# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Anatomieles

Die lig val gloeiend wit oor die ronde kruine van hul koppe, reg in die oopgesaagde, oopgesperde borsholte van die liggaam. Dit is so warm dat die groepie mans kort-kort die sweet van hul voorkoppe en uit hul oë moet vee en dan hul hande teen hul sye vryf, maar sonder om regtig van die gevoel van taai klamheid ontslae te raak. 

Hulle weet dat dit die swartpers klonte bloed in die kom van die oopgebreekte ribbes is wat hulle so laat voel, maar Beske se stem bly egalig, afgemete en selfs koel. 

"Dit is die longkwabbe," sê hy, "linkerlong, regterlong." Hy tel die twee slap, wigvormige lobbe, persierigblou, effens kollerig en slymerig glad, een-een op en laat dit tussen die ribbes terugval. "Agter die bruingrys vlies sit die hart," sê hy, "na dié ding sal ons nou-nou kyk!" Hy druk 'n seningrige laag opsy en 'n reusagtige rooibruin slak lê rustig ingepas bo die sagte ligroos bult van die maag en die kronkelende derms. "Dis die lewer," sê hy onverskillig en druk met sy voorvinger 'n duik in die meegewende knol.

Sy hande gryp skielik en 'n kronkelderm span soos 'n dik, elastiese gomlastiektou in sy hand. Hy grawe dieper en ruk in die bloederigheid. Sy voorarm is rooinat en swart drade bloed klou aan die fyn, goue hare vas. Hy beur sy regterhand met die lem ook in onder die skommelende maagsak, saag met sy elmboog en ruk 'n rondrige, bruinpers niertjie in die helder lig in. Hy string die derms uit tussen die swart dye. 

"Ek het dié klein skelm vergeet, dis die galblaas!" Hy draai 'n sakkie wat soos 'n kondoom vol diepgroen water lyk, in die rondte, wen die string op en sny dit met een vinnige haal van die blink lem deur. Hy hou die oop kant versigtig met duim en voorvinger toe en druk die groen sakkie tussen die oop grynsende tande in. "Die lewe is maar bitter, né?" sê hy. Die dun vloeistof spoel oor die ken waarop die bloed reeds bruin opskilfer. Die druppel soos rondgeslypte toermalyne waarin die son blits in die lang, roeserige baardhare. 

Sy hande begin al vinniger beweeg in die helder lig. Sy stem dikteer die name soos hy die organe losruk uit die rustige lêplekke; die pers milt, die vurk van die lugpype, die strot en die hart met sy wit wolke vet en vingerende are. Uiteindelik kom hy regop, vee die nat rooi lem van die bajonet in die gras skoon en kyk na sy lang, mooi hande in die skroeiende son. Hy hy kyk baie aandagtig na sy hande asof dit iets heeltemal nuut vir hom is, asof dit iemand anders se hande is. 

Die rivier is glad en blinkwit (tussen die bome) soos die skerp staal van die bajojonetlem. Hulle hang die geslagte aan 'n dik tak op. Sy ingewande hang voor sy stowwerige knieë af oor sy stewels tot op die lang, malse gras.

"Wat het van sy ballas geword?" vra een van die soldate. "Hou jy hulle vir 'n soewenier, Beske?" 

"Ek weet nie," sê hy ingedagte. "Hy het so te kere gegaan."

"God! Die lewe is maar bitter," sê die soldaat en grinnik. Hy tel die galblaas op wat tussen die tande uitgeval het. Hy prop dit terug. 

"Of stem jy nou skielik nie saam nie, bliksem!" sê hy en hy spoeg, maar sy mond word nie leeg nie. 

P. J. Haasbroek

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7