Die Kaapse Klopse

Die Kaapse Klopse Karnaval (Engels: Cape Minstrel Carnaval) wat aan die begin van elke jaar met Nuwejaarsvieringe in Kaapstad gehou word en duisende toekouers trek, dateer terug na die eerste feesvierings met die vrystelling van slawe op 1 Desember 1834. Die vrygestelde slawe van albei geslagte en van alle ouderdomme het, volgens die SA Commercial Advertiser, gedurende hulle verpligte 'vakleerlingskap' van vier jaar, gedurende die dae en / of nagte, ordelik deur die strate geloop en is dikwels deur amateur-musikante vergesel.

Dit is ook bekend dat die eerste groep, die 'Original Jubilee Singers', gedurende 1887 en op Nuwejaarsdag 1888, in die strate van Kaapstad opgetree het. Die eerste werklike kompetisie is gehou op 1 Januarie 1907 in die Groenpuntstadion waaraan sewe groepe deelgeneem het. Dit was eers in die middel 1990's dat die Karnaval erken is as 'n nasionale en kulturele bate. Groepe kan uit tussen 300 en 1,000 lede bestaan. 

Alhowel die meerderheid deelnemers mans en seuns is, neem vroue van alle ouderdomme al hoe meer deel. Tans neem tussen 40 en 50 groepe en ongeveer 40,000 persone van alle ouderdomme deel. 

Die optog deur die strate van Kaapstad en die kompetisies in die Groenpuntstadion is die hoogtepunt van die karnaval. Baie tyd, energie, beplanning en harde werk gaan dit vooraf in die vorm van die beplanning en maak van kostuums, die keuse van musiek en afrigting.

Een van die doelstellings van die Karnaval is om die positiewe invloed van sang, dans, musiek, leierskap en deelname aan die verskillende fasette van die Karnaval te gebruik om talente en vaardighede te ontwikkel en 'n spesifieke eeue oue kultuur uit te leef en ten toon te stel. Dit vorm deel van Suid-Afrika se ryk geskiedenis.

Dae uit ons Geskiedenis
'n Afrikaans Kultuur-historiese Dagboek
Saamgestel deur Die Vriende van Afrikaans
ISBN 978-0-9814177-6-9