# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Barbara se Talent

Moeder! het Barbara opgewonde geroep, terwyl sy die eetkamer binnestorm en in 'n gemakstoel neersak, "Ek moet geld verdien - dit is baie dringend."

"My goeiste! wat makeer die kind nou," het Moeder verbaas gesê.

"Ja, ek moet geld verdien," het Barbara met klem gesê. "Die saak is baie dringend, ek moet so gou moontlik geld in die hande kry."

Moeder het baie ernstig gelyk.

"Waarvoor?" het sy gevra.

"Wel," het Barbara verduidelik, "Meneer Walters, die nuwe superintendent, het ons in die Sabbatskool vertel dat as ons nie binne twee weke £50 vir die sending gee nie, sal Meneer James dadelik uit Indië teruggeroep moet word."

"Maar  ons het hom dan net onlangs daarheen gestuur," het Moeder gesê.

"Ek weet: dit is juis waar die moeilikheid lê," het Barbara gesê. "Meneer Walters het gesê dat almal gemeen het dat daar genoeg geld was om hom daar te hou. Maar daar is nie. Iets het verkeerd geloop, het hy gesê, en die Sendingraad is baie kort aan geld. As ons nie die £50 binne twee weke kan bybring nie, sal Meneer James moet terugkom."

"Dit klink baie ernstig," het Moeder gesê. "Maar Barbara, ons kan nooit £50 in twee weke byeenbring nie."

"Nee, alleen sal ons dit nie kan doen nie; maar elke klas het belowe om £5 te gee, en elkeen in die klas 15/-."

"Het jy ook belowe om 15/- te gee, Barbara?" het Moeder ontsteld gevra. "Natuurlik het ek," het Barbara gesê. "Ek kon niks anders doen nie, kon ek? En dit is waarom ek geld moet verdien. Hoe sal ek dit kan doen, Moeder?"

"Dis alles goed en wel vir jou om geld te belowe," het Moeder gesê, "maar ek het niks om vir jou te gee nie, al sou jy ook hoe vir my werk. En jy weet dat Pappie maar deesdae baie min verdien."

"Ek weet," het Barbara gesê, met trane in haar ogies, "maar daar moet tog 'n manier wees vir my om geld te verdien, want ek kan my belofte nie breek nie; ek het my woord gegee."

Toe het Barbara begin huil.

"Toe maar," het Moeder gesê, "ons sal wel 'n uitweg vind; maar jy het 'n groot ding onderneem."

"Maar ek wou so graag help," het Barbara gesê.

"Ja, ek weet," het Moeder gesê, terwyl sy Barbara lilefkoos en troos. "Laat ons oor die saak dink, en sien wat gedoen kan word."

Daardie aand by die huisgodsdiens het Moeder die gelykenis van die talente gelees. Onderwyl Moeder gelees het, het Barbara se belangstelling al groter geword. In haar verbeelding het sy gesien hoe die man met die vyf talente handel dryf en nog vyf talente win om aan sy Koning te gee. Sy het gesien hoe die man met die twee talente hulle vermeerder het tot vier. En sy het ook gesien hoe die man wat die een talent ontvang het, dit in die grond begrawe, sodat hy niks - glad niks - gehad het om aan die Here te gee by Sy wederkoms nie.

Dit het haar in 'n baie ernstige stemming gebring. "Wat hinder jou nou, Barbara?" het Moeder gevra, terwyl sy die Bybel toemaak. "O, ek voel net soos daardie man met die een talent, wat niks daarmee verdien het nie. Daar is darem hierdie verskil, ek het nie eens een talent nie."

"Wel, Barbara, ek het nie geweet dat dit jou so sou ontstel nie. En jy het talente, baie ook."

"Nee, ek het nie; ek het niks nie. Ek beteken niks en sal nooit geld kan verdien nie."

"Maar, Barbara, moenie so praat nie. Jy het ten minste een talent waarvan ek weet, en die Here sal jou help om dit tot verheerliking van Sy Naam te gebruik."

"Ek is seker ek het nie," het Barbara beslis gesê.

"Het jy dan jou stem vergeet?" het  Moeder geantwoord. "Jy kan so mooi sing wanneer jy lus het. Miskien kan jy daardie geld verdien deur vir Jesus te sing."

"Wie, ek?" het Barbara gevra. "Hoe kan ek?" Niemand sal wil luister na 'n ou dogtertjie soos ek nie." "Ek is nie so seker daarvan nie," het Moeder gesê. "Dit lyk of jy vergeet het dat Kersfees baie naby is, en dat mense dan na die sang van kinders sal luister - veral as hulle mooi en met eerbied sing."

"Bedoel Moeder dat ek Kersliedere moet sing voor die mense se huise?"

"Wel, nie jy alleen nie. Maar ek het 'n plan. Daar is Richard met sy viool, en Bessie, sy kan ook sing. Die drie van julle behoort dit reg te kry. Laat ons in elk geval oor die saak dink."

Daar het nou sommer weer nuwe hoop in Barbara se hartjie ontbrand. Dit het vir haar moontlik gelyk om tog daardie 15/- te verdien wat sy in die Sabbatskool belowe het.

Die volgende dag het hulle Moeder se plan oor en weer bespreek, en daardie aand het die drie kinders geoefen terwyl Moeder hulle op die klavier begelei het. Sommer gou kon hulle 'n hele paar Kersliedere sing, en dit het hulle baie gretig gemaak om uit te gaan en te sien wat hulle kan doen.

Twee aande later is hulle ook weg, en hulle het dit vreeslik geniet! Barbara het gesing soos nog nooit tevore nie. Sy het gevoel dat sy haar een talent vir Jesus gebruik. Die mense het hulle vensters oopgemaak om te  luister na die helder stemmetjie wat hulle oor die aandlug gehoor het. Richard het baie mooi op sy viool begelei, en Bessie het ook gehelp. Sy het by die huise gaan aanklop en vertel dat hulle besig was om geld in te samel sodat dit nie nodig wal wees om hulle sendeling uit Indië terug te roep nie. Sy het so vriendelik geglimlag dat die mense nie kon help om iets te gee nie. By elke huis het sy iets gekry. Een dame het 'n trippens gegee, 'n ander een 'n sikspens, en een ou oom het sommer 'n hele sjieling uit sy broeksak gehaal.

Toe hulle eindelik tuiskom, was hulle so opgewonde en gelukkig dat Moeder byna nie geweet het wat om met hulle te maak nie. Toe hulle die geld tel het hulle op 'n paar pennies na 5/- gehad.

"Ons sal nog drie of vier aande moet uitgaan, en ek is seker dat ons meer geld sal kry as wat ek belowe het."

"Is dit nie wonderlik nie," het Moeder gesê. Ek het die Here gebid om julle vanaand te seën, en Hy het. Daardie een talent is darem nie so sleg nie, is dit Barbara?

Barbara het net gebloos, en gesê, "Ek is baie bly dat ek my belofte sal kan hou, en tog iets ook sal hê om aan die Here te gee."

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell