www.myvolk.co.za

<p>41,000 Onderwysers draai daagliks stokkies<br/></p>

41,000 Onderwysers draai daagliks stokkies

Posted 1 week ago
<p>President Steyn besoek die manne in die veld<br/></p>

President Steyn besoek die manne in die veld

Posted 1 week ago
<p>Four Faces of Ace<br/></p>

Four Faces of Ace

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 10 April 1968

JJ Fouché ingehuldig as Staatspresident

Die inhuldiging van mnr. Jacobus Johannes (Jim) Fouché as die tweede Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, het te midde van groot openbare belangstelling op 10 April 1968 in Kaapstad plaasgevind.

Die inhuldigingsplegtigheid het geskied in die Groote Kerk, waar die predikante, dr. JS Gericke, dr. PSZ Coetzee en prof. WD Maxwell voorgegaan het. Daarna het mnr. Fouché die ampseed voor hoofregter LC Steyn afgelê.

Na afloop van die inhuldiging is die nuwe Staatspresident na die Parade, waar hy deur die Eerste Minister, mnr. BJ Vorster, aan tienduisende lede van alle bevolkingsgroepe voorgestel is. In sy toespraak het mnr. Fouché gesê dat deur sy verkiesing erkenning gegee is aan die waarde van toegewyde diens van die gewone mens.

Hy het ook daarvoor gepleit dat Suid-Afrika ’n beleid van leef en laat leef volg, en dat elke bevolkingsgroep die waarborg van selfbehoud moet hê.

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 8 April 1848

Oproep tot immigrante benoorde die Grootrivier om herstel van hul vryheid

Nadat die Kaapse goewerneur, sir Harry Smith, op 3 Februarie 1848 wederregtelik en teen die sin van die meeste blanke inwoners die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier tot Britse grondgebied, t.w. die Oranjerivier-Soewereiniteit, verklaar het, het veral die republikeinsgesinde immigrante benoorde die Vetrivier besluit om hulle teen hierdie daad te verset.

Hiervoor het hulle die hulp van Andries Pretorius, die bekende Voortrekkerleier, ingeroep, wat toe aan die Magaliesberg geboer het. Dit was hy wat aan Smith gesê het: “Hier vlug ons van die Britse gesag en waarheen ons wil, neem u alles in besit, waar moet ons heen? U sal daardeur die Emigrante-Boere tot twee weë dwing, nl. om hul wettig gekoopte land te verdedig, of dieper die wildernis in te gaan.”

Tot die laaste uitweg was Pretorius en sy volgelinge nie meer bereid nie, en op grond van hierdie versetgees het Pretorius op 8 April 1848, “eene Algemene Oproeping” aan alle mense gerig “om ons wettige eygendom, welk ons goed en den bloet van mans, frouwens en kinderen heef gekos, weer om te vragen …, (want) sie gij niet dat gij UE niet kond vry trekken nog vlugten, maar neemt God in UE harten en dan zweert in UE handen en verdedig UE reg en UE vrijheid welk aan alle schepselen op den aardbodem is geschonken.”

Posted 1 week ago

Afrikaanse Kortverhale: Die dag toe hulle ‘n Paasgodin op Langebaan gekies het

Eintlik was dit nie die seisoen vir sulke dinge nie, want die duine was soggens nat van die dou en die seemis het tot laat nog tussen die eilande gehang. Langs die kus was die koelte van die herfs reeds voelbaar. Die gees van groei was nie meer in die lug nie. En van oudsher wag die gode op warmer klimaatstoestande voordat hul die ys breek vir ‘n herverskyning.

Maar dit was Pase en die Christene van die Swartland het saamgetrek langs die Saldanha-meer. Dit was langnaweek en hul Heiland (wie se geboorte hul ook hier gevier het met tradisionele deurdrenktheid en enkele verdrinkings) is gekruisig en begrawe, maar sou weer (volgens die Boek) opstaan op die derde dag. En dit, immers, is tog vooruitsig en rede vir groot vreugde.  Met jong wyn en gedans moes daar dus gevier word. En met die verkiesing van 'n Paasgodin: tradisioneel die vrugbaarste onder die skones wat die seën sou dra en die saad vir die nuwe lewe.

Onder ingeligtes is gefluister dat die aspirante reeds die vorige middag aangeland het - behoorlik gekamoefleer in klere wat hul goddelikheid verberg. Elkeen wou die aand alleen deurbring in haar kamer: die liggaam voorberei op die beproewinge wat voorlê. Sommige van hul het die ritueel geken uit vorige feeste, ander kuste. Maar daar is ook altyd dié wat vir die eerste keer probeer - die ene opgewondenheid en sugte: net soos elke hardertjie van die strandmeer uitbeur see toe, net toe, haai toe. By almal sluimer die hunkering in die bloed: die drang om gekruisig te word, neergelé en bedek te word tot die sterre verskiet en 'n duisternis hul oorval. almal droom van 'n engel wat die graf sal oopmaak met 'n heerlike opstanding van die vlees.

Die woonwapark was vol. Die Christene het ingekruip ini elke beskutte holte, onder elke skaduboom, in elke leë kamer of ongekooide skuur. eie proviand is saamgebring, in oorvloed, sonder vertroue in 'n vermeerdering van brode of wanindrukke in verband met vis. Veral die wyn was genoeg: dit kon straks gebeur dat die water water bly.

Die aand vantevore het die jong mans begin drink en toe hulle nog half nugter was, in die strate begin loop en die motors voorgegkeer - net om naand te sê, gemaak snaaks op Engels - soos hulle gemaak het toe hulle nog Maties was. En hul vrouens het gelag vir die gekkery en die hand-om-die-lyf-weer-jonk-wees-tyd wat amper verby was.

Laat die nag het van die jong manne op die sand gelê en huil omdat hulle hul god verloor het agter die wit duine waarheen hulle die bewende maagde gelei het vir die wyding. So versteurd was hulle van wyn en van weemoed dat hulle nie kon loop nie. Hulle kon maar net op hul elmboë leun en bulk van narigheid in hulle onmag: hul broeke benat en bevuil. en die maagde het bewoë gaan slaap met lampe wat hoopvol brand vir die god wat gesterf het en seker eers weer na drie dae tekens van ontwaking sou toon.

Die ou mans het maar net eenstryk deur gedrink. Hul geloof in 'n opstanding wat wonderbaarlik is, het lank reeds gekwyn tot niks. 'n Nuwe bruilof, of selfs 'n avondmaal, was hul nie meer gegun nie. Ouder gewoonte steek hul dan maar 'n dop totdat die donker en die vaak hul oorval.

Op die dag dan waarvan ek skryf, het dié wat daartoe in staat was, vroeg opgestaan en voorberei: gewas, geskeer, gegrimeer en ingesmeer, maar skamel aangetrek om te pas by die plek en die geleentheid. En afgesit na die hotel op die rotse langs die see. Vroegtydig.

Teen elfuur het dit begin stoom tussen die opgewonde en saamgeperste lywe op die terras. Dorstige mans het bier na bier gedrink en meer en meer begeer. Vrouens het boonste kledingstukke begin uitrek vir vryer perspirasie en beter vatplek vir die son en vir die oë. En organiseerders het hul hande gevryf in afwagting op die winste as die werklike losbandigheid eers begin.

Om twalfwuur het daar 'n helikopter oor die see verskyn. Waarvandaan? Ou Langebaners het beterweterig gesê: “Hier kom die Bassontjies. Almal het hul nekke opwaarts gerek: die stolp, die stolp, wie was in die stolp - seker kleintyd voorberei op die gedate dat engele neerdaal uit die hemel. Maar die landing van die naaldekoker, perdeby, gevlerkte steker, was maar net 'n teken dat die ander ongevlerktes moes verskyn - dramaties op die afgesproke oomblik. Om die swembad, voor die beoordelaars, het hulle verby geswaai in hulle dun en min kledingstukkies. Sommige het los jakkies oor kaal skouers - skild waaronder formidabele wapens eers strategies vertoon en daarna weer verberg is in 'n professionele spel van wegkruipertjie en loer en soek en stilstaan en gevang word. Op en af en heen en weer. Almal het lang bene op steltskoene. Heen en weer en op en af. En rooi lippe en wit tande wat lag en wellustigheid belowe.

Om eenuur het die beoordelaars hoofde bymekaar gesit en begin fluister. Sommige het radeloos maatbande uitgehaal en gemeet: heupe, dye, die swelling van die borste - kopskuddend. Hoe kan die vrugbaarheid tog bepaal word? die vrou van een van die regters het hand kom bysit met 'n storie van 'n droom waarin die wenner aan haar geopenbaar is. Maar dit wou die regbank nie aanvaar nie. Die skare het gejuig en raad gegee. Swetende mans het gejubel en geen twyfel oor hul gunsteling gelaat nie. En totaal weggevoer het andersins kalmes palmtakke afgeskeur en geswaai. almal het gevoel die ding moet nou na 'n kant toe.

Om kart voor twee het die regters gunstelinge aangekeer verhoog toe. En die skare het gegil: Kroon haar! Kroon haar! En die mans het nader gedrom en gedruk, nader om van anderby te kyk en stuitige dinge te sê. En hul vrouens het heimlik gevoel dat hulle hier verstoot word.

Eindelik om twee-uur het die hoofregter na vore getree vir die finale daad met die verkosene wat bruin en glansend in die son gesit het met haar bewende boesem en oë vol verwagting. En terwyl die hekse van Skandinawië op hulle besemstokke na eilande vlieg om met die duiwel te kopuleer, die heilige sonvoël sy rooi eier lê in die dal tussen ronde heuwels, ou Parysenaars hoopvol sipreskerkhowe besoek, Griekse ortodoksers die Paaskers aansteek in donker tempels, sy dun vlam die siesoene splyt, bakkers in Londen wit deegkruise rol, insteek in die geurende oonde, opgeleefde Amerikaanse miljoenêrs in tennisskoene en donkerbrille die herlewenis voller maak uit die oorlopende kasregisters en die Pous oor alles sy seën uistspreek met bleek hande, het hy haar gekroon met die groen en goue kroon van Paasgodinne.

'n Ou tante, rustende op die agterste gestoelte van haar swaar verrekte lyf, het weemoedig gelimlag oor die verrukte vertoon van vreugde - wetende van blomtyd as die koeke dik geswel is, soet, vol heuning en vol jongby, maar ook van die bitter, arm maande as die koningin sterf, die bye wegtrek en die neste stil en droog is.    

M.M. Walters                                                                                                                  

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 7 April 1861

“Nuwe Kerk” in Pietermaritzburg ingewy

Op die Sondagoggend is die “Nuwe Kerk” van die Nederduits Gereformeerde gemeente Pietermaritzburg in ’n gees van nederige, diepe dankbaarheid ingewy. Dit is gebou op die halwe erf van Langmarkstraat 34.

Ds. P Huet was toe predikant van die gemeente, en verskeie hooggeplaastes, soos die luitenant-goewerneur, die hoofregter en die sekretaris van naturellesake, het saam met die gemeente die inwydingsplegtigheid bygewoon. Dit was die tweede kerkgebou van die gemeente en is opgerig onmiddellik langs die eerste, die Geloftekerk, wat tans die Voortrekkermuseum is. Die twee geboue het min of meer dieselfde getal sitplekke gehad, maar die nuwe gebou het nodig geword omdat, soos dr. HE Faure – predikant van die gemeente in 1855 – op 18 Julie van daardie jaar aan die regering verklaar het, “the one at present in use is altogether in a state of dilapidation.”

Die oprigting van die “Nuwe Kerk” was vir die gemeente ’n besondere prestasie. Die mense was arm, en met groot moeite is die nodige geld gevind deur middel van kollektelyste en lenings en deur die verkoop van kerkgrond in die distrik. Vir Afrikaners van Pietermaritzburg in die besonder en Natal in die algemeen was die gebou baie jare lank ’n geestelike, en kulturele, swaartepunt.

Onder sommige mense het die indruk posgevat dat die “Nuwe Kerk” die eintlike Geloftekerk is. Die moet waarskynlik daaraan toegeskrywe word dat hierdie tweede kerkgebou met soveel dankbaarheid en vreugde in ontvangs geneem is; en ook omdat, nadat die eerste gebou voltooi was, daar al gou die gedagte ontstaan het om, wanneer meer geld beskikbaar is, ’n nuwe kerkgebou op te rig – wat toe in werklikheid die “Nuwe Kerk” was. Hierdie indruk is egter nie korrek nie.

Die eerste gebou, die huidige Voortrekkermuseum, is die ware Kerk van die Gelofte. Afdoende bewyse hiervoor vind ons onder meer in die kollektelyste wat reeds kort na die Slag by Bloedrivier rondgeneem is om geld en voorrade vir die oprigting van die gebou in te samel. Die redakteur van De Zuid-Afrikaan, CJ Brand van Kaapstad, wat aktief met die insameling gehelp het, skryf bv. op 13 Junie 1839 aan Andries Pretorius: “Ik heb eene intekening lyst alhier geopend tot bydragen van het opbouwen des tempels, welke gy den Heere hebt beloofd.”

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 5 April 1900

Graaf G de Villebois-Mareuil sneuwel by Boshof

Graaf Georges de Villebois-Mareuil, die Franse edelman, is op 17 Maart 1900 te Kroonstad tot veggeneraal van die Boere benoem deur presidente Kruger en Steyn. Sy opdrag was om ’n legioen te stig uit die vreemdelinge wat hulle aan die kant van die Boererepublieke geskaar het. Op 24 Maart het hy met ongeveer 125 Franse en Hollanders uit Kroonstad vertrek om na Modderrivier te gaan en die spoorlyn suid van Kimberley op te blaas.

Hierdeur sou die lewensbelangrike verbindingslyn van die Britte van die Kaap na Transvaal, waarheen lord Roberts aan’t opruk was, afgesny word. Onderweg sou hy ’n nagtelike aanval op Boshof uitvoer om die dorp te ontset, waar net ’n klein Engelse garnisoen was. Voordat hy egter Boshof kon bereik, het die Engelse ’n sterk leër daar geplaas. Toe hy in die vroeë skemer van 5 April Boshof nader, was daar geen sprake van ’n aanval nie. Sowat 9 myl suid van Boshof het hy en sy manskappe in die koelte van bome gaan rus om in die donker van die aand verder te gaan.

Die Engelse is van hul skuilplek verwittig en het ’n sterk mag teen hulle uitgestuur. Vier uur lank het hy en sy manskappe dapper teenstand gebied, voordat hy dodelik gewond is.

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 4 April 1905

SAOU gestig

Gedurende die laaste dekades van die 19de eeu is daar aan die Kaap ’n taalstryd gevoer – aan die een kant die stryd van die Afrikanervolk vir gelyke regte van die volkstaal met dié van Engels en aan die ander kant die stryd onder Afrikanertaalmanne oor wat die voertaal moet wees: Patriot-Afrikaans soos voorgestaan deur die Genootskap van Regte Afrikaners of Nederlands.

In 1819 kom dr. Kollewijn in Holland met die voorstel dat Nederlands vereenvoudig moet word en hier te lande vind die gedagte ’n ywerige dissipel in dr. WJ Viljoen van die destydse Victorie Kollege en later Superintendent-Generaal van Onderwys in Kaapland. Op Dinsdag 4 April 1905, om 10h00 kom 56 persone byeen in die saal van die Hugenote-gebou in Kaapstad. Die doel van die vergadering was om die vereenvoudiging van Nederlands te bespreek sowel as “Andere punten van belang”.

Uit hierdie “andere punten van belang” is die SAOU gebore, want op voorstel van ds. FS du Toit gaan die vergadering gedurende die middag oor tot die stigting van De Suid-Afrikaanse Onderwyzerunie. Die stigting van die SAOU moet egter nie gesien word as ’n impulsiewe daad of as ’n neweproduk van die Vergadering van Taalvereenvoudiging nie. Na die Anglo-Boereoorlog wou die Afrikaner-onderwyser sy hande los hê, nie alleen om te werk vir die opheffing van die verwaarloosde Afrikanerkind nie, maar ook om gelyke regte en status vir die Afrikaner-onderwyser te verwerf.

Die belangrikste werksaamhede van die SAOU is advies aan lede in verband met omstandighede wat voortvloei uit hul diensvoorwaardes en diensomstandighede; skakeling met die Onderwysowerhede ten behoewe van onderwysers; skakeling met die Kaaplandse Onderwysdepartement oor opvoedkundige aangeleenthede; ’n wakende oog te hou oor die onderwys in die algemeen en behartig partikuliere onderwyssake; behartiging van die Afrikaanse onderwyser se belange in die besonder.

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 6 April 1856

Die dorp, Boshof, in die Vrystaat, is gestig en vernoem  na president Jacobus Nicolaas Boshoff, die tweede president van die Oranje-Vrystaat.

Posted 1 week ago

Showing category "Afrikaans: Kortverhale" (Show all posts)

'n Gawe Dametjie

Posted by Paul Joubert on Saturday, November 14, 2015, In : Afrikaans: Kortverhale 

'n Gawe Dametjie

Wat se lawaai is dit daar in die tuin! Daar is gegil en geskreeu, so erg dat Moeder besluit het om te gaan kyk wat aan die gang was. En wat sou sy sien? George en Janet het woes op die grond gestoei; hulle het gekrap en geskop en dinge vir mekaar gesê wat ek nie hier kan neerskryf nie.  

"Hou op! Hou dadelik op!" het Moeder geskreeu. Die twee het vinnig opgespring, en hoe het hulle nie gelyk nie! Hulle gesigte, klere, hande, en skoene was die pure stof. 

"En wat beteken dit mis...


Continue reading ...
 

Na Twee Jaar

Posted by Paul Joubert on Friday, October 9, 2015, In : Afrikaans: Kortverhale 

Ons moet egter onthou dat alle gebede nie dadelik verhoor word nie. Soms, om die een of ander goeie rede, laat God ons wag, miskien vir 'n maand, en soms vir 'n jaar of langer. Maar Hy vergeet nooit ons gebede nie; hoe Hy almal kan onthou, weet ek nie. Soms, lank nadat ons vergeet het dat ons vir 'n sekere ding gebid het,  kry ons daardie ding om ons te herinner aan Gods bedagsaamheid en liefde. 

So was dit in die geval van die vrou waarvan ek 'n tyd gelede gehoor het. Toe sy eendag by die hui...


Continue reading ...
 

Hoe Jesus vir Tommie genees het

Posted by Paul Joubert on Thursday, October 8, 2015, In : Afrikaans: Kortverhale 

Tommy was vir drie dae al in die bed, en nog kon niemand vasstel wat hy makeer nie. Moeder het verskeiemaal sy koors gemeet en gevind dat dit byna honderd-en-vier grade was; dit het haar ontstel. Tommy was die jongste kind, en almal was baie lief vir hom. 

Die dokter het hom kom ondersoek, en tog het niemand geweet wat hy makeer nie. Hy het Tommy se pols gevoel, met sy vingers op sy borskas geklop, en met die gehoorbuis geluister. Hy het Tommie se tong ondersoek, in sy ore gekyk, en ook in sy ...


Continue reading ...
 

Die-aader-naait-deer

Posted by Paul Joubert on Thursday, September 24, 2015, In : Afrikaans: Kortverhale 
Op 'n Junie-oggend in nege-en-veertig het ek en Klei'Gert Byl haastig elkeen 'n groot beker koffie weggeslaan en met karwatse ingeval agter die trop karakoele wat toe net van die werf af geroer was. Die oggendwindjie het skerp oor die swart Boesmanlandse vlaktes gesny, maar die hot-en-haar-lopery agter die agterskaap het ons gou warm gemaak.

Die Boesmanland het lankal meer geen lewe gehad nie. So ver as die oog kon sien, was die wêreld een swart dooie see van tot in die grond afgevrete graspo...

Continue reading ...
 

Die Boenk

Posted by Paul Joubert on Thursday, September 17, 2015, In : Afrikaans: Kortverhale 

Die Boenk

Die boenk is 'n nuwe dier: met 3 oë en 5 bene en dus altesaam 31 tone. Dit dra stewels wat dit se voete is teer. Die ore is lank en pesig en bedek met hare wat dien as skokbrekers of klankkussings want die geluide van die wêreld is te brutaal vir sy oordromme.

Sy ore is van meer nut, of dien as vlerke. Alhoewel die boenks lomp in die lug rondval is hulle geharde vlieërs. Hulle leef op land of in die water. Eintlik is hulle gek na water en dis glad nie verrassend om soms as jy jou h...


Continue reading ...
 

Die Verhouding

Posted by Paul Joubert on Wednesday, September 2, 2015, In : Afrikaans: Kortverhale 
Op 'n manier het dit gewerk. Dit het net nie altyd so goed gevlot nie. Daar was genoeg gevoel, commitment ook, selfs die opregte begeerte om betrokke te wees. Ek sal die begin altyd as Desember onthou. Vir haar het dit vroeër al per brief begin.

Maar vir my was dit die einde van die jaar as almal op vakansie gaan. Die Transvalers, die biskoppe en die community workers. Selfs die struggle vat af en jy loop party van die activists op Sandy Bay of in die Brass Bell raak. Dis nou as y parkeerplek...

Continue reading ...
 

Ballade op die Dronkparty

Posted by Paul Joubert on Monday, August 26, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

Jou oë sing 'n ou verhaal

Van goud wat teen die reënboog lê;

en sal jou lippe teen my lip

'n onvertelde teerheid sê?

Pols jou vingers aan my pols 

Die boodskap wat die bloed begryp?

Van wildebessies ryp.

Wie het die ronding van jou vlees

So soepel om die been gedraai?

En watter heuwels en vallei

Die wit mis van jou tabberd toegewaai?...

Een het my om haar lag verlei,

Een, om haar trots, versaak;

En ek, tussen verwyt en leed,

Al dronker aan die drink geraak...

Die liefde is die bitter glas,

die droë glas...


Continue reading ...
 

Die Swakheid van die Vlees

Posted by Paul Joubert on Saturday, August 24, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

In die oorlog was daar twee soorte verraaiers sê oom Basjan: die selfgemaaktes en die geskapenes. Oom Schalkie was so 'n skepsel. Hy het dit nie geweet toe die moeilikheid begin het nie, of anders sou hy seker maar 'n ander skeet uitgedink en by die huis gebly het, soos daar oorgenoeg dié-sulkes was. Ons Vrystaters had laas in '65 'n veldtog, teen die Basoeto's, en toe was dit nie vir oom Schalkie nodig om te gaan veg nie. En dit was al '99 toe die Ingelse gekom het. 

Toe die oproep uitgaan,...


Continue reading ...
 

Van die Seuns Offisier

Posted by Paul Joubert on Friday, August 23, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

Hy stap stadig, nie moeg nie, na sy tent toe. Dit moes kort tevore gereën het, want die stoom slaan uit die wit sand op en hy loop dit en geniet. Die makalanipalm langs die tent se blare blink hoog op aan die stele, swaels duik uit die droë blare  teen die stam uit, swiep laag oor die grond en gaan sit teen die snaarstywe tenttoue om hul vere te kam. By die tent haak hy die flap los, vou dit om en staan terug.

DIe outomatiese geweer wat rustig oor sy linkerskouer gehang het, vat hy in albei ...


Continue reading ...
 

Gustav Gaan Speel

Posted by Paul Joubert on Friday, August 16, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

Die manier waarop ek hom ontmoet het, moes my gewaarsku het dat dit moontlik is. Maar dan ook slegs dat dit moontlik is. Die hoe ek Pieterse leer ken het: Hulle was besig om 'n sloot te grawe, reg voor my huis. Maar naweke werk die slootgrawers nie. Hulle het hulle uitgrawing net so gelaat, darem met tekens omhein om te waarsku dat die volgende vyftig tree net eenrigting verkeer kan dra.

Skielik gebeur dit toe die Saterdagmiddag. 'n Bus en 'n motor kom staan kop aan kop in die bottelnek en alt...


Continue reading ...
 

Voëls

Posted by Paul Joubert on Wednesday, August 14, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

..en waar daar eers vlees was, is nou net woord...

Daar was die huis van my ou vader aan die bo-ent van die dorp teen die eerste skotigheid, tussen rietbosse wat kletterend die voëls probeer afrskrik. En ander bome met donkergroen lower en net so groen die spatsels en gleuwe skaduwee. Teen die effe-geel mure van die regop huis, baie hoë stoep voor al met die huis se lengte, bank agter blikplante op die stoep, my ou vader kroes op die bank in die lawwe herfsson. Voëls oral, 'n swermerasie va...


Continue reading ...
 

'n Koeël vir 'n Klou

Posted by Paul Joubert on Wednesday, August 7, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

Tussen Freek de Jager en sy uitsig oor die pan hang 'n spinnerak. Om sake te vererger, bly sit die groot, bruin spinnekop roerloos in die middel, soos 'n vleuelmoer wat daar vasgeroes is. Ook die wind wil nie volkome sy bondgenoot wees nie, waar wel uit die rigting wat sy teenwoordigheid in die boom nie verraai nie, maar roer die takke en trek aan die ankerdrade tot die spinnerak soos 'n oogpêrel sy korrel belemmer. Maar hy't gekom om wraak te neem vir die dood van sy seun en vertrou die win...


Continue reading ...
 

Liefde is sterker as Plastiek

Posted by Paul Joubert on Sunday, July 21, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

Hulle het almal in een huis gebly. Die meisies was jonk, in hul vroeë twintigerjare. Die winkelpop was 'n man, uit plastiek vervaardig en aanmekaargesmelt deur 'n masjien. Die Here het hom nie geskape nie.

Dis eintlik 'n snaakse verloop van omstandighede wat daartoe gelei het dat die meisies en die winkelpop saam in een huis woon. Maar die basiese gedagte, die eenparige besluit wat die twintig vriendinne geneem het voor hulle gesamentlike intrek was dit: die alledaagse lewe het vir die vrou a...


Continue reading ...
 

Die Jonkmanskas

Posted by Paul Joubert on Saturday, July 20, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

Die Jonkmanskas

Die eerste keer dat hy dié woord gehoor het, was by sy vriendin, Iris. Dit was op 'n Sondagmiddag aan etenstafel nadat Stoffel, haar middeljarige broer, se gebooie die oggend in die kerk gelees is. Mamfi, hulle moeder, het aan die punt van die tafel die ietwat rumoerige geselskap vir 'n oomblik onderbreek en eers die seën gevra. Toe sy "Amen" sê, het Helena, Iris se hubare dogter wat langs die glimlaggende verloofdes gesit het, vir Koos gevra: "Mag ek vir jou inskep?" Hy het...


Continue reading ...
 

In Vino Veritas

Posted by Paul Joubert on Thursday, July 18, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

In vino Veritas

Verlede nag het my gees weggeloop Boland toe. Miskien loop jy hom raak, iewers tussen Stellenbosch en die Paarl. In 'n wynwingerd, in die son. Want dis parstyd in die wynland. Nou dat die jaar ryp geword het. Die wind en goeie weer en son het die trosse tot bekwaamheid begenadig - to parsbaarheid gesuiker in die oop hart van die sanderige aarde. 

Nou kom die hande van mense  en die ratte van masjiene en stroop die wingerdstokke van hul vrug. Rooi Pinotage. Wit Steen. Hulle is di...


Continue reading ...
 

Ontsnapping

Posted by Paul Joubert on Sunday, July 14, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

Die hoof van die gevangenis sit by sy groot lessenaar. Agter hom hang die landsvlag. Oorkant hom sit die assistent-hoof en berekeninge doen. Dit is teltyd en die syfers klop nie. Elke dag, voor die dissipline-lede wat dagskof gewerk het, kan huis toe gaan, moet daar getel word om te sorg dat al die gevangenes in die selle is voordat daar met die meestersleutel gesluit kan word.

"Een kort," sê luitenant Vermooten die tweede maal. "Laat hulle weer tel." Majoor Korg is nie bekommerd nie. Dit geb...


Continue reading ...
 

Koos Crous se hawerland

Posted by Paul Joubert on Thursday, July 11, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 
Dit was nog sommer vroeg die more toet ons op Morriesberg aankom. En is die dorpie dié more van de mense! "Dit moet Nagmaalnaweek wees, " sê Herklaas. "Kyk net de waens en de karre!"

"Vendusie", se ou Kemeel. "Morriesberg is mofskaapwêreld en so dié mense vendusie kin hou is nie maklik nie." Ewentewil, ons wag nog aan't ietspanne oener 'n soetdoring hier eenkant, waar die tennisbane en dinge vandag daar is, toe staan 'n paar jong kêrels nader. Nader gestaan, en ek siet hier iet die kant v...

Continue reading ...
 

Soontjie

Posted by Paul Joubert on Tuesday, July 9, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

Soon Pieterse het ses gehad, en van hulle het vyf met oop bekke geloop. Die enigste een wat gebore in staat is en hou haar bekkie toe, was die tweede jongste mooietjie. Sy't ook later standerd ses gemaak.

Die ander vyf was so dom soos klippe en almal met dié oop bekke. Seker edenoids, sê Veldsman my, en die goed moet seker soos hamme aan die bloedjies se verhemelte sit. Maar gekyk het ek nooit, al het dit gelyk of hulle nie kon asem kry nie. Hulle was kort op mekaar, want Soon het nie gespee...


Continue reading ...
 

Die Grensverhaal

Posted by Paul Joubert on Tuesday, March 5, 2013, In : Afrikaans: Kortverhale 

"Grensverhaal"

 Ek was op die Grens (90 dae ononderbroke opleiding) toe sy tussen 18h00 en 19h00 die aand van 1 Augustus 1983 dood is. Sy was 24 jaar oud. Ek het dikwels aan mense gesê sy is "my beste vriendin."

Sy was die eerste vrou aan wie se borste ek gevat het. Ek was toe negentien. In die sowat agttien maande wat ons "uitgegaan" het, wou sy nie hê ek moes haar penetreer nie. Sy was 'n maagd toe ek in Augustus 1979 met haar "uitgemaak" het. Ek het die operasionele gebied in 1982 tydens '...


Continue reading ...
 
 
www.myvolk.co.za Logo