soms, sommerso
dink jy nog redes uit
waarom jou eie
drukkie-kry-dae
omarm-soentjie-dae
blommetjies in jou hare -
nie meer toepassing
op jou as individu
het nie

soms, sommerso
dink jy nog redes uit
waarom mense om jou
eerder na andere kyk
jou heeltyd ignoreer
die blom motief
op jou muurpapier
oud-modies en
argaïes is

soms, sommerso
sien ek die seer
lê diepdiep in jou oë
baie trane agter
die wimpers
van jou hartsdeure
dit uitroep in jou
body language 
smeek vir meer

soms, sommerso
word ouderdom
omskryf as relatief
nie van toepassing nie
want die fladdering
in jou sielsoorgawe
is vlindervlerk-soentjies
wat warrel rondom die
bloeisels van jou mens-wees

soms, sommerso
sien ek jy begin oplaas
weerloos te glimlag
arms uitgestrek
rondom jou suiderkruis,
aandster en môrester
wat jou glinsteringe
in silwergoud konfetti
oor almal strooi

soms, sommerso
sien ek hoe die wêreld
jou manier van weggee -
trane van genesing
in ander se oë saai
hoe almal opkyk
hulle arms om jou vou
trane kelk in jou hande
jou druk-drukkies gee

© ENRiCUS