# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

 
SA Topsites ::

Blikaspaai

Die doel van die spel is basies dieselfde as wegkruipertjie.  Bepaal vooraf 'n bof, gewoonlik 'n sirkel op die grond getrek.  Plaas dan 'n blikkie wat klippies in het in die bof.  Terwyl die speler wat aan is met sy oĆ« toe tot honderd tel (gewoonlik sit hy binne die sirkel) kruip die ander spelers weg.  Sodra hy die telling voltooi het, begin hy soek.  Die soeker skree die naam van die persoon wat hy sien uit (byvoorbeeld Piet) en voeg by 'Blikaspaai vir Piet agter die boom!'.  Hy hardloop dan terug na die bof en skop die blik weg en soek haastig 'n wegkruipplek terwyl die speler wat gevind is, die blik moet gaan optel en terugneem na die bof voordat hy begin soek.  Wegkruipers kan natuurlik ook die blik wegskop, wat die soeker dan eers moet gaan haal en in die bof terugplaas voordat hy weer begin soek.  Elke keer as die blik weggeskop word, skreeu die skopper 'Blikaspaai' wat dan aan die ander spelers 'n aanduiding gee dat hulle beter wegkruipplekke kan gaan soek.  Die wegkruiper wat deur die soeker gevind is kan ook probeer om die bof voor die soeker te bereik en die blik weg te skop.  Slaag hy daarin, moet hy hardloop en weer gaan wegkruip. Die spel moet binne 'n afgebakende gebied gespeel word, en die blik moet nie so weggeskop word dat dit onmoontlik is om dit te kry nie.