Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek beskryf Erfenis as 'n nalatenskap. Wat is in ons murg en been wat ons van vorige geslagte geêrf het. Wat van ons Afrikaner ouers, groot ouers en groot groot ouers van geslag na geslag oorgedra is. Geleef is. Gepraat is. Gespeel is. Gehuil is? 

Maar 'n nalatenskap is nie net wat uit die verlede saam met ons lewe nie. Dit is ook wat ons saam met ons kinders se kinders, tot in die derde en vierde geslag (soos die Bybel sê) stuur sodat dit kan voortleef - "die pand van ons erf'nis geslag op geslag" - soos dit in ons Vlaglied verewig is. Twee honderd jaar gelede was dit baie makliker om jou Erfenis te laat voortleef. Selfs 50 jaar gelede was dit veel makliker. Vandag - met die Afrikaner ingeborduur in 'n globale dorpie - is dit 'n baie ingewikkelde proses. 

Wat plaas ons eerste. Is jy Afrikaan, is jy Afrikaner, is jy Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner? Is ons Erfenis eksklusief vir die Afrikaner, of het ons 'n nuwe strategie nodig vir die 21ste eeu? Volgens (Mieliestronk Webblad) is tradisies en rituele deel van ons lewende erfenis. "Tradisies en rituele is deel van die lewende erfenis. Volgens UNESCO, die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie, manifesteer die lewende erfenis hom in onder meer mondelinge tradisies en uitinge, asook in maatskaplike praktyke en rituele. Ook in taal, musiek en drama en ander uitvoerende kunste. en in tradisionele kunsvlyt en in die kennis en praktyke aangaande die natuur en die heelal. Dat monumente sowel as tradisies met Erfenis te make het, lê dus voor diehand, maar waar 'n monument huldig iets uit die verlede, terwyl 'n tradisie iets uit die verlede voortsit. Daar is 'n duidelike onderskeid."

Suid-Afrika vier sy Erfenis op 24 September 2013. Met die oorgang na die 'nuwe' Suid-Afrika het die kabinet besluit dat daar 'n dag moet wees waarop Suid-Afrikaners, van watter bevolkingsgroepe ook al, hulle eie erfenis moet gedenk. Dit het beteken dat niemand moes vergeet wie en wat hy is en waar hy vandaan kom nie. Elkeen moes op dié dag sy eie kultuur, geskiedenis en kultuurgeskiedenis in ere hou. Dit word Erfenisdag genoem. Die Erfenisstigting is in 2002 gestig om te help omsien na bedreigde erfenisgoedere, veral dié wat vir die Afrikaanssprekende gedeelte van die bevolking van betekenis is. Die Erfenisstigting poog om na alle sodanige bedreigde terreine om te sien, asook na ander erfenisgoedere, soos standbeelde en kunswerke, wat bewaringswaardig geag word en nie meer elders in die land welkom is nie, of in gevaar staan om gesteel of gevandaliseer te word. Die Erfenisstigting beheer, en besit in die meeste gevalle, reeds verskeie afgeleë erfenisterreine landswyd, insluitende die Danie Theron Gedenksuil te Gatsrand (Gauteng), die konsentrasiekampebegraafplase te Mafikeng (Noord Wes Provinsie), Bloukrans (Kwa-Zulu Natal), Doornbult-kampe by die Oranjerivierstasie (Noord-Kaap) en die Louis Trichardt Gedenktuin in Maputo.  

Die HAT definieer Erfenis as volg: "eienskappe van 'n vorige geslag of tyd op 'n latere oorgedra." Is Erfenis die spieël van 'n nasie? Hoe sal jy die Afrikaner Erfenis opsom in vyf afsonderlike woorde? "Godsdiens. Taal.  Verantwoordelikheidsbesef. Kultuur. Trots." Dan Plato, Burgermeester van Kaapstad beskryf Erfenis soos volg: " Ons lewende erfenis bestaan uit al die voorwerpe en praktyke wat gemeenskappe en groepe as deel van hul kulturele erfenis beskou, en wat van generasie tot generasie oorgedra word. Dit wissel van mondelinge tradisies en geskiedenis, tot rituele en inheemse kennisstelsels wat bewaar is, of wat oor tyd nuwe dimensies tot ons lewende erfenis gevoeg het deur middel van die voortdurende interaksie tussen verskeie wêreldgemeenskappe wat oorspronklik in tyd en ruimte geskei was."Lewende erfenis, nes enige ander menslike aktiwiteit, stam van toeka se dae af. Lewende erfenis is die ervaringe wat verskeie gemeenskappe beleef het. Dit is die geheel van ons gedeelde ervaringe wat ons die SuidAfrika maak wat ons vandag is." 

Die voormalige redakteur van Beeld, Tim du Plessis, skryf vroeër vanjaar in sy weeklikse rubriek: "In 'n politiek / kulturele konteks is ek: Suid-Afrikaner, Afrikaner, Afrikaanse (daar is nogal 'n verskil) en Afrikaan. In daardie volgorde. Dié rangskikking het te doen met waarde. Suid-Afrikanerskap is die kosbaarste, die een waarop ek die trotsste is. Die term Suid-Afrikaner is 'n suiwer staatkundige begrip en kan nie verwar word met 'n kultuurbegrip nie. Daar bestaan nie iets soos 'n Suid-Afrikaanse kultuur nie, maar wel 'n nasionaliteit. Dit word gedemonstreer in die sin dat daar nie 'n Suid-Afrikaanse taal is, of homogene kulturele gebruike nie. Nog minder is ons gesamentlik gevorm deur historiese kragte. Wanneer Suid-Afrika egter op die sportveld optree of ons bevind onsself tussen mense van ander lande is ons Suid-Afrikaners. Dit is ons patriotisme en dit is ons lojaliteit. Uit 'n staatkundige begrip is ek eerstens 'n Suid-Afrikaner en sal my Suid-Afrikaanse vlag met trots vertoon. Ek is dus vanuit 'n nasionaliteitskonteks 'n Suid-Afrikaner. Dit onderskei my van ander nasionaliteite."

Professor Marinus Wiechers skryf: "Die term Afrikaner verwys egter na kulturele identiteit. Kulturele identiteit verwys na die gebruikstaal, 'n gedeelde historiese herkoms, vaste kulturele gebruike, en vele meer.  Die individu is die belangrikste kultuurdraer, maar kultuur kry eers volledige lewenskrag en bekendheid as dit deur 'n groep mense ervaar en bewaar word, met ander woorde, binne 'n besondere kultuurgemeenskap beleef word. So 'n kultuurgemeenskap word deur verskillende faktore geken, gewoonlik deur 'n gemeenskaplike taal, godsdiens en geskiedenis. 

Anoniem skryf op Maroela media: "ek weet nie waarom ek die benoudheid van Suid-Afrikanerskap behoort te aanvaar nie. Afrikanerskap gee vir my toegang tot hedendaagse wyd-uiteenlopende landskappe soos Namibië, Nieu-Zeeland, Australië en histories tot plekke soos Nederland, Frankryk en Duitsland. Waarom wil jy jouself ondergeskik stel aan 'n geografiese orde (soos Suid-Afrika) wat niks in ruil bied nie? Leef jouself eerder uit as Afrikaner en geniet die verskeidenheid en vryheid wat dit meebring, eerder as die onderdrukkende een-dimensionele geskiedskrywing van die ANC se Suid-Afrika."

Advokaat Jacques du Preez, namens die F.W. de Klerk Stigting: "Ons land is geseën met talle minerale en landbouhulpbronne, wat ons een van Afrika se ekonomiese dryfkragte maak. Ons is ook bedeeld met natuurwonders, sowel as oorvloedryke verskeidenheid diere en plante, wat Suid-Afrika 'n toeristebestemming van formaat maak. Dit vorm als deel van Suid-Afrika se merkwaardige ryk en diverse natuurlike erfenis. Die belangrikste aspek van ons erfenis is egter die ryk kulturele, taalkundige en historiese diversiteit van ons mense. Dit sluit die erfenis van al ons mense in - met inbegrip van Suid-Afrika se eerste volke - die Khoikhoi, die Nama, en San; ons eerste Afrika Volke - die Zoeloes, Xhosa, Ndebeles en Swazis, die Tswana, die Pedi en Suid-Sotho, en die Tsonga en Venda; wit Suid-Afrikaners wat afstam van Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse Setlaars; en Asiërs wat uit die Nederlandse Oos-Indië hier aangekom het in die 17de en 18de eeu, en uit Indië in die 19de eeu. Ons Erfenis sluit ook eeue van konflik en verdeeldheid in. 'n Mens dink in besonder aan die Grensoorloë van die 19de eeu, die veldslae van Bloedrivier, Isandlwana en Rorke's Drift, asook die Anglo-boereoorlog. Suid-Afrika se trotse mililtêre erfenis sluit ook deelname aan die Eerste en Tweede Wêreldoorloë, Korea en die militêre konflikte van die 1970's en 1980's in. Ons erfenis is ook verryk deur ons mense se prestasies. Dit sluit die lang lys van helde in; soos Shaka, Paul Kruger, Jan Smuts en Nelson Mandela; groot sportmanne en -vroue, soos Gary Player, Graham Pollock en Josiah Thugwane; mense wat ons inspireer, soos Nkosi Johnson, Oscar Pistorius en Natalie du Toit. Dit sluit ook Christiaan Barnard en innoveerders van die internet in, soos Mark Shuttleworth en Elon Musk.

Suid-Afrika se erfenis is onuitwisbaar gemerk deur die ongeregtighede van en die stryd teen Apartheid. Dit sluit egter ook die enorme prestasie in wat ons tussen 1990 en 1994 behaal het, naamlik om eeue van verdeeldheid en bitterheid te oorkom, deur die stigting van ons nuwe nie-rassige grondwetlike demokrasie. Die Grondwet moet nou inderdaad gesien word as die sentrale element in ons nasionale erfenis. Die viering van ons erfenis moet maatskaplike samehorigheid, nasiebou, ekonomiese ontwikkeling en inklusiewe burgerskap bevorder. Ons moet kennis neem van die Grondwet wanneer dit verklaar dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon en dat ons verenig is in ons diversiteit, waar elke burger op gelyke wyse deur die reg beskerm word. Ons moet veral die bepalings van ons Grondwet eerbiedig wat ons ryk taalkundige en kulturele erfenis beskerm. Volgens die Grondwet is die erfenis van alle Suid-Afrikaners belangrik. Die erfenis an een groep is nie belangriker as dié van 'n ander nie. Die erfenis van enige van ons bevolkingsgroepe behoort aan alle Suid-Afrikaners. Ons benadering tot ons nasionale erfenis moet een van inklusiwiteit, begrip, die bou van verhoudings en omgee wees. As 'n nasie moet ons gedurende Erfenismaand en op Erfenisdag die gemeenskaplike stories van al ons gemeenskappe vier. Ons moet nie slegs stories vertel van Gquma en die Abelungu, Saartjie Baartman, Koning Shaka, Koningin Modjadji en die toorn van Mantatisi nie, maar ook van Paul Kruger, die HMS Birkenhead, Racheltjie de Beer en Wolraad Woltemade. Ons moet almal trots wees op mense soos die Tweede Wêreldoorlog-soldaat Job Masego van die 2de Suid-Afrikaanse Afdeling in Oos-Afrika, en die pionier James Chapman. 

Ongelukkig word hierdie inklusiwiteit al hoe minder weerspieël in die amptelike verklarings en optrede deur die regering oor die beskerming en bevordering van ons nasionale. In sy verklaring oor Erfenismaand het Paul Matashile, Minister van Kuns en Kultuur, gesê die tema vir 2012 "die viering van die helde en heldinne in die vryheidstryd in Suid-Afrika" is. Dit is heel gepas om dit te doen - maar nie op so 'n wyse dat diegene wat nie deelgeneem het aan die vryheidstryd uitgesluit sal voel van nasionale erfenisvieringe nie. POPCRU het onlangs tydens die Cosatu-konferensie voorstelle ingedien dat die Afrikaanse en Engelse frases uit die volkslied weggelaat moet word omdat "Die Stem strydig is met Nkosi Sikelel' iAfrika en met wat dit beteken om Afrikane te wees. Gelukkig is die voorstel nie aanvaar nie. Sulke houdings ondermyn die gees van nasionale eenheid wat ons veronderstel is om te vier op Erfenisdag. 

Suid-Afrikaanse skrywer Herman Charles Bosman het dit mooi gestel: "Cleopatra was an African. The strategist of Cannae who employed the flank attack and pincers movement and broke a Roman army, was an African. As South Africans, such thoughts would move us. And if we accept Piet Retief as a national hero, a true sense of South African patriotism would not allow us to exclude Dingaan." 

As Suid-Afrikaners het ons baie in ons gemeenskaplike erfenis om op trots te wees. As 'n nasie moet ons 'n geweldige en intieme gevoel van trots hê op al die prestasies en gebeure met betrekking tot al ons mense, wat gesamentlik deel uit maak van ons trotse erfenis."

Ons het nie staat gemaak op die regering van die dag - na die Anglo-Boere Oorlog of die 1914 rebellie - om ons Erfenis of kultuur behoue te laat bly nie. Die Helpmekaar Fonds, kultuurorganisasies soos die FAK (1929), ATKV (1931) en die Voortrekkers (1931) is gestig. Gebore uit Trots. Verantwoordelikheidsbesef, roeping en diensbaarheid. Juanita Du Preez, vir Solidariteit, som dit perfek op: " Uit die vryheid-van-eie-besluit het 'n Afrikaanse Bybel (1922), 'n Afrikaanse Radiostasie (1937), 'n Afrikaanse liedereskat in 'n FAK Sangbundel (1936), asook 'n magdom van Afrikaanse tydskrifte, gedigte en boeke gevloei, in die woorde van wyle professor Elize Botha "tot heil van miljoene". Onderliggend aan die vryheid-van-eie-besluit lê die historiese Afrikanerwaardes van geloof, roeping, verantwoordelikheidsbesef, selfhelp, diensbaarheid en trots". 

Paul Joubert