www.myvolk.co.za

Vandag in die Geskiedenis: 18 Mei 1964

Harm Oost oorlede

Harm Oost was een van die kleurrykste persoonlikhede in die wordingsgeskiedenis van die Afrikanervolk. Hy is in 1877 in Oostwald, Groningen, Nederland gebore. 

In die laat negentigerjare het hy na Suid-Afrika geëmigreer, hom in Transvaal gevestig en hom dadelik met die Boerevolk en sy Republikeinse staatsvorm vereenselwig. In die Anglo-Boereoorlog is hy gevange geneem nadat hy gehelp het om die Modderrivier-brug op te blaas – ’n daad wat hom amper voor die vuurpeloton laat beland het.

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 17 Mei 1900

Mafeking ontset

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was daar reeds ’n klein Britse mag onder kol. RS Baden-Powell op Mafeking. Die Transvaalse kommando’s wat aan die wesfront sou opereer, het onder bevel van genl. PA Cronjé gestaan. Hoewel dit vir Cronjé betreklik maklik sou gewees het om die klein Britse mag op Mafeking met ’n stormaanval te verower, het hy besluit om die dorp te beleër. Dit was geen wyse besluit nie, want daardeur het ’n groot aantal burgers op nuttelose wyse rondom Mafeking gelê, terwyl Baden-Powell vasbeslote was om nie te kapituleer nie. 

Teen die einde van November 1899 het Cronjé met ’n groot aantal burgers na Modderrivier vertrek en die beleg van Mafeking aan genl. JP Snyman oorgelaat. Die eerste aanval op die dorp het eers in April 1900 onder aanvoering van vk. Sarel Eloff plaasgevind, maar was onsuksesvol. Op hierdie dag is die beleg opgehef omdat ’n Britse versterkingsmag uit die suide opgedaag het. Vir Brittanje was dit ’n morele oorwinning.

Posted 2 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 16 Mei 1842

Melt Brink gebore

Melt Jacobus Brink is in Kaapstad gebore en sterf daar op 3 September 1925. Hierdie gewilde Afrikaanse Vader Cats, wat ’n kultuurfaktor van groot betekenis in sy eie tyd was en ’n skakel vorm tussen die Hooghollands waaruit hy spruit en die Afrikaans waartoe hy geleidelik oorgaan, se letterkundige werksaamhede bestaan uit ’n groot aantal toneelstukke en digbundels, waaronder sewe bundels Grappige stories en ander Versies (1893 tot 1909), Reis naar Kaapstad van Oom Gijsbert van Graan (1904), Die storie van Klaas Windvoël, Die ou Hotnot (1910) en drie bundels Nationale en Afrikaanse gedigte in Kaaps-Hollands (1916 tot 1920).

Posted 2 weeks ago

Slaaptyd Stories: Mabel help haar Pappie

Pappie was onder in die tuin besig om ertjies te plant. Hy het die rye sorgvuldig gemaak, sodat die ertjies in mooi, reguit rye kon staan.

Mabel het gestaan en kyk wat haar Pappie doen, en toe het sy besluit om ook ertjies te plan. Sy het haar grafie gevat en ‘n gat in die grond gegrawe. Daarna het sy na haar Pappie gegaan en gesê: “Pappie, gee my asseblief ook ertjies om te plant.”

Haar Pappie het toe van die saad vir haar gegee, en Mabel het hulle in die groot gat gegooi wat sy gegrawe het, en toe het sy hulle met die grond teogegooi. Pappie het omgekyk om te sien wat sy maak, en hy het gesê; “Nee, kindjie, jy het daardie ertjies te diep geplant; hulle sal nooit kan opkom nie.”

“Hulle sal opkom,” het sy gesê, “maar ek sal nog meer plant vir geval hulle miskien nie opkom nie.” Maar haar Pappie het toe reeds al sy saad geplant, en Mabel was baie teleurgestel. En hoe dink julle wat het sy toe gedoen? Julle sal nooit raai nie.

Wel, toe haar Pappie nie gekyk het nie, het sy gegaan na die ry wat hy klaar geplant het, en van die ertjies uitgegrawe. Op daardie oomblik het Pappie omgekyk en gesê; “Jou stoute kind! Wat maak jy daar?”

“Ek haal die ertjies uit,” het Mabel gesê, “want ek het nie genoeg gehad nie.”

“Wil jy nou meer!” het Pappie gesê. “Sal sy nie mooi my ertjies gaan opgrawe nie. Jy is baie stout, Mabel.”

“Maar hulle sal hier net so goed groei as daar,” het Mabel gesê, terwyl sy nog 'n diep gat grawe en die ertjies  wat sy uit haar Pappie se ry gegrawe het, daarin gooi.

“O nee, hulle sal nie,” het Pappie gesê. “Jy moet noit weer goed neem wat nie aan jou behoort nie. As jy die saad laat staan het waar hulle was, sou hulle baie mooi gegroei het, maar nou sal hulle nie groei nie.”

'n Paar weke later was Mabel en haar Pappie weer in die tuin. “Wat 'n mooi ry ertjies,” het Mabel gesê. “Ja”, maar dit is bederf deur daardie gaping, is dit nie?“

"Ja,” het Mabel gesê, “is dit waar ek die saad uitgegrawe het?”

“Dit is”, het Pappie gesê, “en waar is daardie ertjies nou?”

“Ek kan hulle nêrens sien nie,” het Mabel gesê. “Nee,” het Pappie gesê, “en jy sal hulle ook nooit sien nie. 'n Mens win nooit iets as jy stout is nie. Ek dink het het onder toe gegroei.”

En hulle het ook.

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell

Posted 2 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 14 Mei 1965

Kootjie van den Heever oorlede

Abraham Jacobus van den Heever, jonger broer van CM van den Heever, is op 16 November 1906 op Poortjie, Trompsburg, gebore. Hy matrikuleer op Reddersburg, en nadat hy ’n paar jaar onderwys gegee het, studeer hy aan die GUK, waarna hy as joernalis by Die Volksblad en Die Suiderstem werk. 

Hy is ’n tyd lank lektor by die Witwatersrandse Universiteit en voordat ’n sonderlinge siekte hom plattrek, redakteur van die Boerdery-Jaarblad. In 1936 verskyn Vlugtige skaduwees, sy eerste bundel verhale. Sy verdienstelikste werke is die Kleurlingverhaal Wraak en Danie se droom (1940). Laasgenoemde vergestalt die emosionele lewe van ’n plaasseun. Skagte (1942) gee ’n beeld van die mynwerkerslewe in Johannesburg. 

Hy het baie geskryf; enkele van sy ander werke is: Merke van die dae (1940), Vreemde vertes (1941), Gebroke lig (1942), Wie ’n ander jaag (1942), Brakgrond (1943), Geslote lewens (1945) en Die waters wat roep (1948).

Posted 4 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 13 Mei 1947

Prof. NJ Brümmer oorlede

Toe Nicolaas Johannes Brümmer, wat op 27 Julie 1866 op Prospect, Dordrecht, gebore is, in sy 81ste lewensjaar te sterwe kom, was hy ’n bekende hoogleraar, skrywer, kultuurleier en leraar van die NG Kerk. Gedurende sy gemeentebediening (1899 tot 1911) was hy een van die eerstes wat erns met die armblankevraagstuk maak. 

Hy onderskei hom as kultuurleier, wat ook die pen met ’n vaardige hand hanteer. As student redigeer hy in 1893 die eerste uitgawe van die latere studenteblad van Stellenbosch. Sy bekende lesing voor die studente alhier, Die Afrikanernasie, verskyn aanvanklik in die kultuurblad Goede Hoop – waarvan hy redakteur word (1914 tot 1930). Hy het deel aan die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging (1906) en word later voorsitter daarvan; die oprigting van die tydskrif Ons Taal (1907 tot 1909); die opstel van die spelreëls (deur die ATV in 1909) en die totstandkoming van die Zuid-Afrikaanse Akademie van Taal, Letteren en Kunst. 

Een en dertig jaar lank (vanaf 1911) is hy professor in Wysbegeerte, eers aan die Victoria-kollege en toe aan die Universiteit van Stellenbosch – wat hy help om tot stand te bring. Onberekenbaar is sy invloed op die honderde leraars van die NG Kerk wat in hulle voorstudie aan sy voete is.

Posted 4 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 12 Mei 1652

Eerste Nagmaalsviering in die gemeente van Kaapstad

Op hierdie dag is die eerste Nagmaal aan die Kaap gevier. Jan van Riebeeck se dagregister vertel soos volg oor hierdie geleentheid: “… is alhier in’t noch onvolmaeckte fortjen staende, door Domine Backerius, predikant per den Walvis hier gecomen, d’eerst5e predicatie gedaen, ende het avondmael des Heeren gecelebreert.” Hierdie geleentheid wys reeds daarop dat die Nagmaal vir die wordende volk altyd van groot belang sou wees. 

Die Afrikaner het altyd alles in sy vermoë gedoen om geen Nagmaalsviering mis te loop nie. Dit was, benewens ’n kerklike viering, ook ’n belangrike sosiale geleentheid, veral later in die afgesonderde binneland. Jan van Riebeeck versuim ook nie om die eerste geleentheid waar ’n predikant die jong gemeente besoek, te benut vir die bediening van die Nagmaal nie. 

Reeds hiervandaan spruit die strenge godsdienssin van die Afrikaner wat later in die binneland vir hom as rigsnoer sou dien.

Posted 4 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 11 Mei 1897

Prof. IW van der Merwe gebore

Izak Wilhelmus van der Merwe, gebore op Boplaas, Ceres, was bestem om aan die Afrikaanse taal ’n nuwe dimensie te besorg. Hy het die klankrykheid van sy taal ontgin soos geen Afrikaanse skrywer/digter voor hom nie. Boerneef was hartstogtelik verknog aan sy kontrei: Die Kro, die Kamdebo, Koorsteenberg en Katbakkies; Sikketaarskloof, Soebatsfontein, Speserykloof. En oor hierdie wêreld en sy mense skryf hy in die taal van die Koue Bokkeveld en die Kamdebo:

“net hierdie kaliewe woorde is pastersteek
en aksenawel goed
om oor en van en met hierdie turfsitkontrei
te PRAAT sosit HOORT”

Later word hy stedeling en nog later hoogleraar in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is op 2 Julie 1967 op 70-jarige ouderdom oorlede, en die Hertzog-prys vir poësie in 1968 word postuum aan hom toegeken: ’n paslike erkenning vir hierdie beskeie digter wat ons letterkunde verryk het met sy sprankelende, plooibare, eenvoudig treffende Afrikaans:

“My spel is alte nietig vir die ewigheid
klink skaars ’n rukkie hoorbaar voor die sterf …”

Posted 4 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 9 Mei 1828

Dr. Andrew Murray gebore

Hy was een van die vroomste en invloedrykste predikante wat die NG Kerk nog opgelewer het. Hy is as tienjarige na Aberdeen, Skotland gestuur vir skool- en universiteitsopleiding. Hier behaal hy die MA-graad. In 1845 gaan hy en sy broer John na die Universiteit van Utrecht met die oog op die teologiese studie vir toelating tot die bediening. 

Hy was innig gelowig en sterk Puriteins georiënteer. Dus het die liberale rigting in die Teologie in Holland hom baie geskok. Met die stryd teen die liberalisme gedurende die Sinode in 1862, was hy moderator en het in die brandpunt van die bestryding daarvan gestaan. In 1849 word hy bevestig as leraar van Bloemfontein, en hy was prakties gesproke, totdat ds. Van der Hoff in 1852 gekom het, die enigste geordende predikant onder die Boere noord van die Oranjerivier. 

Hy het vier besoeke in die Transvaal afgelê, Nagmaal bedien, troues waargeneem en kinders gedoop. In sy veelsydigheid, benewens as kerkleier (hy was vyf keer moderator van die Kaapse Sinode), het hy op twee vlakke uitgemunt. Ten eerste het hy in die onderwys belang gestel. Met behulp van ’n ruim skenking van sir George Grey, stig hy die Grey-Kollege in Bloemfontein. Daaruit het later die UOVS ontwikkel. In Kaapstad stig hy die Kaapse Onderwyskollege en in Wellington die Hugenote-Seminarium en die Sending-Instituut. Laasgenoemde het later doodgeloop toe die opleiding van sendelinge na die Kweekskool op Stellenbosch oorgeplaas is. Al hierdie inrigtings was Christelik georiënteer, en van hulle af het ’n geweldige invloed oor die hele Suid-Afrika uitgegaan. 

Ten tweede was hy die skrywer van ongeveer 250 stigtelike boeke in Hollands en Engels. Van hieruit het nie net groot invloed uitgegaan in Suid-Afrika nie, maar oor die hele wêreld. Sekere van hierdie boeke word vandag nog oor die hele wêreld gelees. Dit getuig van ’n oortuigde Calvinistiese lewensopvatting, getemper deur ’n innige geloofsbelewenis. 

Hy is op 18 Januarie 1917 in Wellington oorlede.

Posted 4 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 8 Mei 1945

Einde van die Tweede Wêreldoorlog

Op 7 Mei 1945 is ’n dokument deur lt.genl. Bedell Smith en genl. AG Jodl onderteken waarvolgens Duitsland onvoorwaardelik oorgegee het. Alle vyandelikhede sou om middernag op 8 Mei 1945 gestaak word. Hierdie ooreenkoms is op 9 Mei 1945 in Berlyn deur die Duitse Opperbevel bekragtig.

Dit het die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Europa beteken. Dit het Suid-Afrika ook direk geraak, want op 6 September 1939 het die Suid-Afrikaanse Parlement met 80 teen 67 stemme besluit om aan die Geallieerde kant teen die Spilmoondhede oorlog te verklaar. Suid-Afrika se toetrede tot die oorlog het ’n hewige politieke stryd laat losbars waarin organisasies soos die Ossewa-Brandwag en die meer ekstremistiese Stormjaers ’n belangrike rol gespeel het.

Die oorlog het die volk dus in twee kampe gejaag, maar daar was ook ’n positiewe kant, want die oorlog het ekonomiese voorspoed aan Suid-Afrika besorg, deurdat die goudprys gestyg, uitvoer toegeneem en ’n geweldige industriële ontwikkeling plaasgevind het. Daardeur het die lewenstandaard veral van die armblanke aansienlik gestyg. 

Daar was tekens dat die Nasionale opposisie gekonsolideerd geraak het en besig was om van krag tot krag te gaan, nieteenstaande die feit dat die regerende Verenigde Party uitwendig sterk voorgekom het. Tog was dit ’n verrassing toe die Nasionale Party op 26 Mei 1948 aan die bewind gekom het en Suid-Afrika daardeur op die weg na ’n republikeinse staatsvorm geplaas is, wat op 31 Mei 1961 verwesenlik sou word. 

As gevolg van die rassediskriminasie in die Duitsland van Hitler was daar dwarsdeur die wêreld ’n poging om skeidslyne tussen verskillende rasse af te breek. ’n Periode van dekolonisasie het in Afrika begin, dit wil sê, die abdikasie van die blanke en die opkoms van die swarte. In hierdie proses het die Nasionale Party se beleid van segregasie en Suid-Afrika se mandaat oor Suidwes-Afrika wêreldstrydpunte geword.

Posted 4 weeks ago

Nuusdagboek 28 Maart

Posted by Paul Joubert on Monday, March 27, 2017 Under: Ons Geskiedenis


Aborsies:
1780: Die eerste advertensie van 'n aborsiekliniek verskyn in die Morning Post in Londen.
Amerikaanse Staat:
1788: Maryland word die sewende staat van Amerika.
Baader-Meinhof:
1977: Die lede van die Baader-Meinhoff-bende, Andreas Baader, Gudrun Ensslin en Jan Raape, word lewenslange tronkstraf opgelê.
Bounty
1789: Muitery breek op die Bounty uit en kapt. William Bligh en 18 van dy bemanningslede word in 'n oop reddingsboot op die see na Java geplaas.
Cook in Australië:
1770: Kaptein James Cook land by Botany Bay, Australië, in sy skip Endeavour.
De Gaulle
1969: Gharles de Gaulle bedank as Franse President.
Egiptiese Koning
1936: Prins Faroek word koning van Egipte na die dood van koning Foe'ad.
FA-beker
1923: Die eerste sokkereindstryd om die FA-beker word in die Wembleystadion in Londen gespeel.
Jan van Riebeeck
1655: Jan van Riebeeck antwoord op die brief van die Here XVII oor die vestiging van Nederlanders in Houtbaai dat dit onwenslik sou wees om vryburgers so ver van die fort te laat woon.
Japan
1953: Selfregering word aan Japan toegeken nadat dit  na die Tweede Wêreldoorlog weggeneem is.
Kerkgebou
1805: Die Hugenote-kerk, oftewel die Paarl se Strooidakkerk, word ingewy. Dit is deur Louis Thibault ontwerp en is na die Groote Kerk in Kaapstad Suid-Afrika se oudste kerk.
Koningin begrawe
1603:
Die begrafnis van koningin Elizabeth vind plaas in die Westminster-abdy.
Kon-Tiki ekspedisie
1947: Thor Heyerdahl van Noorweë en nog 5 man begin die vlotekspedisie  na 'n eiland in die Stille Oseaan om te bewys dat die Indiane van Peru hulle in Polenesië sou kon vestig.
Massamoord
1996: Martin Bryant skiet 35 volwassenes en kinders dood en wond 17 by Port Arthur, naby Hobart in Tasmanië.
Mussolini en Minnares
1945: Landbenote skiet Benito Mussolini, Italiaanse Diktator, en sy mainnares, Clarette Petacci, en hang hulle op.
Skool in Natal
1945: Prof. J.C. van Rooy en dr. E.Greyling open die CNO bewaarskool met Afrikaans as onderiigmedium in Pietermaritzburg.
Volkebond
1919: Die Volkebond word gestig.
Vrouedirigent
1968: Sian Edwards (28) word die eerste vrou in die koninklike operahuis in Convent Gardent dirigeer.
 

In : Ons Geskiedenis 



www.myvolk.co.za Logo