# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

As U my hand vashou

Daar was in daardie tyd sowat driehonderd kinders op die skip - driehonderd seuns en dogters met hulle glimlaggende gesiggies, maar diep daar binne was hulle hartjies baie seer.

Julle sien, almal daardie kinders het hulle Vaders en Moeders vaarwel gesê, miskien om hulle nooit weer te sien tot eers na die oorlog nie. 

Natuurlik het al daardie kinders besluit om dapper te wees; en dit was ook die rede waarom hulle so opgeruimd gelyk het; maar hulle gedagtes was tuis by hulle ouers wat hulle agtergelaat het, en by hulle boeties en sussies en troeteldiertjies - almal dinge wat hulle aan die huis gebind het. 

En nou was hulle besig om die land te verlaat wat hulle so lief het; hulle sou na 'n vreemde land gaan, maar daar sou vriende wees om hulle te verwelkom mits hulle natuurlik gelukkig genoeg is om veilig anderkant te kom. 

Maar die groot vraag is of hulle veilig anderkant sou aanland. 'n Groot skip met 'n vrag kinders was net 'n rukkie tevore gekelder, en van die kinders het verdrink ten spyte van heldhaftige pogings van die bemanning om hulle te red. Die vyandelike duikbote het die see baie onveilig gemaak, en ook die vliegtuie. Maar die kinders het belowe om dapper te wees al gebeur ook wat. 

Op die eerste dag van die reis moes al die passasiers, die kinders ook, op dek in gelid gaan staan sodat aan hulle vertel kon word wat om te doen in geval van nood. Die driehonderd kinders het voor gestaan; agter hulle was die vroue; en agter die vroue die mans. 

Toe hulle almal op dek staan, van die oudste tot die jongste, het een van die skeepsoffisiere alles omtrent die reddingsbote verduidelik, en die mense is aangesê na watter bote hulle moes gaan in geval die skip getorpedeer word. Toe het hy verduidelik hoe hulle aan die vlotte moes vashou, en eindelik het hy 'n reddingsgordel geneem en hulle gewys hoe om dit aan te sit.

Hy het beklemtoon hoe belangrik dit was om die gordels reg vas te maak. Hy het alles vir hulle gedemonstreer,  hoe om die gordel oor die kop te sit sodat dit die kop bo water kan hou in die see. 

Onder die honderde mense op dek was klein Tommie. Hy was maar ses jaar oud, en feitelik nog te jonk om te weet waaroor die skeepsoffisier gepraat het. Onder al daardie mense op die skip het hy niemand geken nie, en hy het baie, baie eensaam gevoel. As hy maar net weer sy moeder kon sien - net vir een minuut!

Tommie het stip na die skeepsoffisier, die man met die baie goue strepe en die goue knope, gekyk. Wat praat hy alles daar?

"As hierdie skip getorpedeer word - ons hoop dit sal nie gebeur nie - dan moet al julle kinders wat hier staan dadelik na daardie reddingsboot gaan." Dit het vir Tommie gelyk of die man met die goue knope reguit na hom gewys het; hy het toe na die reddingsboot gekyk en gewonder waarom hy hulle in so 'n klein skuitjie moes klim. Dit het so onveilig gelyk, en so klein vergeleke met die groot skip. 

"En as daar geen tyd is om in die reddingsboot te klim nie," het die groot man met die blink, goue knope gesê, "moet elkeen 'n reddingsgordel gryp en in die see spring."

"In die see spring!" het Tommie gedink, "maar dit sal vreeslik wees."

Op daardie oomblik het die skip gekantel, en toe het Tommie die groot see gesien, en dit het so koud en onvriendelik gelyk dat hy gesidder het, en hy het ook baie bang geword. 

"Bedoel hy regtig dat ek oorboord in die see moet spring?" het hy in sy enigheid gesê; hy het glad nie van die idee gehou nie. Hy was ook te bang om ander te vra, want hulle mag dink dat hy 'n bangbroek is, en hy het sy Moeder belowe dat hy dapper sou wees. Eindelik het die skeepsoffisier gesê: "Wel, dis genoeg vir vandag, maar onthou om julle reddingsgordels aan te hou totdat ons uit die gevaarsone is," en daarmee het hy hulle verdaag soos 'n klas op skool.

Sommige van die mense is na hulle kajuite, en ander het na die eetsalon gegaan. Skielik het Tommie beef dat hy alleen daar agtergebly het. Hy het eers rondgekyk of niemand hom sien nie, en toe het hy 'n reddingsgordel optel en stil daarmee die trap afgaan. Omdat hy nie geweet het wat om te doen nie, het hy op die onderste trap gaan sit, endaar het hy alleen gewag, met sy arm deur sy reddingsgordel. 

Hoe lank hy daar gesit het, weet hy nie, maar eindelik het 'n man gekom wat met hom gepraat het. Tommie het hom erken as een van die onderwysers wat aan boord was om te help met die kinders. "Hallo, Tommie!" het hy gesê. "Wat doen jy hier so alleen?"

Tommie het hom meewaardig aanstaar, en hy het so ongelukkig gelyk.

"Meneer, hoe sit 'n mens die ding aan?" het hy gevra.

"Kom, ek sal jou wys," het die onderwyser vriendelik gesê. "Maak eers so, sien jy? Dis glad nie so moeilik soos 'n mens dink nie."

"Ja, ek sien," het Tommie gesê, "en baie dankie. Maar meneer ek wil tog nie in die see spring nie." Daar het trane in die onderwyser se oë gekom, maar hy wou nie vir Tommie laat sien hoe hy gevoel het nie, want hy moet ook dapper wees. "Maar jy sal nie in die see hoef te spring nie," het hy opgeruimd gesê. "Alles sal goed gaan, en jy sal nie in die see hoef te spring nie."

"Maar ek sal nie in die see kan spring nie," het Tommie gesê.

"Wel, Tommie," het die onderwyser gesê, "niemand van ons wil in die see spring nie. Maar as jy moet inspring Tommie, weet ek dat jy 'n dapper seun sal wees." Tommie het vir 'n rukkie stilgebly en gedink. Toe het hy baie ernstig gesê: "Wel, ek sal belowe om dapper te wees as-as-as u sal belowe om my hand vas te hou!"

Die onderwyser het belowe om dit te doen; hy het vir Tommie totsiens gesê, en verder gegaan. Ek is bly om julle te kan sê dat dit nie nodig was om Tommie se handjie vas te hou nie, want die skip het veilig anderkant gekom. Dit was nie nodig vir Tommie om in die see te spring nie, en die onderwyser se belofte aan hom het dus verval. Daardie driehonderd kinders het veilig by die vriendelike kus van Amerika aangekom.

Die herinnering aan Tommie se moed en geloof is vandag nog vir ons 'n seën, want as daardie klein seuntjie van ses jaar gewillig was om in die see te spring as die onderwyser sy hand vashou, kan ons dan nie ook moedig en dapper en gelowig wees wanneer sake met ons verkeerd loop nie? Wanneer ons iets moet doen wat onaangenaam en gevaarlik lyk, sal ons dan nie opkyk na die Groot Onderwyser daarbo en aan Hom sê nie; "Ek sal belowe om dapper te wees en U sal belowe om my hand vas te hou." En Jesus sal ons hand vashou, daarvan kan ons verseker wees. 

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell