(aantreklike pop met volwasse lyf en vervangbare klere en toebehore) Genoem na Barbara Handler, die dogter van Ruth Handler wat die pop in 1959 geskep het Sy het die sowat 28cm lange speelding die volle naam van Barbara Millicent Roberts gegee. Haar model was 'n Duitse pop, Bild Lilli, wat gebaseer was op 'n strokiesprentkarakter in die (intertyd) Wes-Duitse koerant, Bild Zeitung. Nie alle volwassenes was tevrede met die lyfie van die pop nie: Amerikaanse moeders het in 1958 in 'n voorproduksie opname hulle negatiewe mening daaroor luidkeels te kenne gegee. Mattel, Ruth se maatskappy wat die pop vervaardig het, het dié hekkie omseil deur direk op televisie te adverteer - en al die dogtertjies sodoende met die nuus bereik.
  
In 1961 het die kopers daarop aangedring dat 'n maat vir Barbie geskep moes word. Dit het tot die maagdelike geboorte van die volwasse Ken gelei (genoem na die Handlers se seun). Hoe kan 'n vrou nou skinder as sy nie 'n goeie maat het nie? Daarvoor het Midge in 1963 verskyn en later kleinsus Skipper. In 1980 het Barbie ook 'n Afro-Amerikaanse aanskyn verkry. Daar is ook altyd 'n wetenskaplike êrens wat iets sal kry om te bestudeer. In 1994 het die navorsers in Finland verklaar dat as Barbie 'n regte vrou was, sy nie genoeg liggaamsvet sou hê om te menstrueer nie. Maar met haar soort CV behoort sy haar nie daaroor te bekommer nie. Sy is vlieënier, ruimtevaarder, dokter, Olimpiese atleet en 'n kandidaat vir die Amerikaanse presidentskap.

Barbie is nie gunstig deur die Islam ontvang nie. In 1995, byvoorbeeld, het Saoedi-Arabië die verkope verbied omdat haar kleredrag nie aan die Islamitiese kode voldoen het nie. Barbie het onmiddelik haar blonde hofie met 'n hijab bedek - en kon deur Moslemdogters gekoop word. Vandag word beraam dat daar elke tweede sekonde twee Barbies êrens in die wêreld verkoop word. Met 'n kleinletter het haar naam ook sinomiem geword met 'n soort blonde meisie of vrou, maar nie heeltemal 'n prikkelpop nie.

Die Aap in jou Koffie
Anton F. Prinsloo
ISBN 978-1-86919-463-5
Protea Uitgewers