'n Feit soos 'n Koei! (deur Leipold Scholtz) 26 Desember 2012

Wanneer daar oor die voortbestaan van Afrikaans gepraat word, is dit ook goed om na Internasionale voorbeelde te kyk. Leipold Scholtz het 'n konferensie oor minderhede in Den Haag bygewoon en doen verslag oor 'n paar opmerklike gevolgtrekkings. Suid-Afrikaners is, moontlike weens hul geografiese en geestelike afgesonderdheid, maklik geneig om hul eie probleme as uniek te sien. Wat dit nie is nie. Neem nou maar die posisie van Afrikaans as minderheidstaal. 

In die Europese Unie (EU) word meer as 60 minderheidstale gepraat, het Derk Jan Eppink, lid van die Europese Parlement, vroeër vandeesmaand op 'n minderhede-konferensie van AfriForum in Den Haag vertel. Sommige van hulle vaar taamlik goed; ander is op die punt van uitsterwe en het reeds die kritieke punt verbygesteek waar dit nie meer gered kan word nie. Jan Diederichsen, direkteur van die Federale Unie van Europese Nasies - 'n akademiese instituut wat hom met die studie van Europese minderhede besig hou - het navorsing aangehaal wat wys 'n taal het minsters 300 000 moedertaalsprekers nodig om duursaam te kan oorleef. Hy het gesê oorlewing van 'n taal word bepaal deur die wil van die sprekers om dit te laat oorleef, maar staatsteun is ook belangrik.

By baie van die tale wat aan die kwyn is, speel die gebrek aan politieke wil van die betrokke staat 'n belangrike rol, al is ander faktore ook betrokke. Prof. Margarethe Pedersen, taalsosioloog aan die Suid-Deense Universiteit, het besonder interessante insigte aangebied. Sy het 'n onderskeid getref tussen die posisie van Deens as minderheidstaal in die uiterste noorde van Duitsland en die posisie van Duits as minderheidstaal in Suid-Denemarke enersyds, en die posisie van Noord-Fries aan die Deense weskus andersyds. 

In die Deense provinsie Suid-Jutland word Duits deur sowat 20 000 mense gepraat (Diederichsen is, interessant genoeg, een van hulle). Omgekeerd is Deens die moerdetaal van sowat 50 000 mense in die Duitse deelstaat Sleeswyk-Holstein. In albei gevalle geniet dié minderheidstale amptelike beskerming. Sowel Duitsland as Denemarke gee die minderhede die reg om modertaalonderwys te geniet en selfs hul eie verteenwoordigers in die parlement te kies. Dit is vasgelê in 'n verdrag wat van 1955 dateer. Dit gaan relatief goed met die twee minderhede, al is albei piepklein. 

Daar is 'n goeie rede voor: Die kulturele oorlewing van die Deense Duitsprekendes word politiek en dikwels ook geldelik gesteun deur die Duitse owerheid in Berlyn, en dié van die Duitse Deenssprekendes deur Kopenhagen. Dié gevolgtrekking is deels bevestig deur prof. Reinier Salverda, direkteur van die Fryske Akademy, die Friese ekwivalent van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Salverda het vertel dat Fries in die 20ste eeu 'n geweldige oplewing ondergaan het en dat hy van 'n kombuistaal tot volwaardige akademiese en kultuurtaal ontwikkel het. (Terloops, dikwels word gesê net vier tale in die 20ste eeu dié proses deurgemaak het, te wete Hebreeus, Hindi, Maleis en Afrikaans. Dit lyk of Fries ook tot dié uitgelse groep tale behoort.

Volgens Salverda het opgevoede Friese in vroeër jare op hul eie taal neergekyk. Dis beskou as die taal van die laer stande, 'n taal van arbeiders en plaaswerkers wat nie by die beskaafde Hooghollands kon kers vashou nie.  Dit was byna asof 'n mens na 'n lesing oor die taalpolitieke ontwikkeling van Afrikaans in die 19de en vroeë 20ste eeu geluister het. Deesdae debatteer die Friese steeds kwaai oor die wenslikheid om hul taal te beskerm, maar op voetsoolvlak lyk dit asof dié besluit reeds geneem is. Onder jongmense, selfs onder nie-Friese Nederlandssprekendes, neem die gebruik van die taal sterk toe. In Friesland geniet Fries amptelike status. Daar is skole waar Fries naas Nederlands (en soms Engels) as onderrigtaal gebruik word, sommige koerante het bladsye in Fries, en daar is 'n Friese TV- en radiostasie. In die Nederlandse parlement is onlangs 'n wetsontwerp ter tafel gelê om die posisie van Fries behoorlik vas te lê. Dat dit ook anders kan verloop, het Pedersen geskets aan die hand van die posisie van die Noord-Friese dialekte, wat tans deur tussen 8 000 en 10 000 mense op die weskus van die Deense skiereiland en 'n paar eilande in die Noordsee gepraat word.

Wat die posisie van Noord-Fries bemoeilik, is die klein getal sprekers, maar ook die feit dat dit eintlik uit nege verskillende dialekte bestaan wat dikwels onderling moeilik verstaanbaar is. Die belangrikste faktor is egter dat geen owerheid meer doen as om lippediens aan die beskerming van dié dialekte te bied nie; hull word eintlik aan hulself oorgelaat. En dus is Noord-Fries aan die sterf. By sommige van die dialekte sal die laaste spreker binne twee of drie dekades sterf, want taaloordrag aan jonges vind nie meer plaas nie. By ander kan dit langer duur. Maar wat vasstaan, is dat die einde van lewende Noord-Fries in sig is. Tans skarrel taalgeleerdes om onderhoude met sprekers op te neem en woordeboeke op te stel sodat die dialekte se lyke ten minste vir verdere studie bewaar kan bly. Pedersen se gevolgtrekking; Staatsteun is van groot belang vir minderheidstale. Dis 'n gevolgtrekking wat deur Salverda se lesing bevestig word.  

Wat sê dit alles vir Afrikaans? 

Ten eerste,  dat Afrikaans nie maklik gaan sterwe nie. Met 6,9 miljoen sprekers, soos in die jongste sensus bevind is, gaan die taal nog lank met ons wees. Ook is dit 'n feit soos 'n koei dat die taal op kulturele vlak 'n ongekende bloeitydperk beleef. Afrikaanse boeke, toneelstukke, musiek - dit alles het die laaste dekade of anderhalf opgeleef deurdat die stywe borsrok van die vorige bedeling afgewerp is. Maar van owerheidsweë het die steun opgedroog. Sterker nog, by 'n beduidende deel van die regerende ANC is daar 'n aktiewe vyandigheid teenoor Afrikaans. Die amptelike ideologie is dat Afrikaans net in die geselskap van die ander tien amptelike tale hulp kan verwag.  Maar die meeste sprekers van die nege swart tale het helaas min behoefte aan steun en dus kry Afrikaans dit ook nie En intussen word Engels skaamteloos voorgetrek. Afrikaans is weliswaar sterk genoeg om dit te oorwin. 

Die probleem is dat die ANC se eerbiedige aanbidding van Engels oorgespoel het na die ekonomie en selfs die onderwys, waar Afrikaans se posisie die kreeftegang gaan. En waar selfs prominente Afrikaanssprekendes die proses - soos op Stellenbosch - afktief aanhelp.

Voorlopig moet Afrikaans nie op owerheidsteun reken nie. As die taal wil oorleef, sal sy sprekers hom self moet red.