www.myvolk.co.za

Vandag in die Geskiedenis: 20 April 1874

Jack Hindon gebore

Oliver John (Jack) Hindon is in Skotland gebore waar hy in diens van die Britse leër getree het. Hy kom op jeugdige leeftyd na Suid-Afrika om in Zoeloeland diens te doen, maar dros weens swak behandeling. Baie gou het hy hom met die boere in die ZAR vereenselwig en verkry volle burgerreg deur sy vrywillige deelname aan die veldtog teen Jameson (1895). Hy tree daarna in diens van die ZAR-polisie en neem sodoende deel aan talle veldslae tydens die Anglo-Boereoorlog. Sy onverskrokkenheid het onmiddellik opgeval en in Junie 1900 word hy lid van Danie Theron se verkennerskorps. Na sy bevordering tot hoof van sy eie Veg- en Verkennerskorps wat belas was met die ontwrigting van die vyandelike verbindingsweë, ingesluit van hul spoorweglinies, het hy en sy manskappe ’n verskrikking vir die Britte langs die Ooster-spoorlyn geword. Hulle het ook talle suksesvolle klopjagte uitgevoer op Bantoes wat Boeregesinne aangeval het.

Sy vernuf en vreeslose meelewing in die Afrikaner se stryd het aan hom ’n ereplek in die volk se heldegalery besorg. Met die aanvang van die vredeskonferensie in April 1902, het hy op advies van lede van die Regering om hom met die vyand te versoen ten einde Britse onderdane in sy korps van vervolging onthef te kry, na die Engelse oorgeloop wat aan sy eise toegee en hom bowendien ’n loon van 12 sjielings (ongeveer R1,20) per dag betaal het.

Die Boere het hy nogtans geen kwaad berokken nie. In 1970 word die beroemde Boereverkenner vereer met die instelling van die Jack Hindon-medalje vir buitengewoon ywerige en voortreflike diens in vredes- en oorlogstyd deur manskappe van kommando’s van die SA Weermag. Op die voorkant van die medalje is daar ’n reliëfafbeelding van Hindon en twee van sy makkers waar hulle die Vierkleur tydens die slag by Spioenkop hys. Op die keersy verskyn die versierde wapen van die RSA in reliëf.

Na die Anglo-Boereoorlog vestig hy hom as bou-aannemer in die VSA, maar keer later terug na die Republiek waar hy op 19 Maart 1919 in Pretoria sterf.

Posted 8 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 19 April 1876

Erich Mayer gebore

Mayer, kunsskilder en grafiese kunstenaar van formaat, is op 19 April 1876 in Karlsruhe, Duitsland, gebore. Hy kom in 1898 om gesondheidsredes na Suid-Afrika en vestig hom op Vrede in die Vrystaat. Sy verblyf tussen die Boere laat hom lewenslank besonder toegeneë teenoor hulle voel, met ’n behoefte om die Afrikaner uit te beeld.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy hom by die Duitse Korps aan en word op 21 Oktober 1899 by Elandslaagte krygsgevange geneem en na St. Helena gestuur. Ná die oorlog is hy terug na Duitsland en keer eers sowat sewe jaar later terug na Suid-Afrika. Hy skilder veral in die Vrystaat en die Transvaalse Laeveld, hoofsaaklik waterverfskilderytjies van klein formaat. Later, vanaf 1929, skilder hy ook toenemend in olieverf en maak potlood-, ink- en krytsketse.

Hy beeld veral eenvoudige tonele en gebeure in die plattelandse lewe van die eerste helfte van die 20ste eeu uit; die Suid-Afrikaanse landskap, veldlewe, kremetartbome, nagmaals- en dorpstonele, en boerekinders. Sy kunswerke is ’n waardevolle bron vir navorsers  oor die tradisionele leefwyse van die inwoners. Hy is nooit as kunstenaar besonder hoog geag nie, maar was ’n uitmuntende kopieerder van die werklikheid. Hy sterf op 10 Augustus 1960 in Pretoria.

Posted 8 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 18 April 1862

Skorsing van Stephanus Schoeman as waarnemende Staatspresident van die ZAR

Op hierdie dag het die Volksraad van die ZAR besluit om Stephanus Schoeman uit sy betrekking as waarnemende president en as kmdt.genl. en lid van die Uitvoerende Raad te skors, omdat hy aan “pligsversuim met voorbedagte rade” skuldig bevind is.

Schoeman het op 18 April die brief ongeopen aan die Volksraad teruggestuur, omdat dit nie aan hom as waarnemende staatspresident en kmdt.genl. gestuur is nie, maar slegs aan die heer Schoeman gerig is. ’n Deputasie het hom later mondeling van die besluit in kennis gestel, want die brief wou hy nie aanvaar nie.

Die Volksraad het nietemin op dieselfde dag vir WCJ van Rensburg eervol uit sy amp as waarnemende kmdt.genl. ontslaan en eenparig as waarnemende president gekies en beëdig. Uit hierdie daad het onder meer ’n ernstige burgeroorlog in Transvaal gevolg, wat in 1864 deur die toedoen van veral kmdt. SJP Kruger met geweld en die dood van talle burgers beëindig is.

Van Rensburg is in 1976 in die Heldeakker van Pretoria herbegrawe. Hy was tog in April 1863 wettig deur die volk bo MW Pretorius in die amp van staatspresident verkies.

Posted 8 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 16 April 1955

Op hierdie dag het Cornelis Christiaan Nepgen, MA, BD, DPhil, sy emeritaat as predikant van die NG Kerk na 35 diensjare aanvaar. Hy is op 7 Desember 1889 gebore en in 1919 gelegitimeer. In drie opsigte het hy ’n besondere bydrae gelewer sedert hy in April 1920 as hulpprediker op Umtata begin werk het.

Hy het naamlik die Afrikaners van die Transkeise geweste begin besoek; mense wat deur jare reeds afgesonder van ander blankes gewoon het, tussen die klowe moeilik bereikbaar was en wat die omringende heidendom nie telkens meer so volledig raakgesien het vir wat dit behels nie. Geestelik moes hulle opgehef word en sekere bepaalde waardes weer vir hulle onderstreep word.

Tweedens het hy op 27 Oktober 1924 ’n voorstel voor die Sinode van die Kaapse NG Kerk laat dien, waarin hy om georganiseerde sendingwerk in die Transkeise streke gepleit het. Die versoek is opgevolg en deurgevoer, waarna in 1925 met ’n deeglike sendingaksie aldaar begin is; ’n taak wat tot vandag toe uitgebreid voortgesit word deurdat onder meer Afrikanerstudente in die gebied die Woord verkondig en fisieke arbeid soos kerkbou behartig. Ten derde het dr. Nepgen se besondere navorsingswerk Die sosiale gewete van die Afrikaanssprekendes in 1938 verskyn.

Dit is ’n boek wat gereeld as studiebron gebruik en aangehaal is, omdat veel van die Afrikaner se karaktereienskappe daarin aangeteken en ontleed word.

Posted 8 weeks ago
<p>Die wiel (S.A.) het tot stilstand gekom. <br/></p>

Die wiel (S.A.) het tot stilstand gekom.

Posted 8 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 15 April 1889

Jozua Francois Naudé is op Middelburg, Kaap, gebore. Hy vestig hom in 1910 as prokureur op Pietersburg. Hy protesteer teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog en bring drie maande in die Booysens-interneringskamp deur.

Hy was lid van Pietersburg se stadsraad (1915–1920), LV vir Pietersburg (1920–1961), lid van parlementêre komitees, sweep van die NP, hoofsweep van die VP (van 1933–1939) hoofsweep van die NP na 1939, en Speaker van die Volksraad vanaf 1948. Vanaf 1950 tot 1961 was hy Minister onder dr. Malan, adv. Strijdom en dr. Verwoerd, nl. van Pos- en Telegraafwese (1950–1954), Gesondheid (1954–1956), Finansies (1956–1968), en Binnelandse Sake (1958–1961).

Hy was die eerste President van die Senaat van die Republiek in 1961, en Waarnemende Staatspresident (1967–1968). Hy is op 31 Mei 1969 in Kaapstad oorlede en is op Pietersburg begrawe. Hy was drie keer getroud en het vyf kinders gehad. Tom Naudé was ’n groot kenner van parlementêre prosedure, ’n doelgerigte Afrikaner, wat sy werk met toewyding gedoen het, en ’n waardige man met ’n wonderlike sin vir humor.

Posted 8 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 14 April 1838

Doornkop, geleë in die nabyheid van die huidige Chievely, het ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Trekkers in Natal gespeel. Dit was die plek waar die Trekkers vir die eerste keer werklik verenig het. Na die moord op Retief en sy kommando en die daaropvolgende slagting onder die Trekkers, het Gert Maritz die klein laertjies, wat oor ’n groot gebied versprei was, en ook sy eie laer, na Doornkop, die staanplek van die hooflaer van Piet Retief, verskuif.

Piet Uys en Hendrik Potgieter het hulle kort daarna, op versoek van Maritz by die res van die Trekkers kom voeg. Die Trekkers was dus in hierdie stadium in drie laers by Doornkop georganiseer, te wete dié van Maritz, Retief en Piet Uys. Potgieter se kommando het in twee groepe verdeel en by die laers van Maritz en Retief onderskeidelik ingeskakel.

Die Voortrekkers in Natal was nou werklik eendragtig bymekaar. Die sending van Uys en Potgieter teen Dingaan, wat op ’n nederlaag by Italaberg uitgeloop het, het die Trekkers weer tot vertwyfeling en moedeloosheid gestem. Dit was hier waar die vroue van tou opgooi en terugkeer na die Kaapkolonie niks wou weet nie, en Maritz vasgestaan het deur bewuste steun by individuele persone en klein groepies Trekkers verder agtertoe te soek.

Weens die gevaarlike toestand wat nou vir die Voortrekkers ontstaan het, het daar op 14 April 1838 ’n verdere mate van vereniging plaasgevind toe al die Trekkers in net twee laers verenig het, nl. dié van Maritz en Modderlaer. Enkele weke, voordat omstandighede die Trekkers weer uitmekaar laat gaan het, het die twee laers aan die bo-loop van die Bloukransrivier in die buurt van Doornkop bly staan.

So verenig was hulle waarskynlik nooit vóór dié tyd en ook nooit weer daarná nie.

Posted 8 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 13 April 1688

Vir die klein Kaapse nedersetting was die jaar 1688 van groot betekenis. Met die koms van die Franse vlugtelinge is die geledere van die koloniste versterk en het die Calvinistiese godsdiens ’n verdere versterking en stukrag ondergaan.

Die Hugenote het hulle vaderland in 1685 verlaat nadat die Edik van Nantes herroep is en hulle aan meedoënlose vervolging, vernietiging van hul kerke ens. blootgestel was. Die bewindhebbers van die VOC het van die geleentheid gebruik gemaak om ’n aantal van hierdie Protestantse vlugtelinge na die yl bewoonde Kaapkolonie te stuur.

As vlugtelinge was die Hugenote vanselfsprekend brandarm, en slegs deur geloof, deursettingsvermoë en onvermoeide ywer het hulle die eerste moeilike jare oorleef. In die vallei van die Bergrivier het hulle hul gevestig, veral in die boloop van die rivier, in die “Fransche Hoek”.

Die Hugenote was soos die Hollandse koloniste Calviniste, maar in sterker graad. Frankryk was immers die land van oorsprong van die Calvinisme, waarvoor die Hugenote bereid was om soveel op te offer. Waar die Calvinisme in Nederland ’n onskatbare aandeel gehad het in die geloofskrag, moed, vertroue en standvastigheid van sy mense, het die Hugenote hierdie eienskappe aan die Kaap onteenseglik versterk.

Die godsvertroue in ’n almagtige en liefdevolle Vader, wat ’n wesenskenmerk van die Afrikaner se geloof vorm, het dus hier sy beslag gekry.

Posted 8 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 12 April 1877

Die meeste Transvaalse Afrikaners het die anneksasie as ’n onregverdige daad beskou, maar was om verskeie redes nie by magte om dit gewapenderwys teen te gaan nie. Gevolglik het die regering van die Republiek skriftelik teen die anneksasie geprotesteer en ’n afvaardiging in hierdie verband na Londen gestuur.

In afwagting van die uitslag het die burgers hulle rustig gedra. So het ’n wanindruk ontstaan dat die Transvalers in die anneksasie berus het. Dit het bygedra tot die besluit van die Britse regering om die ware begeerte van die Transvalers te verontagsaam. Hierdie begeerte is beliggaam in ’n memorie aan die Britse koningin, waarin uit ’n moontlike 8000 burgers 6591 hulle teen en 587 hulle ten gunste van Britse gesag uitgespreek het.

Ofskoon sommige burgers na die wapen wou gryp, het die leiers daarop aangedring dat in ooreenstemming met die protes eers alle vreedsame metodes aangewend moet word om die vryheid te herwin. Nog ’n deputasie na Londen, onderhandelings met verskeie Britse amptenare in Suid-Afrika en ’n beroep op premier Gladstone was egter tevergeefs. Intussen het die volksbyeenkomste wat gehou is om sake te bespreek, ’n innige saamhorigheidsgevoel en ’n vurige nasionalisme opgewek wat dwarsdeur Suid-Afrika weerklank gevind het.

Indien daar enige hoop was om die Transvalers met Britse gesag te versoen, is dit verydel deur swak administrasie. Uiteindelik het die burgers op 13 Desember 1880 hulle eie regering op Paardekraal herstel. Van Britse kant is dit nie erken nie, en die Transvaalse Vryheidsoorlog van 1880–1881 het gevolg. Die anneksasie en wat daarop gevolg het, het meer as enigiets anders daartoe bygedra om Afrikanernasionalisme in SA te stimuleer.

Posted 8 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 11 April 1838

Dirk Cornelis Uys, wat op 3 Maart 1823 op Pollenberg gebore is, was die tweede oudste seun van die Voortrekkerleier Piet Uys. Toe hy oorlede is, was hy 15 jaar oud. Na die moord op Retief en sy mense en die Zoeloe-aanval op die Voortrekkers tien, elf dae later, het die Voortrekkers besluit om Dingaan te gaan straf en hulle beeste terug te vat.

Op 7 April 1838 het ’n perdekommando onder twee kommandante, Piet Uys en Hendrik Potgieter, uitgetrek. Dirkie het saamgegaan. Die elfde het hulle in die omgewing van die Italaberg by Italeni met die Zoeloe-impi slaags geraak. Uys se afdeling het die Zoeloes wat teen die hange van die berg was, aangeval. Hulle het spoedig die Zoeloes uitmekaar gedryf en hulle toe in groepies agtervolg. In die proses is sommige van Uys se mense afgesny en deur Zoeloes omsingel.

Piet en Dirkie het juis sulke mense gaan help toe ’n assegaai Piet getref en hom swaar gewond het. Die wond het baie gebloei, maar hy het darem op sy perd aangesukkel. Hy het ’n paar keer flou geword. Toe hy nie verder kon nie, het hy die mense wat by hom was, aangeraai om vir hulle veiligheid te vlug.

Almal het weggejaag, behalwe die jongeling Dirkie Uys wat omgedraai het aangesien hy nie kon toesien dat sy vader met assegaaie deurboor word nie. Dirkie het by sy vader gebly en hom verdedig. Nadat Dirkie drie krygers doodgeskiet het, is hy by sy vader se lyk oorval en deur ’n assegaai getref.

Posted 8 weeks ago

Albatros

Posted by Paul Joubert on Tuesday, December 8, 2015 Under: Woord van die Week
Die albatros vlieg ook al eeue lank met 'n slegte reputasie rond. Om 'n albatros om jou nek te hê, beteken om skuld te dra vir iets wat jy verkeerd gedoen het. Die albatros is 'n merkwaardige voël - sy vlerkspan is 3 tot 4 meter en hy kan maklik 'n halfuur lank in die lug sweef sonder om sy vlerke te klap. 

Daar word selfs gesê dat hulle in 80 dae om die wêreld kan vlieg. Die ou matrose het geglo dat hulle die siele van afgestorwe seevaarders in hulle gedra het, en daarom was dit ongelukkig om een dood te maak.

In die bekende Engelse gedig van Coleridge oor die ancient mariner word die albatros gehang om die nek van die matroos wat hom doodgemaak het, om hom met sy skuld te laat saamleef. 

Feite, Flaters, Fiksie
'n Opgaaf van die ware, die onware en die onwaarskynlike
Anton F. Prinsloo
ISBN0-7981-4214-6

In : Woord van die Week 


Tags: albatros  coleridge ancient mariner  feite flaters fiksie  anton f. prinsloo 
www.myvolk.co.za Logo