Afrikanerhart - Die Trekpad van 'n Nasie

Bewaar in die Storms

Dit was 'n baie warm en bedompige aand, en almal het moeg en afgemat gevoel. Toe Moeder vir klein Jessie sê om bed toe te gaan, was sy vir 'n wonder maar te bly. Toe die lig egter afgeslaan was, het sy 'n bietjie bang gevoel, want daar in die verte het sy die donderweer gehoor, en so nou en dan was daar flitse weerlig.

Jessie het glad nie van storms gehou nie, en daarom het sy haar ogies dig toe gemaak en Jesus gevra om hulle in die huis te bewaar.

Toe het die reën saggies begin val. Onder die gereent het sy aan die slaap geraak. Hoe lank sy geslaap het, het sy nie geweet nie; dit moes 'n hele paar uur gewees het, maar vir haar was dit soos 'n paar minute. Iets het haar wakker gemaak: dit was haar Moeder se stem, en daar was vrees in die stem. 

"Jessie, Jessie, staan gou op!" het Moeder gesê terwyl sy haar skud. Toe Jessie wakker was, het sy 'n vreeslike gedreun gehoor - sy het nog nooit so iets gehoor nie. Dit was 'n gedreun soos baie donderslae in een.

Jessie was nou vreeslik bang. "O, Moeder, wat makeer? Wat is dit?" het sy uitgeroep.

"Dit 'n tornado, en dis al byna op ons," het Moeder gesê. "Ons moet bid. Ek sal Pappie ook wakker maak om saam met ons te bid."

Toe Pappie wakker was, het hy dadelik die gevaar besef. Hulle het dadelik by Jessie se bedjie gekniel - een aan elke kant van die katel, met Jessie nog in die bed. Hulle het geluide gehoor soos van vensters en dinge wat breek, want die tornado het die huis getref. "Liewe Jesus, bewaar ons tog," het een van hulle begin bid.

Toe het hulle 'n harde slag gehoor - dit was die bure se huis wat deur die wind verbreek is. Daar was weer 'n harde slag - dit was die huis aan die oorkant van die straat. "O Here, bewaar ons tog!"

So het die Vader en Moeder gebid, met hulle arms oor Jessie se hoof. Maar bokant daardie arms was daar nog sterker en liefdevoller arms - naamlik die ewige arms van God. Toe dit begin lig word daardie môre was daar 'n toneel van verskriklike verwoesting; huise is vergruis, en bome is uit die grond geruk. Al die huise in die omtrek was verwoes, behalwe net een - die huis waarin Jessie en Moeder en Vader gebid het.

Vandag bedreig 'n vreeslike storm die hele wêreld, en baie mense is bang omdat hulle die storm hoor kom, maar Jesus wil nie hê dat ons bang moet wees nie. Hy wil hê dat ons Hom met ons hele hart moet vertrou. Al gebeur daar ook wat, sal Hy ons bewaar, en ons moet glo dat Hy op Sy eie tyd die goed oor die kwaad sal laat seëvier. Hy fluister die volgende beloftes aan ons: "Hy wat in die skuilplek van die Allerghoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige, ...Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, of vir die pyl wat bedags vlieg nie...Die Allerhoogste het jy jou beskudding gemaak. Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie." (Ps. 91: 1-10).

Hy verseker ons dat Sy ewige arms onder ons is - arms van liefde wat onder ons en oor ons is, net soos die arms van die Vader en Moeder wat oor Jessie was. Wanneer die storm losbreek, sal Jesus nie sy beloftes vergeet nie. Laat ons nie vergeet om te bid en altyd te bid nie.

Wanneer daardie storm verby is, sal daar vrede - heerlike, ewige vrede - heers; en dan sal ons besef hoedat alles wat Jesus doen, wel gedaan is.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell