Casanova (vroueverleier) Genoem na Giacomo Girolamo Casanova de Seingalt (1725 - 1798), Venesiese avonturier, gigolo en skrywer, maar in tydperke in sy leeftyd ook soldaat, sekretaris, prediker, alchemis, dobbelaar, violis, loteryopsiener, spioen vir die Inkwisisie, joernalis, diplomaat, spekulant en enige beroep wat sou help om hom in die slaapkamer en onderklere van 'n dame te kry.

Sy vader wou hom graag as priester sien, maar die meetsnoere het vir hom op ander, liefliker plekke geval. Sy sug na vroue het hom skynbaar reeds op die ouderdom van 16 beetgepak. Hy is uit die seminarie geskors omdat hy kaal in sy bed betrap is. Dit was nie so 'n groot oortreding daardie tyd nie, maar ongelukkig was daar twee naakte vrouens ook in dieselfde bed.

Honderde vroue (en hier en daar ook 'n paar mans) het hom onweerstaanbaar gevind. 'n Bewys daarvan is dat sy outobiografie uit 12 dele beslaan, hoofsaaklik oor die dames wat hy ontmoet, geken en beken het. Soos een bron dit stel: Dit bevat verslae oor sy solo's, duo's en trio's met nonne, adellike dames, moeders en dogters. Hy was 'n gunstelinggas aan die hof van koning Lodewyk XV van Frankryk en ook gesog in die bed van die markiesin De Pompadour. Hy het met pouse en kardinale en beroemdes soos Mozart, Voltaire en Goethe omgegaan.

Hy as nie 'n net 'n fynproewer van vroulike vlees nie, maar ook van voedsel. Soms het hy die twee talente gekombineer. Hy vertel dat een van sy geliefdkoosde tegnieke was om die natuurlike vermeende afrodisiak, oesters, in die melkweg tussen die dame se borste te plaas en dit in situ te knabbel. Hy het voorbehoedmiddels soos kondome gebruik, maar het ook soms 'n goue balletjie diep in die "tempel van liefde" gedruk om te keer dat hy nie Europa oorbevolk nie.

Wat het hom so aantreklik gemaak? Beslis nie sy aanskyn nie: Hy het 'n skuins voorkop, 'n arendsneus, 'n swak ken, drie pokletsels en 'n bulnek gehad. Maar hy het 'n manlike vitaliteit, groot selfvertroue, uithouvermoë en toewyding getoon wat vrouens laat flou word het. Hy het ook 'n besonder eerlike oog vir vroulike skoonheid gehad - geen blinde liefde vir hom nie. Só skryf hy in sy memoirs oor een van sy verowerings, ene Esther d'O.: "'n Jong ding van veertien jaar, baie gevorderd vir haar leeftyd en 'n volmaakte skoonheid, behalwe dat haar tande onreëlmatig gerangskik is."

© Die Aap in jou Koffie
Afrikaanse Eponieme
Anton F. Prinsloo
ISBN 978-1-86919-463-5