# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Aardrykskundeles

Hulle kom sluip-sluip deur die kreupelhout op die sang van die kinders af sonder om presies te kyk waar hulle trap, want baie oefening het hulle voete bekend gemaak met die bos. Hulle dra hulle wapens soos klere en beduie vir mekaar met handgebare terwyl hulle af en toe glimlag en met troebel oë na die hoek van die son en die wegval van die vlak vallei na die spruit aan die noordekant kyk.


Uit die gras en struike tree hulle in 'n sirkel vorentoe om die harde, warm oopte waarin die skooltjie en 'n groot maroelaboom staan. Die generaal skree en die kinders hou op met die melodie of hulle skielik deur meneer Enias Mukunga stilgemaak is. Die generaal wag hom in met sy bene wyd geplant terwyl die son sy skaduwee swart ets op die hardgespeelde grond.

Meneer Enias Mukunga se oë is amper rustig, maar hy hou sy hande plegtig styf voor sy withemp-bors. Hy praat sonder om te pleit oor die kinders wat altyd in die son speel waar hulle nou staan, oor die groot, oop land en die kartelinge van riviere. Dit klink soos 'n aardrykskundeles vir die kinders wat saamhok in die hoek van die klaskamer en aan mekaar vasklou.

Die generaal wys na die kinders en twee manne draf met hulle bosuniforms (hulle lyk soos tiers met bruin en groen kolle) en met hulle karabyne in die swetende koelte van die geboutjie in en dryf die kinders by die deur uit. Die wyse waarop die kinders by die deur uitstroom laat dit soos speeltyd lyk vir meneer Enias Mukunga wat nog steeds praat oor die land of hy 'n aardrykskundeles gee.

Die generaal lig sy wapen en vuur 'n kort, blaffende sarsie sodat meneer Enias Mukunga op die hardgespeelde grond val en mt sy voete lustig skop in die grond van sy aardrykskundelesse.

P. J. Haasbroek

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7