# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

A.G. Visser (1878 - 1929) was 'n bekende, vroeë Afrikaanse digter. Hy was algemeen bekend as die "sanger van die Suikerbosrand."  

Andries Gerhardus Visser is op 1 Maart 1878 op die plaas Zaaifontein, in die distrik van Fraserburg, Kaapkolonie, gebore. 'n Groot droogte het sy ouers van hulle plaas in Carnarvon afgedryf, en hy is in n tentjie op die werf van die plaashuis, onder die skaduwee van 'n peerboom gebore. Hy gaan skool in Daljosafat, (twee ander bekende skrywers, Totius en D.F. Malherbe is in dié tyd ook saam met hom op skool), ontvang opleiding in onderwys aan die Normaalkollege te Kaapstad, en studeer as geneesheer in Edinburg, Skotland. vanaf 1901 tot 1906. Hy werk as dokter te Carnarvon (1907-1909), Steytlerville (1909-1916) en Heidelberg (1916 – 1929). Hy word groot vriende met die digter Eugene Marais in die Heidelberg-jare. Hy trou twee maal, in 1913 met Lettie Conradie, oorlede in 1920; en in 1927 met Marie de Villiers. Hy sterf op 10 Junie 1929. 

Visser publiseer vroeg reeds; op agtien, in Ons Kleintji. Sy werk word egter gesien nie as deel van die Eerste Taalbeweging nie, maar as die einde van die poësie vir die periode tot 1930. Hy wen twee maal die Hertzogprys vir letterkunde: vir beide sy eerste en tweede digbundels. Sy verse is kenmerkend eenvoudig en sangerig. Hy dryf die spot met die Afrikaner en sy gewoontes, maar met 'n goeie hart. Hy maak gebruik van tradisionele versvorms soos die rondeel; van intertekstuele verwysings; en tegnieke soos die omdop van idiome,  puntdigte, epigramme en woordspelings.

Rosa Rosarum

A.G. Visser

A.G. Visser is die gewildste Afrikaanse digter wat daar nog was. Deur sy vlot berymings, blymoedigheid en beminlike persoonlikheid het die volk saam met hom gelag, saam getreur oor die dood van sy eerste vrou en saam met hom weer verlief geraak. Die feit dat hy 'n groot kindervriend en vaderlander was, het nog verder tot sy gewildheid bygedra. 

In die begin is hy dan ook oorskat, en as reaksie hierop later weer onderskat; maar vandag kan ons rustiger oor hom oordeel. Visser bly in die eerste plek bekend om sy geestigheid. Self erken hy: "ek het toe besluit dat my talent humoristies was en dat ek my nie moes waag aan wat Celliers en die andere soveel beter gedoen het nie." 

Sy voorloper is Langenhoven, maar Langenhoven se geestigheid vind die beste uiting in sy prosa. Visser spot met Afrikaanse toestande en gebruike, met algemeen-menslike gebreke, met homself...maar altyd bly hy beminlik. Hy maak gebruik van oordrywings, onverwagte sienings en situasies, onverwagte rymwoorde, en in sy kort verse veral van woordspelings. Sy geestighied vind ook uiting in sy bekoorlike kinderverse en in sy minnedigte. 

Wat die minnedig betref, is Keet sy beskeie voorloper; maar Visser se bydrae is groter en belangriker. Voor hom skryf Wassenaar, Toon van der Heever en Leipoldt ook 'n aantal minneverse. In vergelyking met hulle werk skryf Visser 'n "populêre" liefdesvers. Vir die Afrikaanse volk is hy eintlik die eerste (en in 'n sekere opsig die enigste!) minnedigter....troebadoer. Die gevoel bly algemeen, die toon gemeensaam en die versbeweging meganies - selde vind 'n mens die persoonlike nuanse. Hy gebruik graag die tradisionele simbole van die liefde, soos byvoorbeeld die roos.  Ons kan sy liefdesverse in drie groepe indeel: In een groep besing hy sy tweede beminde 'Rosa Rosarum'; sy sang is weelderig en juigend of droewig-soet oor haar kilheid. 

In 'n ander groep treur hy oor sy eerste vrou 'Die Roos en Die Swarte Osse'. Hierdie verse is veral elegies van toon. 

Die derde groep is 'n algemene liefdesvers, dikwels geestig; in dié opsig vind hy voorlopers in Pulvermacher en F.W. Reitz. Visser het reeds geestig geskryf gedurende die Eerste Beweging; maar dit is eers in die jare twintig dat sy liefdeslewe sy eintlike digterskap uitlok. Hy het baie liedere vertaal, in musiek en sang belang gestel - en die eienskappe  van die lied in sy gedigte nagestreef. In sy werk vind 'n mens baie invloede. 

Gedigte het in 1925 verskyn en kort daarna al sy ander werk: Rose van Herinnering (1927), Die Purper Iris (1930) en Uit ons Prille Jeug (1930). Sy versamelde gedigte is in 1981 uitgegee. Die volledigste beeld van sy lewe kry ons in P.H. Langenhoven se biografie: Sanger van die Suikerbosrand (1950). Dr. P.J. Nienaber het van die belangrikste studies oor hom versamel: A.G Visser, Digter en Sanger (1950); raadpleeg ook die handleidings van Pienaar, Dekker en Antonissen; verder M.S.B. Kritzinger: Letterkundige Kragte; F.E.J. Malherbe: Humor in die Algemeen en sy Uiting in die Afrikaanse Letterkunde (1932), P. du P. Grobler in Verkenning en N.P. van Wyk Louw se Opstelle oor Ons Ouer Digters. Opperman reageer op Louw se opvattings in Naaldekoker.

Andries Gerhardus Visser is op 1 Maart 1878 in die distrik Fraserburg gebore. Saam met Totius en D.F. Malherbe was hy op die Hugenote-Gedenkskool in Daljosafat; toe is hy na die Normaalkollege, Kaapstad. Hy was 'n ruk lank onderwyser op Carnarvon, maar weens moeilikheid met die Engelse militêre owerheid tydens die Tweede Vryheidsoorlog besluit hy om in Skotland in die medisyne te gaan studeer. 

In Europa reis hy baie rond. Hy keer terug as arts na Carnarvon (1907), vestig hom later op Steytlerville (1909) en vanaf 1916 op Heidelberg, Transvaal. 

In 1913 trou hy met mej. Lettie Conradie; sy is in 1920 oorlede. In 1927 trou hy met mej. Marie de Villiers, op wie reeds in 1923 verlief geraak het. Geurende hierdie tydperk het hy ernstig begin dig; Eugene Marais het hom ontdek en aangemoedig. Op 10 Junie 1929 is hy onverwags oorlede. Baie digters het rouliede oor hom geskryf: Langenhoven, Leipoldt, Haarhoff, J.D. du Plessis, C.M van den Heever. 

- D.J Opperman