink liewer eers en skryf dan."

"Skryfwoorde is nie mondwoorde wat wegwaai nie. Of wat jy later kan ontstry nie."

"Hoe weeldiger woord, hoe skraler gedagte."

Dié groot Afrikaanse skrywer is op 12 Augustus 1873 te Hoeko in die distrik van Ladismith (Kaap) gebore. Hy word grootgemaak deur sy pa se broer en sy vrou en word word op jong ouderdom  reeds gebooi deur die natuurskoon sowel as deur die eg Afrikaanse gees van sy ouerhuis en die gesinne in die omgewing.

Hy studeer in Regte en vestig hom later jare op Oudtshoorn waar hy as prokureur werksaam is. Hy begewe hom ook in die politiek en word Lid van die Provinsiale Raad, Parlementslid en Senator. Aanvanklik skryf hy in Engels, maar begin mettertyd 'n stryd om die erkenning van Afrikaans te voer.

Langenhoven, die woordkunstenaar, durf 'n ryke verskeidenheid temas en genres aan, soveel so dat hy in die Afrikaanse letterkunde met reg 'n baanbrekeer genoem kan word. Hy gaan selfs taalskeppend te werk, soos blyk uit verskeie woorde wat hy aan die Afrikaanse taal geskenk het. Hy het 'n geweldige werkywer gehad en kon binne 'n paar dae werke van groot omvang die lig laat sien.

Een van die verdienstes van Langenhoven, waardeur hy 'n figuur van kultuurhistoriese betekenis geword het, lê daarin dat hy die Afrikaner wyd leer lees het. Hy is op 15 Julie 1932 oorlede. Sy omvangryke letterkundige nalatenskap word ná sy dood byeengebring in sestien lywige boekdele van ongeveer 400 bladsye elk, onder die titel, Versamelde werke van C.J. Langenhoven.

En as was nou byewas was
en as het hout gebly
Al was die as 'n ysteras,
en was het is gebly,
En ek was skoon al was ek nooit vir my -
Dan was daar was al was daar nooit 'n by.
En nooit was daar 'n was want is was nooit verby.
En ek was nooit vir my.


© Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese dagboek
Saamgestel deur vriende van Afrikaans
ISBN978-0-9814177-6-9
Griffel Uitgewers