www.myvolk.co.za

<p>41,000 Onderwysers draai daagliks stokkies<br/></p>

41,000 Onderwysers draai daagliks stokkies

Posted 1 week ago
<p>President Steyn besoek die manne in die veld<br/></p>

President Steyn besoek die manne in die veld

Posted 1 week ago
<p>Four Faces of Ace<br/></p>

Four Faces of Ace

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 10 April 1968

JJ Fouché ingehuldig as Staatspresident

Die inhuldiging van mnr. Jacobus Johannes (Jim) Fouché as die tweede Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, het te midde van groot openbare belangstelling op 10 April 1968 in Kaapstad plaasgevind.

Die inhuldigingsplegtigheid het geskied in die Groote Kerk, waar die predikante, dr. JS Gericke, dr. PSZ Coetzee en prof. WD Maxwell voorgegaan het. Daarna het mnr. Fouché die ampseed voor hoofregter LC Steyn afgelê.

Na afloop van die inhuldiging is die nuwe Staatspresident na die Parade, waar hy deur die Eerste Minister, mnr. BJ Vorster, aan tienduisende lede van alle bevolkingsgroepe voorgestel is. In sy toespraak het mnr. Fouché gesê dat deur sy verkiesing erkenning gegee is aan die waarde van toegewyde diens van die gewone mens.

Hy het ook daarvoor gepleit dat Suid-Afrika ’n beleid van leef en laat leef volg, en dat elke bevolkingsgroep die waarborg van selfbehoud moet hê.

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 8 April 1848

Oproep tot immigrante benoorde die Grootrivier om herstel van hul vryheid

Nadat die Kaapse goewerneur, sir Harry Smith, op 3 Februarie 1848 wederregtelik en teen die sin van die meeste blanke inwoners die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier tot Britse grondgebied, t.w. die Oranjerivier-Soewereiniteit, verklaar het, het veral die republikeinsgesinde immigrante benoorde die Vetrivier besluit om hulle teen hierdie daad te verset.

Hiervoor het hulle die hulp van Andries Pretorius, die bekende Voortrekkerleier, ingeroep, wat toe aan die Magaliesberg geboer het. Dit was hy wat aan Smith gesê het: “Hier vlug ons van die Britse gesag en waarheen ons wil, neem u alles in besit, waar moet ons heen? U sal daardeur die Emigrante-Boere tot twee weë dwing, nl. om hul wettig gekoopte land te verdedig, of dieper die wildernis in te gaan.”

Tot die laaste uitweg was Pretorius en sy volgelinge nie meer bereid nie, en op grond van hierdie versetgees het Pretorius op 8 April 1848, “eene Algemene Oproeping” aan alle mense gerig “om ons wettige eygendom, welk ons goed en den bloet van mans, frouwens en kinderen heef gekos, weer om te vragen …, (want) sie gij niet dat gij UE niet kond vry trekken nog vlugten, maar neemt God in UE harten en dan zweert in UE handen en verdedig UE reg en UE vrijheid welk aan alle schepselen op den aardbodem is geschonken.”

Posted 1 week ago

Afrikaanse Kortverhale: Die dag toe hulle ‘n Paasgodin op Langebaan gekies het

Eintlik was dit nie die seisoen vir sulke dinge nie, want die duine was soggens nat van die dou en die seemis het tot laat nog tussen die eilande gehang. Langs die kus was die koelte van die herfs reeds voelbaar. Die gees van groei was nie meer in die lug nie. En van oudsher wag die gode op warmer klimaatstoestande voordat hul die ys breek vir ‘n herverskyning.

Maar dit was Pase en die Christene van die Swartland het saamgetrek langs die Saldanha-meer. Dit was langnaweek en hul Heiland (wie se geboorte hul ook hier gevier het met tradisionele deurdrenktheid en enkele verdrinkings) is gekruisig en begrawe, maar sou weer (volgens die Boek) opstaan op die derde dag. En dit, immers, is tog vooruitsig en rede vir groot vreugde.  Met jong wyn en gedans moes daar dus gevier word. En met die verkiesing van 'n Paasgodin: tradisioneel die vrugbaarste onder die skones wat die seën sou dra en die saad vir die nuwe lewe.

Onder ingeligtes is gefluister dat die aspirante reeds die vorige middag aangeland het - behoorlik gekamoefleer in klere wat hul goddelikheid verberg. Elkeen wou die aand alleen deurbring in haar kamer: die liggaam voorberei op die beproewinge wat voorlê. Sommige van hul het die ritueel geken uit vorige feeste, ander kuste. Maar daar is ook altyd dié wat vir die eerste keer probeer - die ene opgewondenheid en sugte: net soos elke hardertjie van die strandmeer uitbeur see toe, net toe, haai toe. By almal sluimer die hunkering in die bloed: die drang om gekruisig te word, neergelé en bedek te word tot die sterre verskiet en 'n duisternis hul oorval. almal droom van 'n engel wat die graf sal oopmaak met 'n heerlike opstanding van die vlees.

Die woonwapark was vol. Die Christene het ingekruip ini elke beskutte holte, onder elke skaduboom, in elke leë kamer of ongekooide skuur. eie proviand is saamgebring, in oorvloed, sonder vertroue in 'n vermeerdering van brode of wanindrukke in verband met vis. Veral die wyn was genoeg: dit kon straks gebeur dat die water water bly.

Die aand vantevore het die jong mans begin drink en toe hulle nog half nugter was, in die strate begin loop en die motors voorgegkeer - net om naand te sê, gemaak snaaks op Engels - soos hulle gemaak het toe hulle nog Maties was. En hul vrouens het gelag vir die gekkery en die hand-om-die-lyf-weer-jonk-wees-tyd wat amper verby was.

Laat die nag het van die jong manne op die sand gelê en huil omdat hulle hul god verloor het agter die wit duine waarheen hulle die bewende maagde gelei het vir die wyding. So versteurd was hulle van wyn en van weemoed dat hulle nie kon loop nie. Hulle kon maar net op hul elmboë leun en bulk van narigheid in hulle onmag: hul broeke benat en bevuil. en die maagde het bewoë gaan slaap met lampe wat hoopvol brand vir die god wat gesterf het en seker eers weer na drie dae tekens van ontwaking sou toon.

Die ou mans het maar net eenstryk deur gedrink. Hul geloof in 'n opstanding wat wonderbaarlik is, het lank reeds gekwyn tot niks. 'n Nuwe bruilof, of selfs 'n avondmaal, was hul nie meer gegun nie. Ouder gewoonte steek hul dan maar 'n dop totdat die donker en die vaak hul oorval.

Op die dag dan waarvan ek skryf, het dié wat daartoe in staat was, vroeg opgestaan en voorberei: gewas, geskeer, gegrimeer en ingesmeer, maar skamel aangetrek om te pas by die plek en die geleentheid. En afgesit na die hotel op die rotse langs die see. Vroegtydig.

Teen elfuur het dit begin stoom tussen die opgewonde en saamgeperste lywe op die terras. Dorstige mans het bier na bier gedrink en meer en meer begeer. Vrouens het boonste kledingstukke begin uitrek vir vryer perspirasie en beter vatplek vir die son en vir die oë. En organiseerders het hul hande gevryf in afwagting op die winste as die werklike losbandigheid eers begin.

Om twalfwuur het daar 'n helikopter oor die see verskyn. Waarvandaan? Ou Langebaners het beterweterig gesê: “Hier kom die Bassontjies. Almal het hul nekke opwaarts gerek: die stolp, die stolp, wie was in die stolp - seker kleintyd voorberei op die gedate dat engele neerdaal uit die hemel. Maar die landing van die naaldekoker, perdeby, gevlerkte steker, was maar net 'n teken dat die ander ongevlerktes moes verskyn - dramaties op die afgesproke oomblik. Om die swembad, voor die beoordelaars, het hulle verby geswaai in hulle dun en min kledingstukkies. Sommige het los jakkies oor kaal skouers - skild waaronder formidabele wapens eers strategies vertoon en daarna weer verberg is in 'n professionele spel van wegkruipertjie en loer en soek en stilstaan en gevang word. Op en af en heen en weer. Almal het lang bene op steltskoene. Heen en weer en op en af. En rooi lippe en wit tande wat lag en wellustigheid belowe.

Om eenuur het die beoordelaars hoofde bymekaar gesit en begin fluister. Sommige het radeloos maatbande uitgehaal en gemeet: heupe, dye, die swelling van die borste - kopskuddend. Hoe kan die vrugbaarheid tog bepaal word? die vrou van een van die regters het hand kom bysit met 'n storie van 'n droom waarin die wenner aan haar geopenbaar is. Maar dit wou die regbank nie aanvaar nie. Die skare het gejuig en raad gegee. Swetende mans het gejubel en geen twyfel oor hul gunsteling gelaat nie. En totaal weggevoer het andersins kalmes palmtakke afgeskeur en geswaai. almal het gevoel die ding moet nou na 'n kant toe.

Om kart voor twee het die regters gunstelinge aangekeer verhoog toe. En die skare het gegil: Kroon haar! Kroon haar! En die mans het nader gedrom en gedruk, nader om van anderby te kyk en stuitige dinge te sê. En hul vrouens het heimlik gevoel dat hulle hier verstoot word.

Eindelik om twee-uur het die hoofregter na vore getree vir die finale daad met die verkosene wat bruin en glansend in die son gesit het met haar bewende boesem en oë vol verwagting. En terwyl die hekse van Skandinawië op hulle besemstokke na eilande vlieg om met die duiwel te kopuleer, die heilige sonvoël sy rooi eier lê in die dal tussen ronde heuwels, ou Parysenaars hoopvol sipreskerkhowe besoek, Griekse ortodoksers die Paaskers aansteek in donker tempels, sy dun vlam die siesoene splyt, bakkers in Londen wit deegkruise rol, insteek in die geurende oonde, opgeleefde Amerikaanse miljoenêrs in tennisskoene en donkerbrille die herlewenis voller maak uit die oorlopende kasregisters en die Pous oor alles sy seën uistspreek met bleek hande, het hy haar gekroon met die groen en goue kroon van Paasgodinne.

'n Ou tante, rustende op die agterste gestoelte van haar swaar verrekte lyf, het weemoedig gelimlag oor die verrukte vertoon van vreugde - wetende van blomtyd as die koeke dik geswel is, soet, vol heuning en vol jongby, maar ook van die bitter, arm maande as die koningin sterf, die bye wegtrek en die neste stil en droog is.    

M.M. Walters                                                                                                                  

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 7 April 1861

“Nuwe Kerk” in Pietermaritzburg ingewy

Op die Sondagoggend is die “Nuwe Kerk” van die Nederduits Gereformeerde gemeente Pietermaritzburg in ’n gees van nederige, diepe dankbaarheid ingewy. Dit is gebou op die halwe erf van Langmarkstraat 34.

Ds. P Huet was toe predikant van die gemeente, en verskeie hooggeplaastes, soos die luitenant-goewerneur, die hoofregter en die sekretaris van naturellesake, het saam met die gemeente die inwydingsplegtigheid bygewoon. Dit was die tweede kerkgebou van die gemeente en is opgerig onmiddellik langs die eerste, die Geloftekerk, wat tans die Voortrekkermuseum is. Die twee geboue het min of meer dieselfde getal sitplekke gehad, maar die nuwe gebou het nodig geword omdat, soos dr. HE Faure – predikant van die gemeente in 1855 – op 18 Julie van daardie jaar aan die regering verklaar het, “the one at present in use is altogether in a state of dilapidation.”

Die oprigting van die “Nuwe Kerk” was vir die gemeente ’n besondere prestasie. Die mense was arm, en met groot moeite is die nodige geld gevind deur middel van kollektelyste en lenings en deur die verkoop van kerkgrond in die distrik. Vir Afrikaners van Pietermaritzburg in die besonder en Natal in die algemeen was die gebou baie jare lank ’n geestelike, en kulturele, swaartepunt.

Onder sommige mense het die indruk posgevat dat die “Nuwe Kerk” die eintlike Geloftekerk is. Die moet waarskynlik daaraan toegeskrywe word dat hierdie tweede kerkgebou met soveel dankbaarheid en vreugde in ontvangs geneem is; en ook omdat, nadat die eerste gebou voltooi was, daar al gou die gedagte ontstaan het om, wanneer meer geld beskikbaar is, ’n nuwe kerkgebou op te rig – wat toe in werklikheid die “Nuwe Kerk” was. Hierdie indruk is egter nie korrek nie.

Die eerste gebou, die huidige Voortrekkermuseum, is die ware Kerk van die Gelofte. Afdoende bewyse hiervoor vind ons onder meer in die kollektelyste wat reeds kort na die Slag by Bloedrivier rondgeneem is om geld en voorrade vir die oprigting van die gebou in te samel. Die redakteur van De Zuid-Afrikaan, CJ Brand van Kaapstad, wat aktief met die insameling gehelp het, skryf bv. op 13 Junie 1839 aan Andries Pretorius: “Ik heb eene intekening lyst alhier geopend tot bydragen van het opbouwen des tempels, welke gy den Heere hebt beloofd.”

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 5 April 1900

Graaf G de Villebois-Mareuil sneuwel by Boshof

Graaf Georges de Villebois-Mareuil, die Franse edelman, is op 17 Maart 1900 te Kroonstad tot veggeneraal van die Boere benoem deur presidente Kruger en Steyn. Sy opdrag was om ’n legioen te stig uit die vreemdelinge wat hulle aan die kant van die Boererepublieke geskaar het. Op 24 Maart het hy met ongeveer 125 Franse en Hollanders uit Kroonstad vertrek om na Modderrivier te gaan en die spoorlyn suid van Kimberley op te blaas.

Hierdeur sou die lewensbelangrike verbindingslyn van die Britte van die Kaap na Transvaal, waarheen lord Roberts aan’t opruk was, afgesny word. Onderweg sou hy ’n nagtelike aanval op Boshof uitvoer om die dorp te ontset, waar net ’n klein Engelse garnisoen was. Voordat hy egter Boshof kon bereik, het die Engelse ’n sterk leër daar geplaas. Toe hy in die vroeë skemer van 5 April Boshof nader, was daar geen sprake van ’n aanval nie. Sowat 9 myl suid van Boshof het hy en sy manskappe in die koelte van bome gaan rus om in die donker van die aand verder te gaan.

Die Engelse is van hul skuilplek verwittig en het ’n sterk mag teen hulle uitgestuur. Vier uur lank het hy en sy manskappe dapper teenstand gebied, voordat hy dodelik gewond is.

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 4 April 1905

SAOU gestig

Gedurende die laaste dekades van die 19de eeu is daar aan die Kaap ’n taalstryd gevoer – aan die een kant die stryd van die Afrikanervolk vir gelyke regte van die volkstaal met dié van Engels en aan die ander kant die stryd onder Afrikanertaalmanne oor wat die voertaal moet wees: Patriot-Afrikaans soos voorgestaan deur die Genootskap van Regte Afrikaners of Nederlands.

In 1819 kom dr. Kollewijn in Holland met die voorstel dat Nederlands vereenvoudig moet word en hier te lande vind die gedagte ’n ywerige dissipel in dr. WJ Viljoen van die destydse Victorie Kollege en later Superintendent-Generaal van Onderwys in Kaapland. Op Dinsdag 4 April 1905, om 10h00 kom 56 persone byeen in die saal van die Hugenote-gebou in Kaapstad. Die doel van die vergadering was om die vereenvoudiging van Nederlands te bespreek sowel as “Andere punten van belang”.

Uit hierdie “andere punten van belang” is die SAOU gebore, want op voorstel van ds. FS du Toit gaan die vergadering gedurende die middag oor tot die stigting van De Suid-Afrikaanse Onderwyzerunie. Die stigting van die SAOU moet egter nie gesien word as ’n impulsiewe daad of as ’n neweproduk van die Vergadering van Taalvereenvoudiging nie. Na die Anglo-Boereoorlog wou die Afrikaner-onderwyser sy hande los hê, nie alleen om te werk vir die opheffing van die verwaarloosde Afrikanerkind nie, maar ook om gelyke regte en status vir die Afrikaner-onderwyser te verwerf.

Die belangrikste werksaamhede van die SAOU is advies aan lede in verband met omstandighede wat voortvloei uit hul diensvoorwaardes en diensomstandighede; skakeling met die Onderwysowerhede ten behoewe van onderwysers; skakeling met die Kaaplandse Onderwysdepartement oor opvoedkundige aangeleenthede; ’n wakende oog te hou oor die onderwys in die algemeen en behartig partikuliere onderwyssake; behartiging van die Afrikaanse onderwyser se belange in die besonder.

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 6 April 1856

Die dorp, Boshof, in die Vrystaat, is gestig en vernoem  na president Jacobus Nicolaas Boshoff, die tweede president van die Oranje-Vrystaat.

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 21 Maart 1881

March 21, 2019
 

In die begin...

June 23, 2018
Die Trek begin. 22 Junie 2018. 
Continue reading...
 

2018 Oesjaar (Spotprent)

February 7, 2018


Continue reading...
 

Hoërskool Overvaal en Afrikaans

January 24, 2018
Mediaverklaring – 24 Januarie 2018

“Die Afrikaanse Taalraad (ATR) verwelkom mev. Angie Motshekga, die nasionale minister van basiese onderwys, en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se rol in die “de-eskalering” van die spanning by Hoërskool Overvaal in Gauteng,” sê dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad.

Die ATR hoop die stryd oor taal sal daarmee uit die howe en strate gehou word, en dat mense mekaar eerder deur sinvolle gesprek sal vind.

“Let wel, dit ...

Continue reading...
 

Die Ellen Pakkies Storie

January 24, 2018

Die Ellen Pakkies Storie


Wanneer jy ’n stormagtige ma-seun-verhouding, dwelms en moord saamgooi, kry
jy ’n storie vol intrige, emosie en spanning, wat kykers nie net vasgenael
sal hou nie, maar ook kritici sal beïndruk. Een van die mees
opspraakwekkende moordsake in Suid-Afrika kry eersdaags lewe op die
grootskerm en is iets wat geen fliekliefhebber moet misloop nie! 

Net soos die ware verhaal waarop dit gebaseer is, het ELLEN, DIE STORIE VAN
ELLEN PAKKIES, ook reeds die rolprentwêrel...

Continue reading...
 

Spotprent: Onderwys in Gauteng in 2018

January 18, 2018

Continue reading...
 

Wat 'n Vraag? (Ken jy jou land?)

January 9, 2018

Wie was Suid-Afrika se eerste vroulike staatshoof (en tot dusver die enigste)?

Dawid
van Lill is 'n bekende vraesteller wat al sy slag op radio, televisie, in tydskrifte en op die Internet gewys het. Hy het die gewilde televisieprogram Flinkdink in 1984 en 1986 gewen. Dawid was was twaalf jaar lank programbestuurder by Punt Geselsradio. Daarna het hy besluit om van sy belangstelling in algemene kennis en feite 'n loopbaan te maak, en as inligtingsmakelaar by Think Media stel hy daagliks ...

Continue reading...
 

Ken jy my, Afrika?

January 8, 2018


Ken jy my, Afrika?

My moed plant ʼn 1652-kruis, aan die suidpunt van Afrika
en my bloed vloei Bartholomeüsnagstrepe oor die oseaan
Ek wuif die Pruise vaarwel, te voet na Amsterdam, en te skip na die Suide soos die nuwe horisonne my roep
en my Germaanse trots die Krugers en Kriges en Kleynhanse word dit wat met Duitse durf die aarde oopkloof om hoop en lewe te bring

Vanaf die kroon se eilande kom ek Iers, en Skots, en Engels hieraan, om vir sy majesteit, en later haar majesteit, se ryk...


Continue reading...
 

Dae uit ons Geskiedenis 5 Januarie 1673

January 5, 2018

Opperchirurgyn word gekielhaal

Opperchirurgyn Jan Pieterz Cortemünde het in Desember 1672 aan boord van die Deense skip, Oldenborg, in Tafelbaai aangekom. Terwyl Cortemünde en drie bemanningslede kruie gesoek het, is hulle deur Jan van Eeden, 'n plaaslike inwoner, genooi om koue melk by hom aan huis te kom geniet. Die gasvrye van Eeden het die dorstige Deense gaste egter sterk drank aangebied. Met verloop van tyd het almal, ook die gasheer en sy vrou, Lysbeth, baie vrolik geword.

Die vrolikhe...

Continue reading...
 

Spotprent Neil van Vuuren | van Vors tot Hanswors

January 4, 2018

Continue reading...
 
www.myvolk.co.za Logo