’n Voorval uit die Sesde Kafferoorlog

In die skadu van die berge,
Bos-beskut aan alle kant,
Staan alleen die hartbeeshuisie
Op die grens van Kafferland.

Saggies neurie Amakeia
Op die wal van Kei-rivier,
Tot hy slaap, die tere wiggie
Van die blanke pionier:

“Stil maar, stil maar, stil, Babani,
Kyk hoe blink die awendster.
Niemand sal vir kindjie slaan nie –
Stil maar, al is Mammie ver.”

Amakeia had belowe
Toe haar nonna sterwend was,
Om die hulpelose kindjie
Tot hy groot was, op te pas.

Liefd’ryk sorg sy vir die wit kind,
Tot vir hom die lewenslig
Straal uit aia Amakeia’s
Vrind’lik-troue swart gesig

Onheilspellend sien sy tekens,
Oorlog kom daar in die land:
Snel die inval, huis en hawe
Uitgemoor en afgebrand.

Selfvergetend, doodveragtend,
Met die wit kind op haar rug,
Na die Amatola-berge
Het sy ylings heen gevlug.

“Stil maar, stil maar, pikanienie,
Oor die bergtop rys die maan.
Niemand sal vir ons hier sien nie;
Môre sal ons huis toe gaan.”

Ag, dat oë van verspieders
Ook haar skuilplaas moes ontdek!
“Spaar hom, hy’s so klein nog,” smeek sy
Met hande uitgestrek.

Woedend tier die wilde bende:
“Sterf of gee die wit kind hier!”
“Oor my lewelose liggaam . . .”
Antwoord Amakeia fier.

“My belofte aan my nonna –
Beste was daar ooit nog was –
Waar hy gaan, moet Amakeia
Saamgaan om hom op te pas.”

“Is jul lewend nie te skei nie,
Bly dan in dood vereen –
Kort proses met haar, ’Maxhosas,
Laat die blink asgaaie reën!”