Tussen Freek de Jager en sy uitsig oor die pan hang 'n spinnerak. Om sake te vererger, bly sit die groot, bruin spinnekop roerloos in die middel, soos 'n vleuelmoer wat daar vasgeroes is. Ook die wind wil nie volkome sy bondgenoot wees nie, waar wel uit die rigting wat sy teenwoordigheid in die boom nie verraai nie, maar roer die takke en trek aan die ankerdrade tot die spinnerak soos 'n oogpêrel sy korrel belemmer. Maar hy't gekom om wraak te neem vir die dood van sy seun en vertrou die wind sal namiddag gaan lê.

Dan sal hy van die spinnerak ontslae raak. Op die oomblik is die ding onbereikbaar, selfs as hy die mauser gebruik om dit af te steek, en om verder vorentoe te waag, is ook nie raadsaam nie, want hy sit op 'n droë tak. In die helder sonlig is al die ander takke om hom goudgeel van blomme en bye. Hy kan nie help om te dink aan sy huis op die koffieplantasie hier buite Nairobi nie waar bye nou om 'n menigte wit bloeisels zoem en sy oorlede seun se weduwee agter toe luike in haar donker kamer skuil teen die tropiese hitte. Freek, met soveel wraaklus in sy hart, pas nie in die boom nie.

Ook nie in die jaargety wat verlede week kom aanklop het met die eerste reëndruppels en die pan nou aanloklik groen hou nie. Dié tyd van die jaar kom maak die wolke elke dag uier bo die akasias en binnekort sal nuwe weivelde die wildroppe al verder van die pan af weglok. Hier aan die leeppunt waar die gras op die oomblik geiler is, as gevolg van die sug, skuil 'n maanhaar en sy harem. Op die panrand, half verberg agter die gras, lê een van sy wyfies binne trefafstand, maar Freek bedwing homself, want hy moet eers doodseker maak dis dieselfde wyfie wat sy seun hy hierdie pan verskeur het. Hy skrik vir 'n naaldekoker se gewirwar in die radar van die spinnerak. Die spinnekop bly sit roerloos asof hy groter slagoffers verwag, en ook nie lank nie, of 'n hotnotsgot kom doen 'n skietgebed in die buitenste kring van die spinnerak. Die twee slagoffers belemmer sy uitsig nog meer en daarom bring hy sy verkyker by om die wêreld beter te bespied. Al in die laagte langs roer daar iets pynlik stadig, tydsaam, asof die lewe nooit verbygaan nie. Hy verstel die verkykerlense; die donker kol op die sand is veilig die einste plek waar die leeuin sy seun platgetrek het. Dis 'n genade dat sy vrou nie die aaglike dood belewe het nie. Alles is hom nog so helder voor die gees. Die Masai wat die tyding gebring het. Die klompie los bene, 'n ontredderde geraamte, die verskeurde klere, die mauser wat sy seun versaak het...dieselfde een waarmee hy nou kom wraak neem. 

Hy kyk stipter deur die verkyker, maar dit bly vaag voor sy oë. Hy sukkel tot by dit reg ingestel kry en wonder toe nie meer waarom die ding oor die bloedkol so stadig beweeg nie. Die ding vervoer 'n berg en het 'n eeu en 'n half nodig om dit tot by die graf te dra. Skilpad het klaar met haar agterpote 'n gat gegrawe in die sand, haar eiers daarin gelê en slepende op die buikskild sal haar kleintjies op hulle beurt hulle vragte moet dra. Dit kom by hom op dat hy in sy kinderjare die skilpaaie dikwels as teikens gebruik het om te oefen met sy windbuks. Hy wonder of selfs dié skilpad nie nog sulke letsels dra nie. Hy sien hoe die oue se kop 'n ruspunt soek, soos die pendule van 'n horlosie wat amper afgeloop is. Hy weet dis ondraaglik warm op die sanderige grond. Aan die hotkant van die skilpad lê 'n hopie bene wat oorgebly het na gisternag se jag. Koedoe of dik-dik, dit maak vir die miere nie saak nie, hulle wil net die laaste leksel uit die murgholtes hê en laat die bene daarna in die son verbleik. Hier skuld die lewe die natuur niks meer nie. 

Hy sien die grypvoëls hoog bo hom in die lug maal. Wanneer sy nek moeg word van die krukasbeweging, volg hy hulle skaduwee grond langs tot waar hulle op 'n halfgevrete karkas toesak. Met hulle skerp bekke knip hulle die senings los en skeur die orige vleis aan bloederige repe. Alles word gulsig afgewurg. Binne 'n halfuur is net die bene oor. Dié word opgehys en uit die hoogte stukkend laat val op 'n rots. Hy sidder om te dink wat my kind sou gebeur het as hy eers later op die toneel afgekom het. Hy gryp die geweer, want hy't weer iets gehoor. Die skielike verdonkering word nie deur die wolke veroorsaak nie, maar deur 'n swerm flaminke wat voor die son uit die bloute neerstryk in die kantwater van die pan. Hulle het die sagte kleure van rose wat nie ryp gekry het nie en hulle bene tint die water ligrooi terwyl hulle rustig vis om wurms en slakke. Weer eens gryp die geweer te gou. Dis dié keer 'n troppie gemsbokke wat ongestoord gaan suip. Die skaduwees van hulle horings lê uitgestrek soos heiningpaaltjies op die sand. 

Dis die uur waarvoor hy lankal wag hier in die boom. Nou sal die leeuwyfie te voorskyn kom, geel uit haar grasskuiling onverwags op die voorste bokke toeksiet. En wanneer die verwarring oor is, sal daar 'n bok op die klam sand lê met oë wit omgedop soos lentebolle wat hulle skubblare verloor het; met die tong halfpad uit tussen die voortande, bloedloos soos 'n uitloopsel. Maar niks gebeur nie. Hulle haal die pan en staan drie-drie en suip in die son tot die rimpels deur hulle veroorsaak teen die rooi beenskubbe van die flaminke opwip. En vir die eerste keer besef Freek dat hy ook dors is na al die skroeiende ure in die akasiaboom. Die water in sy fles is heerlik koel. Die gemsbokke kom talm op hulle gemak op die droë sand en stap daarna doodsgerus deur die laagte, toe drie leeuwyfies vlammig en skielik uit die gras uit opskiet. Blitssnel spring die bokke om en hulle hoewe dreun oor die aarde. Die leeuinne is waarskynlik nie honger genoeg nie. Na die stof gaan lê het, kom die drie wyfies aangeloop water toe en dit gee Freek kans om sy slagoffer uit te ken. Dis die een wat in die middel loop, met littekens deur skerp horings ingehark op haar linkerblad. Die wraak valm in hom op en hy vind dit onmoontlik om homself te bedwing toe die groep regoor hom is, maar besef terselfdertyd dit sal nie 'n doodskoot wees as hy nou skiet nie, want die wyfie naaste aan hom vorm 'n lyfwag vir haar. 

Hy voel hy moet wraak neem hier op dieselfde plek waar sy seun se bloed die sand nog vlek. Hy wil haar in die hart tref, ook 'n verbysterende slag in die kop gee. Hy wil haar brandmerk met die koeëls en dan dwarsdeur die nag in hierdie boom wag tot die hiënas al nader en nader kom huil. Hy wil hulle bekke soos slagysters hoor toeslaan op haar ruggraat. Hy wil in die maanlig haar binnegoed om 'n streep sien uitborrel agter hulle skerp tande aan. En na die angfees wil hy wag tot die arende kom om haar bene skoon te pik. Dan wil hy helder oordag haar bene hoor kraak soos hulle dit op die klippe laat stukkend val. Daarna kan die miere deur die beenholtes tonnel agter die murgvet aan.  Die gedagte aan sy skoondogter en kleinseun in die donker kamer kom weer voor hom en hy verloor geheel en al korrel. Uit wanhopigheid steek hy met die loop van die mauser na die spinnerak wat hom pla, maar weer misluk dit. 

Wenneer hy eindelik weer duidelik kan sien en die geweer styf teen sy skouer druk, staan die verdoemde leeuwyfie afgesonderd van die ander twee. Eers hou hy die verkyker met sy linkerhand voor sy oë tot hy doodseker is: die linkeroor het 'n keep aan die spits punt en die stert 'n duik in die huidhuls omtrent 'n span van die haarklossie af. Dis waaragtiglik sy. 

Versigtig hang hy die verkyker oor die tak waarop hy sit. toe rig hy hom in. Die wyfie staan net mooi reg vir die kolskoot en tog talm Freek nog. Sy vinger verstyf op die sneller soos die kromming van 'n slot. Drie welpies het uit die gras reguit na haar toe aangehardloop gekom en aan haar uiertjie kom pomp. Toe hy blindweg 'n skoot in die lug afvuur, wip die laaste flamink met 'n padda in die hek uit die water op, vlieg met sy prooi na die ondergaande son en die pan lê glansig soos 'n brekende oog onder sy vlerkslag. 

P.I PHILANDER

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7