# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Aandenking vir 'n vry man

"Hoe kom mens uit dié plek uit?" vra die nuweling. Hy is jonk en sterk. Dit voel  vir hom of sy skouers vel-af skaaf teen die mure, of hy nie kan gedraai kry sonder om êrens te skuur nie. Elke bevel van 'n bewaarder voer hy uit eers nadat hy die man reguit in die oë gekyk het. Langs hom staan nog 'n man in gevangenisdrag. Hy lag wit wasem, hande in die sakke teen die koue. "Die mure is hoog, hé?" Hy lag weer. "n Man doen maar sy stretch, dan huis toe."

 Allies leun teen die rooibaksteenmuur van die selkompleks; hy het sy een voet in die gras geplant en die ander hoog opgetrek as buffer tussen sy boud en die koue muur. "Ek praat van voor die tyd, man," sê hy driftig. "Dis nie vir jou nie, Allies", maan Bill. Hy weet waarvan hy praat, want hy het voorheen vonnisse uitgedien en het self een keer probeer ontsnap, maar is gou weer gevang. Toe het hy nie parool gekry nie. "Nee, mate, doen jou tyd."

"Ek bly nie hier nie, no ways. Dis maklik vir jou om te praat met drie jaar wat jy oor het, maar weet jy hoe lank is twin-tig fffokken jare? Op my ouderdom? Bill trippel rond om sy bene warm te kry. Hy vryf sy hande in die koue son. Hy skud sy kop aanhoudend. "'n Mens kom reg hier, later. Jy leer om nie so teen die jare vas te kyk nie. Geduld, my mate. Hier kan jy ook vir jou 'n lewe maak. Dis tog amper soos buite: goeie mense, slegtes, vriende, 'n job. Die reëls is nie so lekker nie, ek weet, maar buite is daar ook mos wette, nes hier." 

"Hoe kan jy dit 'n lewe noem? Ek wil hier uit, man!" Hy moet hom bedwing om Bill nie voor die bors te gryp nie. Hy staan 'n ruk doodstil en sê dan: "Ek kan nie, Bill, sowaar as die Here." Sonder dat hy wil, begin sy oë traan. Hy snuif 'n slag en spoeg langs sy voete, sak op sy hurke neer. Die rook van sy sigaret draai tussen sy geel gevlekte vingers deur. Bill onthou hoe hy lank gelede in 'n ander tronk ook so gesit het. Daar is niks wat help vir dié ding nie, behalwe as jy regtig so ver kom om springbokkie te word...

Maar nee, hy durf Allies nie aanmoedig nie. Terug by die sweiswerk waarmee hy besig was voor ete bly die gedagte aan ontsnapping by Bill. Twintig jaar het Allies gekry. 'n Kwart daarvan remissie: vyftien oor. Vyf of ses daarvan parool as hy hom gedra: nege oor. Maar Allies se humeur is te kort, uit die baklei sal hy hy nooit kan bly nie. Hy sal veertig wees wanneer hy hier uitloop, of amper veertig. Hy slaan die swiesreste met die skerp hamertjie van die gloeiende lasplek af. Sy aandag is nie by die werk nie. Meet en pas, staal teen staal. Allies 'n springbokkie? Is die hoek haaks?...Knyp die nuwe sweisstaaf vas en buig hom en slaan zoemende vonke met die punt uit die staal...

Aandete in die gevangenis word vroeg genuttig en dan word die inwoners toegesluit voordat die dagskof van diens kan gaan. Allies en Bill deel hul sel met 'n stil, versigtige ou man met skrefies-oë. Die oue is die ene tatoeëermerke - sy lyf 'n trotse kerfstok van talle vonnisse. Vroeër was hy ook die tronk se meestertatoeëerder. Na die geklap van deure en slotte volg die kenmerkende stilte. 'n Klein rukkie is daar niks, en dan eers begin almal rondskuif om alles gedoen te kry voor die ligte afgeskakel word. Bill skryf 'n brief aan sy vrou. Die oue kook water vir sy tee: die elektrisiteit kom van die ligsok teen die plafon met 'n draad langs na twee skeermeslemmetjies in 'n beker water. Hy luister behoedsaam ingeval 'n bewaarder die gang afgestap sou kom en hom met die toestel vang. Wanneer hy klaar is, versteek hy die "ketel" in 'n klein skeurtjie in sy matras. 

Allies bestudeer die tralies voor die venster. Hy staan op en gaan na die deur, dié bevoel hy en gaan lê weer op sy bed, onbewus daarvan dat Bill nou en dan van sy skrywery af na hom opkyk. Bill kan nie slaap nie. Hy hoor Allies rondrol. Dis al na twaalf. "Daar's 'n ou trick wat al vir baie gewerk het," sê hy uiteindelik saggies. Allies sit regop in sy bed. "Bill?" "Ek sê daar's 'n..."

"Gaan jy my help?" val Allies hom in die rede. "Ek vertel jou net van dinge wat al gewerk het vir ander manne - ek wil nie my parool bedonner nie, mate." 

"Vertel."

Bill vertel en dié nag droom Allies van 'n nuwe lewe en hy droom van bloed en skarrelende mense in wit klere. Met die opstaan besluit hy dat hy gaan ontsnap, maar sê niks vir Bill nie. By die werk dink hy sonder ophou aan sy vryheid. Hy besluit om 'n soewenier met hom saam te neem, wat hy tot die dood to by hom sal hê. 'n Tatoeëermerk van die oue. Dit is al wat hy uit die tronk sal saamvat, belowe hy homself. Met middagete sê hy vir die oue: "Ek soek 'n prentjie vanaand. Môre moet hy sit en klaar. 'n Smart prentjie, hoor jy?" Hy loop weg voordat die man kan antwoord. Die skrefies-oë lag- hy het jare laas 'n opdrag gehad. Terwyl Bill by die deur waghou, werk die oue met die naald. Allies wou 'n vrou hê, soos die een op die ou man se rug. Maar syne moet vlerke hê. "Ek sê nog dis nie nodig dat jy nog bom toe gaan voor jy waai nie," sê Bill. "Jy gaan 'n paar dae kry vir die prentjie. Jy weet nie hoe is dit daar nie. Nét so 'n klein fokken selletjie, mate." Hy wys met die hande. "En die rations daar is nie soos jou ma s'n nie, né. Jy suffer. In elke stretch het ek al bom gedoen, behalwe dié een. A-groep en als vir die eerste keer in my lewe, mate."

"Ek het lus vir tee," sê die oue. "Maak klaar hier. Ek soek 'n smart prentjie. Dis al wat ek hier uitvat en dit moet smart wees. " Die oue werk in stilte verder. Hy wonder of Allies sy plan gaan deurvoer. Hierdie tatoeëermerk lyk vir hom na blote uitstel. Hy sê dit nie. "Ek gaan nie bom toe nie," sê Allies, "want môre gaan ek hospitaal toe." Die oue kry onmiddelik respek vir die fris man onder sy hande. Dis toe nie uitstel nie. een van sy prentjies gaan weer straat toe. "Lemmetjie?" vra hy en deur die skrefies blink sy oë van opgewondenheid. "Jip." Die oue werk ywerig en kry klaar net voor die lig afgeskakel word. Uitgelate en vrypostig tik hy Allies teen die blad. "Tjie-tjie-tjie." Allies sien hom oor omdat dit 'n spesiale geleentheid is. "Ek gaan jou mis mate," sê Bill na hy 'n rukkie in die donker gelê het. Allies het ook geheg geraak aan Bill in die paar maande. Hy antwoord nie. Hy is skielik bang vir wat hy môre moet doen - die ou-ou tegniek waarvan Bill gepraat het: die sluk van 'n skeermeslemmetjie. By die tronkhospitaal kan hulle niks vir jou doen as jy lem gesluk het nie. Dis 'n operasie in die algemene hospitaal in die stad. Daar herstel jy ook die eerste ruk met net een bewaarder wat jou oppas. Jy word aan jou katel vasgeboei en die wag sit en lees of dut of gesels met die verpleegsters totdat sy aflos kom. Wanneer jy sterk genoeg is, vang jy die wag met 'n slap riem en jy is weg. So het Bill min of meer vertel. Die moeilikste van die hele spul is glo die slukkery. 'n Uur voor hulle wakker gemaak word, is Allies op. Hy het nie meer as 'n halfuur op 'n keer aaneen geslaap nie. Die wegkom is te belangrik, hy kan nie wag om te gaan nie. Die vrees van die lemmetjie het grootliks verdwyn. Hy sal nou enigiets doen. "Gaan lê, man."

Bill draai 'n slag om. Hy het self eers in die nanag aan die slaap geraak. "Jy kan my lemmetjie kry," se die oue gul. "Gee dan. Joune ook, Bill." Hy neem die lemmetjies. "Die twee van die ketel ook, ou man." Teësinnig staan die oue die lemmetjie af. Allies wonder of dit gaan seer wees, maar onthou hoe vry hy reeds voel sedert hy besluit het om te ontsnap. "Ek het hom ook probeer sluk een keer," bely die oue skielik. "Was dit seer, ou man?" "Seer. Ja." "Het dit gewerk vir jou?"

Dit lyk of die oue spyt is dat hy uitgelap het. Hy antwoord nie. "Het dit gewerk, vra ek.?""Net my tong stukkend gesny. Die lem en my tee uitgekots voor daar goeie skade kon kom. Sommer tronkhospitaal toe." Allies bind die lemmetjies met skoenmakersgare in 'n treintjie aanmekaar, die een kort op op die ander. Hy het hulle eers elkeen geknak om die sluk te vergemaklik. "Jy gaan seker nie die hele lot sluk nie," sê Bill bekommerd. "Ek gaan seker maak. Ek wil nie die ou man se fout maak nie." "Ek dink jy moet versigtig wees." Allies het weer op sy bed gaan sit. Dit is nog donker in die sel. "Ek moet seker maak." "Maar een is genoeg, mate. Netnou is jy so siek dat jy nie eens kan wegkom nie. Dan was alles verniet. Dis 'n ruk stil voor Bill agterkom dat alles nie pluis is nie. Hy spring na Allies toe en in die effense lig wat nou deur die venster kom, sien hy die jongman sy lyf ruk. Hy sien die toutjie by sy mond uithang en besef wat Allies gedoen het. "Los die lyn," skreeu hy en gryp Allies se hande vas. "Los, mate, los die bliksemse ding."

"Wat gaan daar aan?" kom dit van die gang af. "Help hier!" Bill is nie so sterk soos Allies nie. "Help!" Die toutjie is met bloed oortrek toe Allies hom beetkry en uitruk. Die ry lemmetjies kerf aan sy slukderm en tong en bloed stroom by sy mond uit. Hy wil iets vir Bill sê, maar hy kry net reg om bloed te roggel. Sy mond vertrek asof hy wil lag. Hy is baie stil toe die meestersleutel eindelik gehaal en die seldeure oopgesluit word. 'n Ruk lank het hy erg gehoes van die bloed wat in sy lugpyp begin afloop het, maar nou ruk sy lyf nog net sporadies. Op 'n draagbaar gaan hy uit. In die sel bly die oue teleurgesteld sit. In sy hand swaai die bebloede skeermeslemmetjies aan 'n lyn. "Wat nou van my prentjie?" sê hy en kyk soos 'n kind na Bill. 

Jan van Tonder                                                                                                                             

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7