C. Louis Leipoldt

Hoewel Leipoldt 'n medikus was, lewer hy sy grootste bydrae vir die land as skrywer. Sy skryfwerk sluit populêr-wetenskaplike geskrifte, joernalistieke werk, vertalings, verskeie bundels poësie sowel as dramas, romans, kortverhale en reisherinneringe in. As digter en dramaturg is hy een van groottstes wat Afrikaans opgelewer het.

Hy het grootgeword op Clanwilliam en was 'n baie eensame kind wat tuis deur sy pa onderrig is en deur sy ma omgang met ander kinders verbied is. Hy het op 'n baie jong ouderdom geweldig wyd begin lees en kon Engels, Duits, Nederlands, Maleis, Frans, Grieks en Latyn lees. Hy het aanvanklik in Engels geskryf, maar later skryf hy hoofsaaklik in Afrikaans. Leipoldt het geweldig baie belanggestel in die natuur veral in Plantkunde.

Sy eerste beroep was dié van joernalis en hy werk vir 'n groot verskeidenheid koerante. Toe hy later in Londen as joernalis werksaam was, skryf hy in as mediese student en loop ook klasse in Regte. Hy voltooi sy mediese studies in 1907. In Londen verwerf hy verskeie diplomas in Kookkuns.

In die volgende paar jaar het hy heelwat in Europa, Amerika en die Ooste gereis en het ook verder studeer in Ortopedie en Kindersiektes. Terselfdertyd het hy sy eerste paar boeke, wat oor mediese onderwerpe en dieetkunde handel, geskryf. Terwyl hy in Londen was het hy ook sy eerste bundel Afirkaanse gedigte, Oom Gert vertel en ander gedigte (1911), gepubliseer. Dit is as een van die belangrikste digbundels in die vroeë Afrikaanse poësie beskou.

Hy het in 1914 teruggekeer na Suid-Afrika waar hy gewerk het as mediese skoolinspekteur in die Transvaal en later as kinderarts in die Kaap. Hy het deur die jare geweldig produktief gebly as skrywer.

Leipoldt sterf in Kaapstad op 12 April 1947 en sy as is weggelê in die bergwêreld van die Pakhuispas naby Clanwilliam.

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaanse Kultuur-historiese Dagboek
Saamgesstel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814177-6-9