# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Bloedbroers

Die silwerkruis het ons as bloedbroers uitgewys. Voor dit was ons bloot reisgenote. Of het hy geweet? Hy was immers ouer as ek en langer bewus van die drang in ons. Ons ontmoeting op die vliegtuig is bepaal deur die feit dat ons langs mekaar gesit het, albei sonder verlede of vrae.

Hy het oor Afrika gepraat terwyl ons oor Malta se geel Bybelse landskap gesirkel het en gesê dis nou nie meer ver nie toe ons oor die aanloopbaan na die doeane stap. Hy het gesê Afrika is in sy bloed. Miskien het hy ook gesê ek en hy is bloedbroers. 

Afrika was in hom: sy woestynlug in sy skor stem, sy son en doringmerke in sy vel, sy siektes genees in sy liggaam deur die immuniteit van baie aanvalle. Ons het dit gedeel in die skemer kroegie in ons hotel en later die aand in die casino tussen die kort, donker Maltese en Britse offisiere. Selfs toe ons in 'n hansom oorgeklop-klop het Valletta toe het ons nog steeds oor Afrika gepraat. Hy het my vertel van die woestyn se mehari en sy Joodse meisie in Tripoli en gesê hy het haar en die matroos saam in die kamer doodgeskiet. Mens raak jaloers op jou eie in Afrika, het hy gesê.

Die nag was lou van die sirokko en die perd voor ons het gesweet. Die drywer het die eilandname soos ryp olywe laat val: Senglea, Vitttorosia, Cospicua, Citta Vecchia. As mens reis, is jy geneig om oorsigtelik waar te neem. Dis eers by nabetragting dat hy die hoogtepunte en gevaarpunte kan uitlig. Ek het dit meermale so meegemaak en ook daardie keer het die eiland se sandsteenkerke en die reuk van gedroogde vye in die nag by my verbygegaan. Maar later het ek daaraan gedink hoe lank gelede dit al bepaal is dat ons saam daar sou wees, nog voor die Fenicië en Hospitaalridders, ons twee saam. Tóé het ek ook geweet dat mens nooit geleenthede moet uitstel nie. 

As ek nie die volgende môre gaan swem het nie, sou ek waarskynlik nie in die hotelsaal met sy marmer beland het nie. Ek sou ook nie die uitstalling van plaaslike weefwerk en skilderye, en die groot silwerkruis in 'n nis in een van die mure gesien het nie. Op daardie oomblik het ek vergeet van die dinge van die eiland. Die silwer was 'n bietjie klam van die seelug, koud - 'n kunswerk na die motief van die Malterserkruis. Dit was vas aan 'n tydelike staalpen in die nis, geld werd in die swart tente van die Berbers.

Ons het die stof van Afrika geken op middae wanneer die hitte erger as die stilte was en blasies om die enkels gemaak het van die sweet. Ons móés al twee gevloek het in daardie hitte teen die ding in ons bloed. Ek het gewonder of hy ook gesien het hoe 'n vloek tussen die sandmure van die Spaanse Sahara op loop kan gaan en tonne sand laat verskuif. Dit was nooit oor die hitte, die stilte nie. Dit sou weer vergeet word, na ons sending as ons elders was. Maar die drang sou saamgaan en die vloek tussen die sand, iets wanhopigs oor die dinge in die Landrover en die geld met die terugtog, pakke note versteek in die veilide dele van die voertuig. Oor daardie dinge het ons niks vir mekaar gesê nie, ek omdat  ek nog onervare was en bang vir wat kon gebeur as ek sou praat, hy omdat hy ervare genoeg was om te weet wat gebeur as jy praat.

In die skemer nis het ek vinnig die staalpen ondersoek. Dit kon verwyder word. Die vliegtuig sou eers die volgende oggend vertrek en ek het die hele nag voor my gehad. Dan Accra en dan die swart tente in die woestyn, later, as die ligte masjiengewere waarvoor ek in Europa was, ook aangekom het.

Hy  het tydens die middagmaal by my aangesluit. Daar was 'n harpspeelster teen die muur naby ons tafel en hy het onbeskaamd na haar gekyk. Sy het nie weggekyk nie en daarom het ek die bokvleis en rooi eilandwyn laat staan en my verskoon sodat hy en die olyfkleurige meisie alleen na mekaar kon kyk. Solank hulle in die nag saam was, kon ek alleen wees.

In Afrika was ons ook soms alleen: wanner 'n skerpioen gesteek het, diere tropsgewys deur ons toedoen uitgewis is, ons aleen in die nag was, sonder vrou. Dit was selfopgelegde alleenheid, kere wanneer ons alleen moes wees vir wat ons besig was om te doen. Laatmiddag het twee pelikane uit die rigting van die Noord-Afrikaanse kus oor die hotel gevlieg terwyl ek op die balkon gewag het op die aand. Iets van die groot vasteland het in hul verkslae gesit en ek het gewonder of hy hulle ook gesien het, hy wat so vol was van Afrika, soveel langer as ek deur sy nagte gewag het vir die reis om voort te gaan. Want wat anders het ons daar gedoen? Dit was telkens 'n reis net tot by 'n afsetplek en dan terug. 

Gelukkig was Afrika groot genoeg daarvoor. Ook om te skuil wanner dit nodig was. En God, waar het ons nie oral al geskuil nie? Een nag in die vrot modder van 'n gistende moeras met die muskiete so erg op my gesig en hande dat ek gehuil het, stil, omdat iemand treë anderkant die koorsboom gewag het vir 'n geluid. Die keer toe die polisiejeep eers na ure vertrek het. Ons het geweet van die angs van skuil in Afrika. Hy en die harpspeelster het die aand met sekerheid na mekaar gekyk. Ek was dus vry vir die nag en die swaar stuk metaal in sy vlekkerige marmernis.

Hy kon nie geweet het, nie toe al nie. Ons wat in Afrika leef, ken die dodelike spanning van die jag en uitdaging. Ons het nie die spanning wat daar tussen hom en die meisie teen die muur was, tussen ons gehad nie. Nee, hy het nie toe daarvan geweet nie, net van die meisie agter die harp.

Ek het na ete weer deur die saal gestap, verby die dowwe stuk silwer, uit in die gang met sy matte waarin Maltese roeibote geweef is, en af met die sandsteentrappe tot langs die see. Ek was alleen voordat die ander alleenheid sou kom. Langs die stil see het ek gedink aan die magdom skepe wat daarop handeldryf en hul onheilige ware wat op kamele en in Landrovers oor die boggellandskappe van Afrika vervoer is.

Ons moet al twee gevloek het, hét gevloek onder die son van die land wat ons help vernietig het. Of het hy nie? Ek het tot laat langs die see gestap en toe in my kamer gaan lê en rus. En wag. Met die wag het herinneringe gekom: die gille swart vroue wat voor rebellesoldate uitgejaag en neergeskiet word, die tjankgeluide van honde en kaal kinders tussen lyke en leë doppies, krakende vlamme waar 'n dorpie uitbrand. God, hoe skuldig was ons nie. 

Teen twee-uur was dit laagwater oor die nagsee. Ek het afgegaan na die  saal en die groot deure agter my toegemaak. In die donker het ek die nis gevind.

Dit was leeg en die staalpen uitgetrek. Mens het soms te laat aangekom. Partykeer was daar niks, ander kere...Maar mens raak gewoond aan vinnige verotting in die bos en die aasdiere se netheid. En, daar is altyd weer 'n volgende keer. Mens gaan altyd weer terug, soos diere na hul suipplekke.

Maar vir die silwerkruis sou daar nie 'n volgende keer wees nie. Daar sou nie silwer in die swart tente wees nie, nie oorbelle en armbande en silwer in 'n bruin danseres se naeltjie nie. Iemand anders was voor my, soos hulle in Afrika ook soms voor my was. Ek het gewonder hoe lank mens in Afrika moes wees om eerste daar te wees. 

In die donker saal het ek die reuk van nat gangreen gekry. Ons moes vroeg ontbyt eet om betyds met die hotel se bussie by die lughawe te kom. Hy het gesê dat dit darem nou die laaste skof is. Die dag was blou soos die eiers van die groot reiers in die soutpanne van Afrika, skoon blou. Dit het my getref hoe ook en nie kon wag om terug te wees in Afrika nie.

By die doeane het hy my gevra om sy reissak 'n oomblik te dra. Ek moes geweet het, voor hy dit anderkant die hokkie weer by my geneem het, dat hy langer as ek in Afrika geleef het. 

Henk Rall

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7