# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Bill se Opoffering

Bill was net besig om by die agterdeur uit te glip om met sy  maats te gaan speel, toe hy 'n bekende stem na hom hoor roep.

"Bill, kom gou hier, ek het jou nodig."  Dit was Moeder!

Daar het 'n suur trek op Bill se gesig gekom, want hy wou nie op daardie oomblik "nodig gehê" wees nie.

"Ja, Moeder, wat is dit?" het hy gesê.

"Ag, Bill," het Moeder gesê, "Ek het skoon vergeet dat ek vanmiddag 'n afspraak met die haarkapper het, en ek kan Baba nie saamneem nie. Ek het geprobeer om iemand te kry om na haar te kyk terwyl ek weg is, maar almal is te besig. Ek sal baie bly wees as jy haar net hierdie keer sal oppas totdat ek terugkom."

"Ag, Moeder, maar dis vreeslik," het Bill baie ontevrede gesê. "Ek wou nou saam met die ander seuns gaan swem; dis 'n hele week dat ek laas met hulle saamgegaan het."

"Ek weet, Bill" het Moeder gesê, "dis 'n groot guns wat ek jou vra, en ek sal baie bly wees as jy dit vir my sal doen."

"Wat wil Moeder hê dat ek met die kind moet doen? Moet ek haar in die kinderwaentjie uitneem?"

"Nee," het Moeder gesê, "Daar sal niks te doen wees nie; jy moet maar net byderhand wees om te sien dat sy niks oorkom nie. Ek sal haar kos gee en aantrek voor ek gaan, sodat sy heeltemal soet sal bly totdat ek weer terug is. Moontlik sal sy die hele tyd slaap."

"Nou goed dan," het Bill met 'n swaar sug gesê, "ek sal seker maar moet."

Arme Bill! Dit was vir hom baie swaar om by die huis te blyl. Hy het baie van sy klein sussie gehou, maar om die hele middag by die huis te bly om haar op te pas, was heeltemal 'n ander saak. En dan nog, 'n seun wil mos nie graag babas oppas nie!

Tien minute later was moeder weg, en Bill was alleen met die baba. Hy het in die gemakstoel gaan sit om te lees, maar al wat hy in die boek kon sien was 'n swemgat waarin 'n klomp seuns baljaar.

Maar Bill het nie te lank daar op die stoel gesit en droom van die swemgat nie. Soos die ongeluk dit wou hê, was Baba nog nie mooi aan die slaap toe moeder die deur agter haar toegetrek het nie. Skielik het die kind begin huil!

Bill het dit nie verwag nie. Daardie item was nie op die program nie. Moeder het gesê dat die kind sou slaap, maar dit was nou nie die geval nie. Hou wou eers uitgaan en sy Moeder terugroep, maar dit was ook al te laat daarvoor.

Sy sussie het al harder gehuil.

"Hou op met daardie lawaai!" het Bill nors gesê. "Wat wil jy hê?"

Maar Baba het al harder gehuil. Bill het na die bedjie gegaan en na haar gestaan en kyk. Die kind het baie miserabel gelyk.

"Ek sal haar seker moet optel," het hy gesê. Hy het haar opgetel en in sy arms gehou, en dadelik was sy stil.

"O, is dit jou plan?" het Bill gesê terwyl hy haar dadelik weer neersit. Maar sy het nog skaars gelê of sy het weer begin huil, en baie erger hierdie skoot. Bill het haar weer opgetel, en dadelik was sy weer stil. Toe hy haar neersit, was dit weer die ou storie oor. "Nou, ja," het Bill toe gesê, "kom ons gaan op die stoel sit en kyk hoe dit werk."

Bill het toe op die gemakstoel gaan sit met sy sussie op sy skoot. Nou was sy baie tevrede, en sy het met hom gespeel en sy hare getrek. Sy het so gespeel dat Bill net moes vashou dat sy nie val nie. Hulle het so lekker gespeel dat hy byna die hele swemmery vergeet het.

Skielik was Baba, stil, en toe Bill weer sien was sy vas aan die slaap. Sy het so hulpeloos en onskuldig gelyk daar op sy skoot dat Bill haar stilletjies 'n soen gegee het! Moontlik as sy groot is, sal sy nog meer van hom hou het Bill gedink.

Bill was nou nie meer so ontevrede nie. Miskien sou die ander seuns ook so 'n klein sussie wil hê, maar hulle sal dit natuurlik nooit laat blyk nie.

Bill het vir 'n lang ruk so gesit met sy sussie aan die slaap in sy arms. Toe het sy skielik weer wakker geskrik.

Die baba wou net weer huil, toe Bill iemand by die deur hoor, en daar het Moeder ingestap gekom, en was Bill nie bly nie!

"Bill," het Moeder uitgeroep, "hoe mooi lyk julle twee daar op die stoel. Was Baba die hele middag so soet?"

"Ja," het Bill gesê, "ons het lekker gespeel; maar neem haar gou, Moeder," het hy gesê terwyl hy haar vir sy Moeder gehou het, "toe vat haar gou."

Moeder het haar geneem, en nie 'n minuut te gou nie.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell