# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Al weer die Dam

In Johnnie se tuin was daar 'n mooi dam met waterlelies en goudvissies daarin. Daar was 'n brug oor die dam, en daar was 'n kunsmatige waterval waaroor die water gevloei het wanneer Pappie die water aangedraai het - dit het hy gewoonlik gedoen wanneer daar besoekers was.

Die omgewing was beplant met struike, en dit het daardie deel van die tuin baie mooi gemaak. Die dammetjie het so onskuldig gelyk dat 'n mens nie sou verwag  het dat seuns en dogters daar in die moeilikheid sou kom nie.

Natuurlik was die dam nie so diep dat iemand daarin kon verdrink nie, maar daar is ander dinge wat  met kinders kan gebeur wat naby 'n dam speel.

Om die waarheid te sê, het daar alreeds so baie dinge by daardie dam gebeur dat Moeder 'n reël gemaak het dat kinders nie daar mag speel sonder haar spesiale toestemming nie.

Nog daardie oggend het sy gesê, "nee" toe Johnnie om toestemming gevra het om daar te speel. "Al jou mooipraatjies sal niks help nie, jy mag nie vandag daar speel nie," het sy beslis gesê. "Jou klere is nog skaars droog van nou die dag se inval. En wat meer is, jy weet mos dat mevrou Norman en Mary ons vandag kom besoek."

"Kom Mary vandag?"

"Ja," het Moeder gesê.

"Wel, ek is baie bly, want ons sal lekker kan speel."

"Maar julle gaan nie naby die dam speel nie," het Moeder gesê, "want jy het jou beste klere aan."

"Goed, Moeder," het Johnnie en Joan albei gesê. Maar ten spyte van die kinders se beloftes, het alles nie goed afgeloop nie, want Mary was 'n baie woelige  mensie. Toe sy die dam sien, het sy opgewonde uitgeroep, "Wat 'n mooi dammetjie, kom ons gaan daar speel!"

Johnnie se bootjie het daar vasgemeer gelê, en Mary het sommer reguit daarheen gehardloop. Johnnie het haar gevolg, met Joan agterna - hulle het albei hul beste klere aangehad.

Toe hulle by die dam kom, was Mary al op haar knieë en sy het geprobeer om die bootjie by te kom. Sy wou dit 'n goeie stoot gee sodat dit oor die dammetjie kon seil.

"Dis 'n baie mooi bootjie," het sy gesê, "ons moet daarmee speel."

"Ek sal dit vir jou uithaal," het Johnnie gesê, en hy het met 'n stok nadergekom - hy het heeltemal vergeet wat sy Moeder net 'n rukkie tevore aan hom gesê het.

"Toe maar," het Mary gesê, "ek kan dit self bykom, jy sal sien."

Johnnie het gesien - baie meer as wat hy verwag het - want in haar poging om die bootjie by te kom, het sy te ver oorgeleun met die gevolg dat sy haar balans verloor het en plat in die water te lande gekom het! Daar was 'n plas-geluid!

Sy was heeltemal sopnat - haar klere, skoene, hare en alles. Sy het natuurlik nie in die water bly lê nie, maar sy was lank genoeg daarin. En Johnnie, in sy haas om haar te help, het self ingetuimel!

Die twee het soos twee nat hoenders gelyk; die water het van hulle afgestroom. Hulle skoene was vol water, en daar was 'n gor-gor-geluid toe hulle verslae huis toe stap. Julle moes Moeder se gesig gesien het toe hulle daar aankom, want hulle het vreeslik gelyk!

Toe het die uitrekkery begin. Hulle klere het aan hulle vasgesit asof dit deel van hulle vel was. Toe hulle klere eindelik uit was, moes dit gewas en drooggemaak word, en Moeder moes vir hulle droë klere soek om aan te trek. Terwyl hulle nog besig was om aan te trek, is daar 'n gil in die tuin gehoor. "O lieweland dis Joan!" het Moeder uitgeroep. "Daar het iets met haar gebeur."

Daar het ook.

Toe hulle in die tuin kom, was Joan besig om uit die dammetjie te sukkel! Sy was nat van kop tot tone, en haar mooi rokkie het vreeslik gelyk. Sy wou 'n waterlelie pluk, en het ook ingetuimel soos Mary.

Niemand sou seker die uitdrukking op Moeder se gesig op daardie oomblik kon beskryf het nie! Na mevrou Norman en Mary se vertrek - Mary in sommige van Johnnie se klere - het Moeder met   Johnnie en Joan afgereken. "As ek sê bly weg van die dam af," het sy gesê - en daar was 'n klap geluid. "Dan bedoel ek bly weg van die dam af, dit maak nie saak wie kom kuier en wie ook wat sê nie."

Op daardie punt was Johnnie en Joan nooit weer ongehoorsaam nie, en julle kan seker raai waarom.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell