# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Ben se Lojaliteit

Aan die onderent van die grasperk, waar die bome begin, het Margie se speelhuisie gestaan. Haar Vader het dit spesiaal vir haar opgerig. Sy was op haar gelukkigste wanneer sy en Ben alleen daarin kon speel.

Ben is haar hond natuurlik - 'n pragtige skaaphond wat sy vyfjarige nooi baie mooi opgepas het. Hulle het heerlik saamgespeel, en Ben het gedurig waggehou oor Margie.

Eendag, terwyl Margie weer deur die tuin geloop het na haar huisie, het sy 'n vreemde ratelgeluid gehoor - iets wat sy nog nooit voorheen gehoor het nie; sy het omgekyk om te sien wat dit was. Toe het sy weer aangestap; maar skielik het sy weer die geluid gehoor, hierdie keer baie naby.

Doodverskrik het Margie huis toe gehardloop. "Moeder!, Moder!," het sy geskreeu, "kom gou! Ben is in 'n geveg gewikkel."

Moeder het daarheen gehardloop en het gou gesien wat aan die gang is. Ben het 'n ratelslang beetgehad, en daar het hulle rondgerol; dit was vreeslik om die geveg te sien. Op daardie oomblik het Vader op die toneel verskyn met 'n skoffelpik, en hy het die slang met die pik begin kap vir al wat hy werd is. Eindelik was die geveg verby, en die slang het doodgelê.

Toe het Vader vir Ben in sy arms opgetel om hom te ondersoek. Hy het drie bytwonde gehad, twee aan sy bek, en een op sy kop.

"Hy kan self sorg vir die bytplekke aan sy bek," het Vader gesê, "maar ek is besorg oor die een aan sy kop, want hy sal daardie wond nie kan lek nie."

Uitgeput het die arme Ben daar gelê, besig om die twee wonde aan sy bek te lek. Baie gou het sy kop begin opswel; dit het al groter geword totdat dit later nie meer na 'n hond se kop gelyk het nie.

Vader het hom weer ondersoek; Margie was by hom, en sy het baie gehuil.

"Sal hy weer gesond word, Pappie?" het sy gevra. Nadat Vader met sy ondersoek klaar was, het hy gesê: "Daar is nie veel hoop vir hom nie. As Jesus nie iets spesiaal vir hom doen nie, is ek bevrees dat hy gou dood sal wees."

Margie het in die huis ingehardloop. Sy het langs haar bedjie gaan neerkniel en tot die Here gebid. "Liewe Jesus," het sy gebid, "arme Ben wou my beskerm, en die slegte slang het hom gebyt, en nou is hy baie siek. Pappie sê dat hy sal doodgaan as iets nie gou gedoen word nie. Doen asseblief gou iets vir hom, want ek wil nie hê dat hy moet doodgaan nie."

'n Rukkie later het Margie vir Ben water geneem om te drink. Hy het nog gelewe, en die swelsel het gesak.

"Kom kyk gou, Pappie!" het sy geskreeu, "Ben word beter. Regtig, hy word beter. Kom kyk!"

Vader het gaan kyk, en hy kon sy oë nie glo nie. Ben was beter, en binne 'n week het hy volkome herstel.

Margie het aan my gesê, dat sy sedert daardie tyd - en dit is jare al - nog nooit getwyfel het dat Jesus haar gebed verhoor het nie.

Ek glo ook vas dat Hy haar verhoor het; en julle?

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell